Bible Society of South Africa

Na die Woord – Dag 119

2 KONINGS 11–15, SPREUKE 7

Bybelteks(te)

Joas word koning oor Juda

(Vgl. 2 Kron. 22:10 – 24:3)

1Toe Ahasia se ma Atalia hoor haar seun is dood het sy begin om die hele koningsgeslag uit te roei. 2Jehoseba, dogter van koning Joram en suster van Ahasia, het egter vir Joas, 'n seun van Ahasia, stilletjies weggevat tussen die prinse wat doodgemaak sou word. Sy het hom en sy oppasster in 'n slaapkamer weggesteek vir Atalia, sodat hy die dood vrygespring het. 3Hy is ses jaar by Jehoseba in die huis van die Here weggesteek, en in dié tyd het Atalia die land geregeer. 4In die sewende jaar het die priester Jojada boodskappe gestuur na die Kariërs se bevelhebbers oor honderd en na dié van die hardlopers, en hulle na hom toe in die huis van die Here laat kom. Daar het hy met hulle 'n verbond gesluit. Nadat hy hulle in die huis van die Here 'n eed laat aflê het, het hy hulle die koning se seun gewys. 5Hy het hulle beveel: “'n Derde van julle, van dié wat op die sabbat kom diens doen, moet wagstaan by die wagpos van die paleis. 6'n Derde moet by die Surpoort en 'n derde by die poort agter die hardlopers wagstaan. Julle moet om die beurt by die tempel wagstaan. 7Die twee afdelings van julle wat op die sabbat van diens af gaan, moet die koning in die huis van die Here bewaak. 8Julle moet rondom die koning wees, elkeen met sy wapens in die hand. Enigeen wat in julle geledere probeer inkom, moet doodgemaak word. Bly by die koning oral waar hy gaan.”

9Die bevelhebbers oor honderd het alles gedoen wat die priester Jojada beveel het. Elkeen het sy manskappe gevat, dié wat op die sabbat diens moes doen, sowel as dié wat klaar was met hulle diens, en na die priester Jojada toe gekom. 10Daarna het die priester die spiese en die skilde wat nog aan koning Dawid behoort het en in die tempel was, aan die bevelvoerders uitgedeel. 11Die hardlopers het elkeen met sy wapen in die hand om die koning gaan staan, naby die altaar en die tempel, van die suidekant tot by die noordekant van die tempel. 12Toe het Jojada die jong koning vorentoe laat kom, hom gekroon en die koninklike volmag aan hom oorhandig. So het hulle hom koning gemaak. Hulle het hom gesalf, hande geklap en geroep: “Lank lewe die koning!”

13Atalia het die uitroepe van die hardlopers en die volk gehoor en het ook na die huis van die Here toe gegaan waar die volk bymekaar was. 14Daar sien sy toe die koning op sy plek staan soos die gebruik was, met die volksleiers en trompetblasers by hom en al die burgers van die land wat juig en trompette blaas. Toe skeur Atalia haar klere en skreeu: “Verraad, verraad!”

15Die priester Jojada beveel toe die bevelhebbers oor honderd wat in beheer van die manskappe was: “Bring haar tussen julle uit en maak elkeen dood wat agter haar aankom.”

Die priester het gesê: “Sy mag nie in die huis van die Here doodgemaak word nie.”

16Hulle het haar gegryp en haar deur die Perdepoort na die paleis toe gevat en haar daar doodgemaak. 17Toe het Jojada 'n verbond gesluit tussen die Here, die koning en die volk, dat hulle die volk van die Here sou wees. Hy het ook tussen die koning en die volk 'n verbond tot stand laat kom.

18Daarna het al die burgers van die land na die Baälstempel toe gegaan en dit verwoes. Hulle het die altare en die beelde stukkend geslaan en vir Mattan, die Baälspriester, by die altare doodgeslaan. Die priester Jojada het opsigters oor die huis van die Here aangestel. 19Hy het die bevelhebbers oor honderd, die Kariërs, die hardlopers en al die burgers van die land geneem om die koning van die huis van die Here af deur die Hardloperspoort na die paleis toe te bring. Daar het die koning op die troon gaan sit.

