Bible Society of South Africa

Na die Woord – Dag 121

2 KONINGS 21–25, SPREUKE 8

Bybelteks(te)

2 KONINGS 21

Die sonde van Manasse

(Vgl. 2 Kron. 33:1-16)

1Manasse was twaalf toe hy koning geword het, en hy het vyf en vyftig jaar in Jerusalem geregeer. Sy ma was Gefsiba. 2Hy het gedoen wat verkeerd is in die oë van die Here en het die afskuwelike optrede van die heidennasies nagevolg wat deur die Here verdryf is om vir die Israeliete plek te maak.

3Hy het die hoogtes wat deur Hiskia, sy pa, verwoes is, weer opgebou, altare vir Baäl opgerig, 'n Asjerabeeld gemaak soos koning Agab van Israel gedoen het en al die hemelliggame aanbid en gedien. 4Hy het selfs afgodsaltare gebou in die huis van die Here, die plek waarvan die Here gesê het: “In Jerusalem wil Ek my Naam vestig.”

5In die twee voorhowe van die huis van die Here het hy altare vir al die hemelliggame gebou. 6Hy het sy eie seun as offer verbrand, hom besig gehou met goëlery, waarsêery en toordery, en meegedoen aan die oproep en raadpleging van geeste. Hy het baie verkeerde dinge gedoen in die oë van die Here en Hom uitgetart. 7Die Asjerabeeld wat hy laat maak het, het hy opgestel binne-in die tempel, die plek waarvan die Here vir Dawid en sy seun Salomo gesê het: “In hierdie tempel en in Jerusalem wat Ek onder al die Israelitiese stamme uitgekies het, vestig Ek my Naam vir altyd. 8As Israel alles doen wat Ek hulle beveel het, in ooreenstemming met die hele wet wat my dienaar Moses vir hulle neergelê het, sal Ek hulle voete stewig geplant hou op die grond wat Ek aan hulle voorvaders gegee het.”

9Maar hulle het nie geluister nie. Manasse het Juda die verkeerde pad laat loop, sodat hulle erger aangegaan het as die nasies wat deur die Here uitgeroei is om vir Israel plek te maak.

10Die Here het deur sy dienaars, die profete, gesê: 11“Omdat koning Manasse van Juda hierdie afskuwelike dinge gedoen het en erger aangegaan het as al die Amoriete voor sy tyd, en hy ook vir Juda laat sondig het met sy stinkende afgode, 12daarom, so sê die Here die God van Israel: Ek gaan nou rampe bring oor Jerusalem en Juda wat elkeen wat daarvan hoor, se twee ore sal laat tuit. 13Ek gaan Jerusalem met dieselfde maat meet as dié waarmee Ek Samaria en die koningshuis van Agab gemeet het; Ek gaan Jerusalem skoonvee soos 'n mens 'n skottel skoonvee en dan omkeer. 14Wat oor is van die volk wat aan My behoort, gaan Ek verwerp en hulle oorgee in die mag van hulle vyande. Hulle sal deur al hulle vyande geplunder en uitgeroei word. 15Dit sal gebeur omdat hulle gedoen het wat verkeerd is in my oë en My uitgetart het van die dag af dat hulle voorvaders uit Egipte getrek het tot vandag toe.”

16Behalwe die sonde wat Manasse Juda laat doen het, wat verkeerd was in die oë van die Here, het Manasse ook nog baie onskuldige mense laat doodmaak. Jerusalem was van hoek tot kant vol bloed.

Manasse se dood

(Vgl. 2 Kron. 33:18-20)

17Die ander verhale oor Manasse en alles wat hy gedoen het, en die sonde wat hy gedoen het, is opgeteken in die annale van die konings van Juda.

18Manasse is oorlede, en hy is begrawe in die tuin by sy paleis, die tuin van Ussa. Sy seun Amon het hom as koning opgevolg.

Amon

(Vgl. 2 Kron. 33:21-25)

19Amon was twee en twintig toe hy koning geword het, en hy het twee jaar in Jerusalem geregeer. Sy ma was Mesullemet, 'n dogter van Garus, uit Jotba. 20Amon het gedoen wat verkeerd is in die oë van die Here, net soos Manasse, sy pa, gedoen het. 21Hy het in alles die voorbeeld van sy pa gevolg, die stinkende afgode gedien wat deur sy pa gedien is, en hulle aanbid. 22Hy het die Here die God van sy voorvaders verlaat en nie die wil van die Here gedoen nie. 23Amptenare van koning Amon het 'n sameswering teen hom gesmee en hom in sy paleis doodgemaak. 24Daarna het die burgers van die land almal doodgemaak wat saamgesweer het teen koning Amon, en hulle het sy seun Josia in sy plek koning gemaak.

