1Toe koning Hiskia dit hoor, het hy ook sy klere geskeur. Hy het rouklere aangetrek en is na die huis van die Here toe. 2Daarna stuur hy die paleisbestuurder Eljakim, die staatsekretaris Sebna en die leiers van die priesters, almal in rouklere, na die profeet Jesaja seun van Amos toe. 3Hulle het vir Jesaja gesê: “So sê Hiskia: Dit is 'n dag van rou. Ons is in die moeilikheid en ons is verneder. Ons is soos vrouens wat in die kraam is, maar nie die krag daarvoor het nie. 4Miskien sal die Here u God let op die woorde van die hoofadjudant wat deur die Assiriese koning gestuur is om die lewende God te smaad, en miskien sal die Here u God hulle straf oor wat Hy moes aanhoor. Bid tog vir die klompie van ons wat nog oor is.”
5Toe koning Hiskia se amptenare by Jesaja kom, 6sê hy vir hulle: “Julle moet vir julle koning sê: So sê die Here: Moenie bang wees oor wat jy gehoor het, hoe die amptenare van die koning van Assirië My gelaster het nie. 7Ek gaan hom onrustig maak, sodat hy na sy land toe sal teruggaan wanneer hy daarvandaan 'n berig kry. Ek sal hom in sy eie land laat doodmaak.”
8Toe die hoofadjudant hoor dat die koning van Assirië weg is van Lakis af, het hy teruggegaan. Hy het die koning aangetref waar hy met 'n aanval op Libna besig was. 9Daar het die koning van Assirië berig gekry dat koning Tirhaka van Kus op pad is om hom aan te val. Die koning van Assirië stuur toe weer gesante na Hiskia toe met die boodskap: 10“Sê vir koning Hiskia van Juda: Moenie dat jou God op wie jy vertrou, jou mislei met sy versekering dat Jerusalem nie in my mag oorgegee sal word nie. 11Jy het mos gehoor hoe die konings van Assirië die een land na die ander verwoes het. Sal jý dan vrykom? 12Kon die gode van die nasies wat deur my voorgangers uitgedelg is, hulle red: Gosan, Haran, Resef, die mense van Eden in Telassar? 13Waar is die konings van Hamat en Arpad, die konings van die stede Sefarwajim, Hena en Awwa?”
14Hiskia het die briewe wat die gesante gebring het, gevat en gelees. Daarna het hy na die huis van die Here toe gegaan en die briewe voor die Here oopgesprei.
15Toe het hy tot die Here gebid:
“Here, God van Israel,
U wat oor die gerubs troon,
U alleen is God oor al die koninkryke van die aarde,
U het die hemel en die aarde gemaak.
16Hoor tog, Here, luister,
kyk tog, Here, let tog op!
“Hoor tog wat Sanherib gesê het; hy het U, die lewende God, in sy boodskap beledig! 17Dit is waar, Here, die konings van Assirië het nasies met lande en al verwoes 18en hulle gode verbrand, maar dit was nie gode nie, dit was die werk van mensehande, hout en klip; daarom is hulle vernietig. 19Here, ons God, red ons tog uit die mag van die Assiriese koning. Dan sal al die koninkryke van die aarde besef dat U, Here, alleen God is.”
20Jesaja seun van Amos het vir Hiskia 'n boodskap gestuur: “So sê die Here die God van Israel: Ek het jou gebed oor koning Sanherib van Assirië verhoor.
21“Dit is wat die Here oor Sanherib sê:
“Sion verag jou en lag jou uit,
Jerusalem kyk jou met minagting agterna.
22Vir wie het jy beledig en belaster?
Vir wie het jy geskreeu en uitgedaag?
Die Heilige van Israel!
23Deur jou gesante het jy die Here geminag toe jy gesê het:
‘Ek het met my wa teen die hoogste berge op gery,
na die toppe van die Libanon toe;
ek het sy hoogste seders afgekap, sy mooiste sipresse.
Ek het sy verste skuilhoeke binnegedring, sy digste bosse.
24Ek het na water gegrawe in ander lande en dit gedrink,
met my voetsole al die opgedamde riviere laat opdroog.’
25“So sê die Here vir jou, Sanherib: Het jy dan nie gehoor nie,
Ék het dit bewerk, lank gelede al,
van die vroegste tye af het Ek dit voorberei
en Ek het dit nóú laat gebeur:
jy moes vestingstede verwoes
en puinhope van hulle maak.
26Hulle inwoners was magteloos,
verskrik en sonder raad,
soos veldplante, soos groen gras,
soos gras op 'n huis se dak:
dit verskroei voor dit behoorlik staan.
27Of jy sit of gaan of kom, Ek weet dit,
Ek weet hoe jy teen My te kere gegaan het.
28Omdat jy dit gedoen het,
omdat Ek jou verwaande woorde moes aanhoor,
sit Ek 'n haak deur jou neus
en 'n stang tussen jou tande
en lei Ek jou terug op die pad
waarmee jy gekom het.
29“Vir jou, Hiskia, gee Ek die volgende teken: vanjaar sal julle die opslag eet en volgende jaar wat dan opslaan, maar in die jaar daarna sal julle saai en oes, wingerde plant en druiwe eet. 30Dié van Juda wat die beleg oorleef het en oorgebly het, sal weer soos plante wortel skiet en vrugte dra. 31Daar sal mense oorbly en uit Jerusalem kom, daar sal mense vry van Sionsberg af uitgaan. Daarvoor sal die onverdeelde trou van die Here sorg.
32“Daarom, so sê die Here oor die koning van Assirië: Hy sal nie in dié stad inkom nie, hy sal nie 'n pyl hier afskiet nie, nie 'n skild teen die stad optel nie, nie 'n beleëringswal daarteen opgooi nie. 33Met die pad wat hy gekom het, sal hy teruggaan en hy sal nie weer by dié stad kom nie. Dit is wat die Here sê. 34Ek sal dié stad beskut en hom red, om my ontwil en om my dienaar Dawid se ontwil.”
35Daardie nag het 'n engel van die Here gegaan en honderd vyf en tagtig duisend man in die Assiriese kamp doodgemaak. Toe die Assiriërs die môre vroeg opstaan, lê die lyke almal daar. 36Koning Sanherib van Assirië het toe kamp afgeslaan en hy is terug Nineve toe en het daar gebly. 37Terwyl hy op 'n dag in die tempel van sy god Nisrok aanbid het, het Adrammelek en Sar-Eser hom met swaarde doodgesteek. Hulle het na Ararat toe gevlug, en Sanherib se seun Esarhaddon het hom as koning opgevolg.