20Al die burgers van die land was bly. Die stad was weer rustig. Hulle het vir Atalia in die paleis doodgemaak.

21Joas was sewe jaar toe hy koning geword het.

2 KONINGS 11AFR83Maak oop in die Bybelleser

1In die sewende regeringsjaar van Jehu het Joas koning geword, en hy het veertig jaar in Jerusalem geregeer. Sy ma was Sibja, uit Berseba. 2Al die jare wat die priester Jojada sy leermeester was, het hy gedoen wat reg is in die oë van die Here. 3Hy het net nie die hoogtes verwyder nie. Die volk het voortgegaan om daar diereoffers en wierookoffers te bring.

Joas laat die tempel herstel

(Vgl. 2 Kron. 24:4-16)

4Joas het vir die priesters gesê: “Neem al die geld wat as gewyde gawes na die huis van die Here toe gebring word: die geld wat gekollekteer word, dié waarvoor elkeen persoonlik aangeslaan word en dié wat as vrywillige gawes na die huis van die Here toe gebring word. 5Die priesters moet die geld in ontvangs neem by dié wat dit bring, en die tempel daarmee herstel, oral waar daar bouvallige plekke is.”

6In die drie en twintigste regeringsjaar van koning Joas het die priesters die bouvallige plekke in die tempel nog steeds nie herstel gehad nie. 7Toe het koning Joas vir Jojada en die ander priesters ingeroep en vir hulle gevra: “Waarom herstel julle nie die bouvallige plekke in die tempel nie? Julle moenie geld aanvaar van dié wat dit bring, as julle nie daarmee vir die herstel van die bouvallige plekke betaal nie.”

8Die priesters het toe onderneem om nie langer geld van die volk te aanvaar solank hulle nie die bouvallige plekke herstel nie.

9Die priester Jojada het 'n kis gevat, 'n gat in die deksel geboor en dit langs die altaar neergesit, regs van waar 'n mens die huis van die Here binnekom. Die priesters wat by die drumpel wag gestaan het, het al die geld wat na die huis van die Here toe gebring is, daarin gegooi. 10Toe hulle sien dat daar baie geld in die kis is, het die sekretaris van die koning saam met die hoëpriester na die tempel toe gegaan en die geld wat in die huis van die Here was, in 'n sak gesit en gaan tel. 11Hulle het die afgetelde geld oorbetaal aan die werksvoormanne wat vir die huis van die Here aangestel is. Dié het dit oorbetaal aan die skrynwerkers en bouers wat die werk aan die huis van die Here moes uitvoer, 12so ook aan die messelaars en die klipkappers, om hout en gekapte klip te koop om die herstelwerk aan die huis van die Here te doen, kortom, om alle uitgawes aan die herstel van die tempel te dek. 13Daar is geen silwerbakke, skêre, komme of trompette gemaak vir die huis van die Here nie; geen silwer- of goue gereedskap is gemaak van die geld wat na die huis van die Here toe gebring is nie. 14Dit moes aan die voormanne gegee word om die huis van die Here te herstel. 15Hulle het nie die manne laat boekhou van die geld wat hulle aan hulle betaal het nie. Dit is aan die voormanne gegee wat die werk eerlik uitgevoer het. 16Die geld vir skuldoffers en sondeoffers is nie in die huis van die Here gebring nie; dit was vir die priesters bestem.

Die Arameërs trek op teen Jerusalem

17Destyds het koning Gasael van Aram na Gat toe opgeruk, dit aangeval en ingeneem. Hierna het hy na Jerusalem toe koers gekies om dit te gaan aanval. 18Koning Joas van Juda het al die gewyde gawes wat deur sy voorvaders Josafat, Joram en Ahasia, konings van Juda, gebring is, gevat en aan koning Gasael van Aram gestuur saam met sy eie gewyde gawes en al die goud wat in die skatkamers van die huis van die Here en in die paleis te vinde was. Toe het Gasael van Jerusalem af teruggetrek.