25Die ander verhale oor Amon en wat hy gedoen het, is opgeteken in die annale van die konings van Juda. 26Hy is begrawe in sy graf in die tuin van Ussa, en sy seun Josia het hom as koning opgevolg.

2 KONINGS 21AFR83Maak oop in die Bybelleser

2 KONINGS 22

Josia

(Vgl. 2 Kron. 34:1-2)

1Josia was ag jaar toe hy koning geword het, en hy het een en dertig jaar in Jerusalem geregeer. Sy ma was Jedida, 'n dogter van Adaja uit Boskat. 2Josia het gedoen wat reg is in die oë van die Here. Hy het in alles die pad van sy voorvader Dawid geloop en daar nie links of regs van afgewyk nie.

Die wetboek en die verbondsluiting

(Vgl. 2 Kron. 34:8-11,14-32)

3In die agtiende jaar van sy regering het Josia die staatsekretaris Safan, seun van Asalja seun van Mesullam, na die huis van die Here toe gestuur met die opdrag: 4“Gaan na die hoëpriester Gilkija toe en laat hy die geld gereed kry wat ingebring is vir die huis van die Here, dié wat deur die drumpelwagte by die volk ingesamel is. 5Die geld moet oorhandig word aan die mense wat vir die werk aan die huis van die Here moet sorg. Hulle moet daarmee die werkers betaal wat die huis van die Here moet herstel: 6die vakmanne, die bouwerkers, die messelaars; hulle moet hout en gekapte klip koop om die tempel te herstel. 7Daar hoef nie van hulle rekenskap gevra te word van die geld wat aan hulle oorhandig word nie, want hulle is betroubaar.”

8Die hoëpriester Gilkija sê toe vir die staatsekretaris Safan: “Ek het die wetboek in die huis van die Here gekry.”

Hy het die wetboek aan Safan oorhandig, en dié het dit gelees 9en by die koning verslag gaan doen: “U amptenare het die geld wat hiervoor in die tempel beskikbaar was, uitgetel en dit oorhandig aan die mense wat vir die werk aan die huis van die Here moet sorg.”

10Die staatsekretaris Safan het ook aan die koning die mededeling gedoen: “Die priester Gilkija het my 'n boek gegee,” en Safan het vir die koning gelees wat daarin staan.

11Toe die koning hoor wat die wetboek sê, het hy sy klere geskeur 12en opdrag gegee aan die priester Gilkija, aan Agikam seun van Safan, aan Akbor seun van Miga, aan die staatsekretaris Safan en aan Asaja die hoofamptenaar van die koning: 13“Gaan raadpleeg die Here namens my en namens die hele volk Juda. Raadpleeg Hom oor die inhoud van hierdie boek wat gekry is. Ons voorvaders was ongehoorsaam aan die eise van hierdie boek en het nie gehandel in ooreenstemming met alles wat daarin staan nie. Daarom is die toorn van die Here wat teen ons gaan ontvlam, groot.”

14Die priester Gilkija en Agikam, Akbor, Safan en Asaja is toe na die profetes Gulda toe. Sy was die vrou van die klerebewaarder Sallum seun van Tikwa, seun van Gasra, en het in die nuwe deel van Jerusalem gewoon. Hulle het haar vertel, 15en sy het geantwoord: “So sê die Here die God van Israel: Sê vir die man wat julle na my toe gestuur het: 16So sê die Here: Ek bring onheil oor hierdie plek en oor sy inwoners, al die oordele in die boek wat die koning van Juda gelees het, 17want hulle het My verlaat. Hulle het offers gebring vir ander gode en My uitgetart met allerhande maaksels van hulle eie hande. My toorn ontvlam teen hierdie plek, die vlam sal nie geblus word nie. 18-19Maar sê vir die koning van Juda wat vir julle gestuur het om die Here te raadpleeg: So sê die Here die God van Israel: Ek het daarop ag geslaan dat jy in jou hart geraak is deur die woorde wat jy gehoor het en dat jy jou klere geskeur en gehuil het voor My, en dat jy berou getoon het voor My, die Here, toe jy hoor wat Ek sê oor hierdie plek en sy inwoners, naamlik dat verwoesting en straf oor hulle kom, sê die Here. 20Daarom sal Ek jou in vrede laat sterwe en in jou graf laat ingaan; jy sal niks van al die onheil wat Ek oor hierdie plek bring, self beleef nie.”

2 KONINGS 22AFR83Maak oop in die Bybelleser

2 KONINGS 23

1Die afvaardiging het so aan die koning gerapporteer, en hy het al die leiers van Juda en Jerusalem by hom laat bymekaarkom. 2Daarna is die koning na die huis van die Here toe met al die mense van Juda by hom en ook die inwoners van Jerusalem, die priesters en die Leviete, al die mense, groot en klein. Daar het hy alles aan hulle voorgelees wat in die boek van die verbond gestaan het wat in die huis van die Here gekry is. 3Toe het die koning op sy plek gaan staan en 'n verbond met die Here gesluit en beloof om die Here te volg en sy gebooie, verordeninge en voorskrifte met sy hele hart en siel te gehoorsaam en om die bepalings van die verbond soos dit in hierdie boek vasgelê is, na te kom. Die hele volk het die verbond aanvaar.

Josia bestry die afgodery

(Vgl. 2 Kron. 34:3-7)

4Koning Josia het aan die hoëpriester Gilkija, aan die priesters net onder hom en aan die drumpelwagte opdrag gegee om uit die tempel van die Here al die goed te bring wat vir Baäl en Asjera en al die hemelliggame gemaak is. Hulle moes dit verbrand buite Jerusalem op die gelyktes langs die Kedron en die as na Bet-El toe vat. 5Josia het die afgodspriesters afgesit wat deur die konings van Juda aangestel is en wat offers gebring het op die hoogtes, in die stede van Juda en in die omgewing van Jerusalem. Hy het ook 'n einde gemaak aan dié wat geoffer het vir Baäl en vir die son en die maan en die diereriem en al die ander hemelliggame. 6Hy het die Asjera uit die huis van die Here laat bring na die Kedronspruit toe buite Jerusalem, dit daar laat verbrand en laat fynstamp. Die as het hy laat weggooi op die grafte van die gewone mense. 7Hy het die manlike prostitute se kamers by die huis van die Here laat afbreek waarin die vroue klere geweef het vir die diens van Asjera.

8Verder het Josia al die priesters uit die stede van Juda laat bring en die hoogtes waarop die priesters geoffer het, laat ontwy, van Geba af tot by Berseba. Hy het die hoogtes wat by die poorte was, laat afbreek, ook die een by die poort van die stadsbevelvoerder Josua, aan die linkerkant as 'n mens die stadspoort binnegaan. 9Josia het nie die priesters wat by die hoogtes geoffer het, by die altaar van die Here in Jerusalem laat kom nie, maar hulle kon saam met hulle ampsgenote ongesuurde brood eet.

10Hy het die offerplek wat in die Ben-Hinnomdal was, laat ontwy, sodat niemand meer sy seun of dogter as offer vir Molek kon verbrand nie. 11Die perdebeelde wat deur die konings van Juda ter verering van die son opgestel is, het hy laat verwyder. Hulle het gestaan by die ingang van die huis van die Here, by die kamer van die amptenaar Netan-Melek aan die binneplein. Die sonwa het hy laat verbrand. 12Die altare wat deur die konings van Juda gebou is op die dak van die bovertrek van Agas, en die altare wat deur Manasse in die twee voorhowe van die huis van die Here gebou is, is deur die koning afgebreek. Hy het hulle net daar laat stukkend slaan en die puin laat weggooi in die Kedronvallei. 13Verder het die koning die hoogtes laat ontwy wat oos van Jerusalem, suid van die berg van verwoesting, was en wat deur koning Salomo van Israel opgerig is vir die verering van Astarte, die veragtelike godin van die Sidoniërs, Kemos, die veragtelike god van Moab, en Milkom die afskuwelike god van die Ammoniete. 14Hy het die klippilare laat stukkend slaan, die gewyde pale laat afkap en op hulle plekke mensbene laat gooi.

15Selfs die altaar in Bet-El, die hoogte wat deur Jerobeam seun van Nebat ingerig is toe hy vir Israel laat sondig het, selfs dié altaar en dié hoogte is deur Josia laat afbreek. Hy het die hoogte laat afbrand en fynslaan en die Asjera laat verbrand. 16Toe hy omdraai, sien Josia die grafte daar teen die berg. Hy het die bene uit die grafte laat uithaal en hulle op die altaar laat verbrand. So het hy die altaar laat ontwy in ooreenstemming met die woord van die Here wat destyds deur die man van God aangekondig is.