Joas se dood

(Vgl. 2 Kron. 24:17-19)

19Die ander verhale oor Joas en alles wat hy gedoen het, is opgeteken in die annale van die konings van Juda. 20Sy amptenare het teen hom in opstand gekom en teen hom saamgesweer. Hulle het vir Joas doodgemaak by Bet-Millo waar 'n mens afgaan na Silla toe. 21Dit was sy amptenare Sabad seun van Simat en Josabad seun van Somer wat hom doodgemaak het. Hy is oorlede, en hy is begrawe in die familiegraf in die Dawidstad. Sy seun Amasia het hom as koning opgevolg.

2 KONINGS 12AFR83Maak oop in die Bybelleser

Joahas koning van Israel

1In die drie en twintigste regeringsjaar van koning Joas van Juda, seun van Ahasia, het Joahas seun van Jehu in Samaria koning oor Israel geword. Hy het sewentien jaar geregeer, 2en gedoen wat verkeerd is in die oë van die Here. Hy het dieselfde sonde gedoen as wat Jerobeam seun van Nebat vir Israel laat doen het. Daarvan het hy nie afgewyk nie. 3Daarom het die Here toornig geword op Israel en hulle gedurende die regering van Joahas oorgegee in die mag van koning Gasael van Aram en in die mag van Ben-Hadad seun van Gasael. 4Joahas het die Here om genade gesmeek. Die Here het sy gebed verhoor, want die Here het opgemerk hoe wreed die koning van Aram hulle onderdruk het. 5Die Here het aan Israel 'n redder gegee sodat hulle bevry kon word uit die mag van Aram, en sodat die Israeliete weer soos vroeër in hulle eie huise kon woon. 6Ten spyte hiervan het hulle nie afgesien van die sonde wat die koningshuis van Jerobeam vir Israel laat doen het nie. Hulle het daarmee volhard. Selfs die Asjerabeeld het in Samaria bly staan. 7Koning Gasael van Aram het die leër van Joahas vernietig en soos stof vertrap. Gasael het vir Joahas geen manskappe laat oorbly nie, net vyftig ruiters, tien strydwaens en tien duisend voetsoldate.

8Die ander verhale oor Joahas en alles wat hy gedoen het, en oor sy dapperheid is opgeteken in die annale van die konings van Israel. 9Joahas is oorlede, en hulle het hom begrawe in Samaria. Sy seun Joas het hom as koning opgevolg.

Joas word koning van Israel

10In die sewe en dertigste regeringsjaar van koning Joas van Juda het Joas seun van Joahas in Samaria oor Israel koning geword. Hy het sestien jaar geregeer 11en gedoen wat verkeerd is in die oë van die Here. Hy het nie afgesien van enige van die sondes wat Jerobeam seun van Nebat vir Israel laat doen het nie; hy het daarmee volhard. 12Die ander verhale oor Joas en alles wat hy gedoen het, die dapperheid waarmee hy teen koning Amasia van Juda geveg het, is opgeteken in die annale van die konings van Israel. 13Toe Joas oorlede is, het Jerobeam op die troon gekom. Joas is in Samaria by die konings van Israel begrawe.

Die dood van Elisa

14Elisa het ernstig siek geword en op sterwe gelê. Koning Joas van Israel het hom gaan besoek en het oor hom gehuil en gesê: “My vader, my vader, u was vir Israel die strydwa met sy ruiters!”

15Elisa sê toe vir hom: “Vat jou pyl en boog.”

Die koning van Israel het dit gedoen, en toe 16sê Elisa vir hom: “Sit jou hand op die boog.”

Die koning het sy hand op die boog gesit. Elisa het toe sy eie hande op die hande van die koning gesit 17en gesê: “Maak die venster aan die oostekant oop.”

Die koning het dit oopgemaak, en Elisa het beveel: “Skiet!”

Toe skiet die koning, en Elisa sê: “'n Pyl van die Here se oorwinning, 'n pyl van oorwinning oor Aram! Jy sal Aram verpletterend verslaan in Afek.”

18Verder sê Elisa: “Vat nou die pyle.”

Die koning het hulle gevat, en Elisa sê vir hom: “Slaan teen die grond.” Die koning het drie maal geslaan en opgehou.

19Die man van God het baie kwaad geword vir die koning en gesê: “Jy moes vyf of ses keer geslaan het, dan sou jy Aram heeltemal verslaan het, maar nou sal jy Aram net drie keer verslaan.”

20Toe het Elisa gesterf, en hulle het hom begrawe.

Moabitiese bendes het elke jaar die land binnegeval. 21Toe mense op 'n keer besig was om iemand te begrawe, sien hulle skielik so 'n bende. Hulle het die man se lyk in Elisa se graf gegooi. Toe die lyk aan Elisa se bene raak, het die man lewend geword en regop gaan staan.

Joas verslaan die Arameërs

22Koning Gasael van Aram het Israel verdruk gedurende al die regeringsjare van Joahas. 23Die Here was hulle genadig en het Hom oor hulle ontferm. Hy het Hom na hulle gewend ter wille van sy verbond met Abraham, Isak en Jakob. Hy wou hulle nie vernietig nie; Hy het hulle tot nou toe nie verwerp nie.

24Koning Gasael van Aram is oorlede. Sy seun Ben-Hadad het hom as koning opgevolg. 25Joas seun van Joahas het van Ben-Hadad seun van Gasael die stede teruggewen wat Ben-Hadad in die oorlog afgevat het van Joas se pa. Drie maal het Joas vir Ben-Hadad verslaan en Israel se stede herower.

2 KONINGS 13AFR83Maak oop in die Bybelleser

Amasia word koning oor Juda

(Vgl. 2 Kron. 25:1-16)

1In die tweede regeringsjaar van koning Joas van Israel, seun van Joahas, het Amasia seun van koning Joas van Juda op die troon gekom. 2Hy was vyf en twintig toe hy koning geword het en hy het nege en twintig jaar in Jerusalem geregeer. Sy ma was Jehoaddan, uit Jerusalem. 3Hy het gedoen wat reg is in die oë van die Here, maar nie heeltemal soos sy voorvader Dawid gedoen het nie; hy het alles gedoen wat Joas, sy pa, gedoen het. 4Hy het net nie van die hoogtes ontslae geraak nie: die volk het nog diereoffers en wierookoffers gebring op die hoogtes. 5Nadat hy goed gevestig was in sy koningskap, het hy die amptenare laat doodmaak deur wie sy pa, die koning, vermoor is. 6Hy het nie die kinders van die moordenaars ook laat doodmaak nie, soos dit op bevel van die Here geskrywe staan in die wetboek van Moses: “Vaders mag nie oor die optrede van kinders en kinders nie oor die optrede van vaders doodgemaak word nie. Elkeen kan net vir sy eie sonde die doodstraf kry.”

7Hy het tien duisend Edomiete in die Soutvlakte verslaan en Sela in die oorlog verower en dit Jokteël genoem, soos dit vandag nog bekend staan.

Amasia maak oorlog teen Joas van Israel

(Vgl. 2 Kron. 25:17-24)

8Amasia het 'n boodskap gestuur na koning Joas van Israel, seun van Joahas, seun van Jehu: “Kom ons veg teen mekaar.”

9Koning Joas van Israel het vir koning Amasia van Juda terug laat weet: “Die doringbos op die Libanon laat weet vir die seder op die Libanon: ‘Laat jou dogter met my seun trou,’ en toe kom die wilde diere van die Libanon verby en trap die doringbos plat. 10Noudat jy Edom 'n groot neerlaag toegedien het, soek jy meer roem. Bly liewer by die huis. Waarom wil jy jou in die ongeluk stort en tot 'n val kom, jy en Juda saam met jou?”

11Koning Amasia van Juda het nie geluister nie. Hy het teen koning Joas van Israel opgetrek en in Bet-Semes in Juda het hulle slaags geraak. 12Juda het 'n neerlaag gely teen Israel, en die manskappe het op die vlug geslaan, elkeen na sy huis toe. 13Koning Joas van Israel het vir koning Amasia van Juda, seun van Joas seun van Ahasia, gevange geneem in Bet-Semes.

Toe Joas in Jerusalem kom, het hy 'n stuk muur van Jerusalem laat afbreek van die Efraimspoort af tot by die Hoekpoort, honderd en tagtig meter.