17Daarna sê Josia: “Watter grafsteen sien ek daar?” en die mense van die stad sê vir hom: “Dit is die graf van die man van God wat uit Juda gekom en voorspel het presies wat u met die altaar van Bet-El gedoen het.”

18Toe sê hy: “Laat hom rus, moenie sy bene versteur nie.” Hulle het toe sy bene en die bene van die profeet wat uit Samaria gekom het, met rus gelaat.

19Josia het verder al die heiligdomme wat deur die konings van Israel op die hoogtes by die stede van Samaria gebou is om die Here uit te tart, laat opruim. Hy het met hulle gemaak soos hy in Bet-El gedoen het. 20Al die priesters wat daar op die hoogtes diens gedoen het, het hy op die altare laat slag en mensbene op die altare laat verbrand. Daarna is hy terug Jerusalem toe.

21Daarna het die koning die volk beveel: “Vier die paasfees tot eer van die Here julle God soos dit voorgeskryf is in hierdie boek van die verbond.”

22'n Paasfees soos hierdie is nie gevier van die tyd van die leiers af wat oor Israel geregeer het nie, ook nie tydens die regering van die konings van Israel en Juda nie. 23Hierdie paasfees tot eer van die Here is in die agtiende regeringsjaar van koning Josia in Jerusalem gevier.

24Josia het ook die dodebesweerders en die waarsêers, die afgodsbeelde, al die stinkende en veragtelike afgode wat in Juda en Jerusalem te sien was, uitgeroei. So het hy voldoen aan die eise van die wet soos dit opgeteken was in die boek wat die priester Gilkija in die huis van die Here gekry het.

25Daar was nie voor hom nog so 'n koning soos hy wat hom tot die Here bekeer het met sy hele hart en siel en met al sy kragte in ooreenstemming met die hele wet van Moses nie, en ná hom was daar ook nie so 'n koning soos hy nie.

26Die Here het egter nie sy hewige toorn teen Juda laat vaar nie. Hy het toornig gebly oor Manasse se uittartende optrede teen Hom. 27Hy het gesê: “Ek sal Juda ook uit my teenwoordigheid verwyder, net soos Ek Israel verwyder het. Ek sal hierdie stad, Jerusalem, wat Ek uitverkies het, verwerp, en ook die tempel waarvan Ek gesê het: My Naam sal daar wees.”

Die dood van Josia

(Vgl. 2 Kron. 35:20-27)

28Die ander verhale oor Josia en alles wat hy gedoen het, is opgeteken in die annale van die konings van Juda.

29In sy tyd was die farao koning Neko van Egipte op pad na die koning van Assirië toe aan die Eufraat. Koning Josia het teen die farao opgetrek, maar die farao het hom met die bymekaarkom in Megiddo doodgemaak. 30Sy lyfwagte het sy lyk op 'n wa gesit en na Jerusalem toe gebring. Daar het hulle hom in sy graf begrawe.

Joahas

(Vgl. 2 Kron. 36:1-4)

Die burgers van die land het Josia se seun Joahas geneem, hom gesalf en hom koning gemaak in sy pa se plek.

31Joahas was drie en twintig toe hy koning geword het en hy het drie maande in Jerusalem geregeer. Sy ma was Gamutal, 'n dogter van Jeremia uit Libna.

32Joahas het gedoen wat verkeerd is in die oë van die Here en in alles die voorbeeld van sy voorvaders gevolg.

33Farao Neko het vir Joahas gevang en in Ribla, in Hamat, in die tronk gehou sodat hy nie in Jerusalem kon regeer nie. Neko het die land beboet met drie en 'n halwe ton silwer en vier en dertig kilogram goud. 34Daarna het farao Neko vir Eljakim seun van Josia koning gemaak in sy pa se plek, en sy naam verander na Jojakim. Neko het vir Joahas na Egipte toe gevat, en hy is daar dood.

Jojakim

(Vgl. 2 Kron. 36:5-8)

35Jojakim het die goud en die silwer aan die farao betaal. Om te betaal wat die farao geëis het, moes hy die land aanslaan. Hy het die goud en die silwer van die burgers van die land geëis, van elkeen volgens sy aanslag, en dit aan farao Neko betaal.