14Hy het al die goud en silwer gevat en al die ander goed wat hy in die huis van die Here en in die skatkamers van die paleis kon kry, en dit saam met gyselaars na Samaria toe gebring. 15Die ander verhale oor Joas en wat hy gedoen het, sy dapperheid en hoe hy teen koning Amasia van Juda geveg het, is opgeteken in die annale van die konings van Israel. 16Joas is oorlede, en hy is begrawe in Samaria by die ander konings van Israel. Sy seun Jerobeam het hom as koning opgevolg.

Die dood van Amasia

(Vgl. 2 Kron. 25:25-28)

17Koning Amasia van Juda, seun van Joas, het ná die dood van koning Joas van Israel, seun van Joahas, nog vyftien jaar geleef. 18Die ander verhale oor Amasia is opgeteken in die annale van die konings van Juda. 19Toe hulle in Jerusalem teen hom saamgesweer het, het hy na Lakis toe gevlug, maar hulle het mense agter hom aan gestuur daarheen, en hulle het hom daar doodgemaak.

20Hulle het sy lyk met perde teruggebring, en hy is begrawe in sy familiegraf in die Dawidstad. 21Die hele Judese volk het vir Asarja gevat en hom in die plek van Amasia, sy pa, koning gemaak. Hy was toe sestien jaar oud 22en het Elat herbou en onder die gesag van Juda teruggebring nadat die koning van daardie gebied dood is.

Koning Jerobeam die Tweede van Israel

23In die vyftiende regeringsjaar van koning Amasia van Juda, seun van Joas, het Jerobeam seun van koning Joas van Israel op die troon gekom. Hy het een en veertig jaar in Samaria oor Israel geregeer 24en gedoen wat verkeerd is in die oë van die Here. Hy het nie afgesien van enige van die sondes wat Jerobeam seun van Nebat vir Israel laat doen het nie. 25Hy het die grense van Israel herstel, van Lebo-Hamat af tot by die see in die Jordaanvallei. Dit was in ooreenstemming met wat die Here die God van Israel gesê het deur sy dienaar Jona seun van Amittai, die profeet uit Gat-Gefer. 26Die Here het die bittere ellende van Israel raakgesien: Israel was volkome weerloos en sonder enige helper. 27Die Here het nie gesê dat Hy die naam van Israel onder die hemel sou uitwis nie, daarom het Hy hulle deur Jerobeam seun van Joas gered.

28Die ander verhale oor Jerobeam en alles wat hy gedoen het, oor hoe dapper hy geveg het en hoe hy Damaskus en Hamat weer onder die gesag van Israel gebring het, is opgeteken in die annale van die konings van Israel.

29Jerobeam is oorlede, en sy seun Sagaria het hom as koning opgevolg.

2 KONINGS 14AFR83Maak oop in die Bybelleser

Asarja koning van Juda

(Vgl. 2 Kron. 26:1-23)

1In die sewe en twintigste regeringsjaar van koning Jerobeam van Israel het Asarja, seun van koning Amasia van Juda, op die troon gekom. 2Hy was sestien toe hy koning geword het en hy het twee en vyftig jaar in Jerusalem geregeer. Sy ma was Jekolja, uit Jerusalem. 3Hy het gedoen wat reg is in die oë van die Here en het in alles die voorbeeld van sy pa gevolg. 4Hy het net nie van die hoogtes ontslae geraak nie. Die volk het nog op die hoogtes diereoffers en wierookoffers gebring. 5Die Here het die koning met melaatsheid getref. Hy was melaats tot die dag van sy dood en het in 'n plek van afsondering gewoon. Sy seun Jotam het die paleis bestuur en oor die hele land geregeer. 6Die ander verhale oor Asarja, oor alles wat hy gedoen het, is opgeteken in die annale van die konings van Juda. 7Asarja is oorlede, en hulle het hom begrawe in die familiegraf in die Dawidstad. Sy seun Jotam het hom as koning opgevolg.

Sagaria koning van Israel

8In die ag en dertigste regeringsjaar van koning Asarja van Juda het Sagaria seun van Jerobeam oor Israel koning geword en ses maande in Samaria geregeer. 9Hy het gedoen wat verkeerd is in die oë van die Here soos sy voorvaders. Hy het nie afgesien van die sondes wat Jerobeam seun van Nebat vir Israel laat doen het nie.

10Sallum seun van Jabes het teen hom saamgesweer, hom voor die oë van die volk aangeval en doodgemaak en hom toe as koning opgevolg. 11Die ander verhale oor Sagaria is opgeteken in die annale van die konings van Israel. 12Daar was 'n uitspraak van die Here waarin Hy vir Jehu gesê het: “Jy sal seuns hê tot in die vierde geslag wat op die troon van Israel sal sit.”

So het dit ook gebeur.

Sallum koning van Israel

13Sallum seun van Jabes het koning geword in die nege en dertigste jaar van koning Ussia van Juda. Hy het 'n maand en 'n paar dae in Samaria geregeer. 14Menahem seun van Gadi het uit Tirsa getrek en in Samaria gekom, en hy het vir Sallum seun van Jabes in Samaria aangeval, hom doodgemaak en hom as koning opgevolg. 15Die ander verhale oor Sallum en die sameswering wat hy gesmee het, is opgeteken in die annale van die konings van Israel.

16Destyds het Menahem vir Tifsag aangeval. Omdat hulle nie die poorte vir hom wou oopmaak nie, het hy al die inwoners van die stad en almal uit die omgewing van Tirsa doodgemaak. Hy het al die swanger vrouens laat oopsny.

Menahem koning van Israel

17In die nege en dertigste regeringsjaar van koning Asarja van Juda het Menahem seun van Gadi koning oor Israel geword en hy het tien jaar in Samaria geregeer. 18Hy het gedoen wat verkeerd is in die oë van die Here: hy het vir die volle duur van sy regering nie afgesien van die sondes wat Jerobeam seun van Nebat vir Israel laat doen het nie. 19Toe koning Pul van Assirië teen die land opgeruk het, het Menahem vier en dertig ton silwer betaal. Pul sou hom dan ondersteun in die handhawing van sy koningskap. 20Menahem het elke burger in Israel 'n heffing opgelê om die koning van Assirië te kan betaal: vyf honderd en sewentig gram silwer per man. Toe het die koning van Assirië sy leër uit die land onttrek en teruggegaan. 21Die ander verhale oor Menahem en alles wat hy gedoen het, is opgeteken in die annale van die konings van Israel. 22Menahem is oorlede en sy seun Pekahia het hom as koning opgevolg.

Pekahia koning van Israel

23In die vyftigste regeringsjaar van koning Asarja van Juda het Pekahia seun van Menahem koning oor Israel geword en hy het twee jaar in Samaria geregeer. 24Hy het gedoen wat verkeerd is in die oë van die Here; hy het nie afgesien van die sondes wat Jerobeam seun van Nebat vir Israel laat doen het nie.

25Sy adjudant, Peka seun van Remalja, het teen hom saamgesweer en hom aangeval in die toring van die paleis in Samaria. Met die hulp van vyftig man uit Gilead het Peka vir Argob, Arje en die koning doodgemaak en hom as koning opgevolg. 26Die ander verhale oor Pekahia en alles wat hy gedoen het, is opgeteken in die annale van die konings van Israel.

Peka koning van Israel

27In die twee en vyftigste regeringsjaar van koning Asarja van Juda het Peka seun van Remalja koning oor Israel geword en hy het twintig jaar in Samaria geregeer. 28Hy het gedoen wat verkeerd is in die oë van die Here: hy het nie afgesien van die sondes wat Jerobeam seun van Nebat vir Israel laat doen het nie.

29Tydens die regering van koning Peka van Israel het koning Tiglat-Pileser van Assirië die land ingeval. Hy het Ijon, Abel-Bet-Maäka, Janoag, Kedes, Hasor, Gilead en Galilea, die hele land Naftali, ingeneem en die inwoners het hy na Assirië toe weggevoer. 30Hosea seun van Ela het teen Peka seun van Remalja saamgesweer, hom aangeval en doodgemaak en hom as koning opgevolg in die twintigste regeringsjaar van Jotam seun van Ussia. 31Die ander verhale oor Peka en alles wat hy gedoen het, is opgeteken in die annale van die konings van Israel.