36Jojakim was vyf en twintig toe hy koning geword het, en hy het elf jaar in Jerusalem geregeer. Sy ma was Sebida, 'n dogter van Pedaja uit Ruma. 37Jojakim het gedoen wat verkeerd is in die oë van die Here en het in alles die voorbeeld van sy voorvaders gevolg.

2 KONINGS 23AFR83Maak oop in die Bybelleser

2 KONINGS 24

1In dié tyd het koning Nebukadnesar van Babel teen Jojakim opgetrek. Jojakim was drie jaar aan hom onderhorig en daarna het hy teen Nebukadnesar in opstand gekom.

2Die Here het bendes Galdeërs, Arameërs, Moabiete en Ammoniete teen Jojakim gestuur. Hy het hulle gestuur om Juda uit te roei, in ooreenstemming met wat die Here deur sy dienaars die profete gesê het. 3Dit het met Juda gebeur op bevel van die Here, omdat Hy Juda uit sy teenwoordigheid wou verwyder oor die sonde van Manasse, oor alles wat hy gedoen het, 4ook oor die mense wat hy onskuldig laat doodmaak het. Jerusalem was vol van die bloed van onskuldige mense, en die Here wou dit nie vergewe nie.

5Die ander verhale oor Jojakim en alles wat hy gedoen het, is opgeteken in die annale van die konings van Juda. 6Jojakim is oorlede, en sy seun Jojagin het hom as koning opgevolg.

7Die koning van Egipte het nie weer 'n veldtog buite sy land aangepak nie, want die koning van Babel het die gebied van Egiptespruit af tot aan die Eufraat verower, die hele gebied wat voorheen aan die koning van Egipte behoort het.

Jojagin

(Vgl. 2 Kron. 36:9-10)

8Jojagin was agtien toe hy koning geword het en hy het drie maande in Jerusalem geregeer. Sy ma was Negusta, 'n dogter van Elnatan uit Jerusalem.

9Jojagin het gedoen wat verkeerd is in die oë van die Here en het in alles die voorbeeld van sy pa gevolg.

10In dié tyd het die leër van koning Nebukadnesar van Babel 'n aanval op Jerusalem begin en die stad beleër. 11Nebukadnesar het self na die stad toe gekom terwyl sy soldate dit beleër het. 12Koning Jojagin van Juda het hom oorgegee aan die koning van Babel, hy, sy ma, sy lyfwag, sy amptenare en sy offisiere. Jojagin is deur die koning van Babel gevange geneem in sy agste regeringsjaar. 13Nebukadnesar het, soos die Here vantevore gesê het, al die skatte van die huis van die Here en die skatte van die paleis gevat en hy het al die goue goed stukkend geslaan wat koning Salomo van Israel vir die tempel van die Here laat maak het.

14Nebukadnesar het die hele Jerusalem weggevoer: al die amptenare, al die soldate, tien duisend gevangenes, ook die vakmanne en die smede. Niemand het agtergebly nie behalwe die armstes van die landsbevolking. 15Hy het vir Jojagin na Babel toe weggevoer. Hy het ook die koninginmoeder, die vrouens van die koning, sy offisiere en die belangrikste mense in die land van Jerusalem af na Babel toe in ballingskap weggevoer. 16Die koning van Babel het al die weerbare manne gevange weggevoer na Babel toe, al die soldate, sewe duisend, en ook nog duisend vakmanne en smede.

17Hy het vir Mattanja, 'n oom van Jojagin, in sy plek koning gemaak en sy naam verander na Sedekia.

Sedekia. Die val van Jerusalem

(Vgl. 2 Kron. 36:11-21; Jer. 52:1-11)

18Sedekia was een en twintig toe hy koning geword het en hy het elf jaar in Jerusalem geregeer. Sy ma was Gamutal, 'n dogter van Jeremia uit Libna.

19Sedekia het gedoen wat verkeerd is in die oë van die Here en het in alles die voorbeeld van Jojakim gevolg. 20Die toorn van die Here was op Jerusalem en Juda; Hy wou hulle wegvee uit sy teenwoordigheid uit.