Jotam koning van Juda

(Vgl. 2 Kron. 27:1-9)

32In die tweede regeringsjaar van koning Peka van Israel, seun van Remalja, het Jotam seun van koning Ussia van Juda op die troon gekom. 33Hy was vyf en twintig toe hy koning geword het en hy het sestien jaar in Jerusalem geregeer. Sy ma was Jerusa, 'n dogter van Sadok. 34Jotam het gedoen wat reg is in die oë van die Here en hy het in alles die voorbeeld van sy pa gevolg. 35Die volk het egter nie afgesien van die hoogtes nie: hulle het nog diereoffers en wierookoffers op die hoogtes gebring. Jotam het die boonste poort van die huis van die Here laat bou. 36Die ander verhale oor Jotam en wat hy gedoen het, is opgeteken in die annale van die konings van Juda.

37In daardie tyd het die Here vir die eerste keer vir koning Resin van Aram en vir Peka seun van Remalja gestuur om Juda aan te val. 38Jotam is oorlede, en hy is in die familiegraf by sy voorvaders begrawe in die Dawidstad. Sy seun Agas het hom as koning opgevolg.

2 KONINGS 15AFR83Maak oop in die Bybelleser

1Maak wat ek vir jou sê jou eie, my seun,

hou by wat ek jou voorskryf,

2maak wat ek jou voorskryf jou eie, dat jy kan lewe,

maak wat ek jou leer jou eie,

so eie soos die appel van jou oog.

3Sorg dat jy dit altyd onthou,

maak dit 'n deel van jou lewe.

4Sê vir die wysheid: “Jy is my suster,”

maak die insig familie van jou.

5Dit sal jou weghou van die slegte vrou af,

die vrou met die verleidelike praatjies.

6Ek kyk uit by my huis, by die tralievenster uit

7en ek sien mense wat nog baie moet leer;

ek merk onder hulle veral een onverstandige jongman

8wat oor die straathoek stap

en die pad na 'n vrou se huis toe kies.

9Dit is skemeraand, die nag se donker slaan toe.

10Daar kom die vrou hom tegemoet;

sy dra die klere van 'n prostituut,

sy is 'n vrou met listige planne.

11Sy is luidrugtig en uitdagend,

haar huis is te nou vir haar;

12sy maak haar ronde in die strate, op die stadspleine,

sy staan op loer by elke hoek.

13Sy gryp die jongman en soen hom,

onbeskaamd sê sy vir hom:

14“Ek moes maaltydoffers bring

en ek het vandag juis my geloftes betaal.

15Daarom het ek jou kom soek,

ek was op die uitkyk na jou en nou het ek jou gekry.

16Ek het 'n deken oor my bed gegooi,

'n deken van bont Egiptiese linne;

17ek het my bed besprinkel

met mirre, aalwyn en kaneel.

18Kom ons drink van die liefde tot die môre toe,

ons gee ons oor aan die liefdeslus.

19My man is nie tuis nie,

hy is op 'n lang reis;

20hy is weg met 'n vol beurs

en kom eers met volmaan terug.”

21So laat sy die jongman swig vir haar listigheid,

so verlei sy hom met haar gladde tong.

22Hy loop sonder weerstand agter haar aan

soos 'n bees op pad slagpale toe.

Soos 'n dwaas word hy in die strik gevang

23en netnou kloof 'n pyl sy lewer.

Soos 'n voël wat reg in 'n net in vlieg,

so is hy daarmee heen voor hy dit weet.

24Luister na my, my seun,

slaan ag op wat ek sê.

25Moet jou nie met so 'n vrou ophou nie,

moenie haar pad loop nie.

26Sy het die val van baie op haar kerfstok,

sy het al sterk manne laat ondergaan.

27In haar huis is jy op pad na die doderyk toe,

by haar is jy op pad na jou dood toe.

Bible Society of South Africav.4.18.14
VOLG ONS