Sedekia het in opstand gekom teen die koning van Babel,

2 KONINGS 24AFR83Maak oop in die Bybelleser

2 KONINGS 25

1en in die negende regeringsjaar van Sedekia, op die tiende dag van die tiende maand, het koning Nebukadnesar van Babel met sy hele leër met 'n aanval op Jerusalem begin. Hy het kamp opgeslaan by die stad en 'n beleëringswal rondom die stad gebou. 2Die stad is beleër tot in die elfde regeringsjaar van koning Sedekia. 3Teen die negende dag van die vierde maand was die hongersnood in die stad so erg dat daar nie meer kos vir die bevolking was nie. 4Toe is daar 'n opening in die muur gebreek, en al die soldate het in die nag gevlug deur die poort tussen die twee mure langs die Koningstuin ten spyte daarvan dat daar Galdeërs rondom die stad was. Die soldate het in die rigting van die Jordaanvallei gevlug, 5maar die Galdese leër het die koning agtervolg en hom ingehaal op die Jerigovlakte. Sy hele leër was toe al uitmekaargejaag, weg van hom af, 6en hy is gevang en na die koning van Babel toe in Ribla gevat. Hy is verhoor, 7en toe het hulle sy seuns voor sy oë geslag, sý oë uitgesteek, hom met bronskettings geboei en na Babel toe gevat.

8In die vyfde maand, op die sewende van die maand, in die negentiende regeringsjaar van koning Nebukadnesar van Babel het Nebusaradan by Jerusalem aangekom. Hy was hoof van die lyfwag en amptenaar van die koning van Babel. 9Hy het die huis van die Here, die paleis en al die huise in Jerusalem, elke groot gebou, afgebrand. 10Al die Galdese soldate wat onder sy bevel was, het die muur om Jerusalem afgebreek. 11Die mense wat in die stad oor was, ook dié wat na die koning van Babel toe oorgeloop het, al wat van die groot stadsbevolking oorgebly het, is gevange weggevoer deur Nebusaradan die hoof van die lyfwag. 12Net die armste mense van die land het hy laat agterbly om die wingerde en die lande te bewerk.

13Die Galdeërs het die bronspilare, die waentjies en die bronswaterbak wat by die huis van die Here was, stukkend geslaan en die brons na Babel toe gevat. 14Hulle het die potte, die skoppe, die skêre en die panne saamgevat, en al die ander bronsgoed wat in die tempeldiens gebruik is. 15Die hoof van die lyfwag het ook die vuurpanne en die komme vir besprinkeling buitgemaak, alles wat goud of silwer was. 16Die brons van die twee pilare, die waterbak en die waentjies wat deur Salomo vir die huis van die Here gemaak is, was soveel dat dit nie geweeg kon word nie. 17Elke pilaar was ag meter, en die bronskapiteel bo-op was een en 'n derde meter hoog. Die rooster met die granate om die kapiteel was heeltemal van brons. Die ander pilaar en sy rooster was dieselfde.

18Die hoof van die lyfwag het die hoëpriester Seraja, die priester tweede in rang, Sefanja, en die drie drumpelwagte gevange saamgevat. 19In die stad het hy die offisier gevange geneem wat in bevel was van die soldate. Daar was ook nog vyf van die koning se vertrouelinge in die stad, die sekretaris van die hoof van die leër wat vir die oproep van die burgers verantwoordelik was, en sestig van die burgers. 20Nebusaradan, die hoof van die lyfwag, het hulle gevange geneem en hulle na die koning van Babel toe in Ribla gevat. 21Die koning van Babel het hulle laat doodmaak daar in Ribla, in Hamat.

So is Juda dan uit sy land weggevoer.

Die moord op die goewerneur Gedalja

(Vgl. Jer. 40:7 – 41:3)

22Oor die mense wat in Juda oor was, dié wat deur koning Nebukadnesar van Babel toegelaat is om daar te bly, het hy vir Gedalja, seun van Agikam seun van Safan, aangestel. 23Toe die leëraanvoerders en hulle manskappe hoor dat die koning van Babel vir Gedalja aangestel het, het hulle na hom toe gegaan in Mispa. Die aanvoerders was Ismael seun van Netanja, Joganan seun van Kareag, Seraja seun van Tangumet uit Netofa, en Jaäsanja uit Maäka.

24Gedalja het hulle en hulle manne met 'n eed verseker: “Moenie bang wees vir die Galdese amptenare nie. Bly in die land en onderwerp julle aan die koning van Babel, dan sal dit goed gaan met julle.”

25Maar in die sewende maand het Ismael seun van Netanja, seun van Elisama uit die koninklike familie, met tien manne by hom 'n aanslag gemaak op Gedalja en 'n klompie Judeërs en Galdeërs wat by hom in Mispa was, en hulle vermoor. 26Daarna het almal, klein en groot, saam met die leëraanvoerders na Egipte toe gevlug uit vrees vir die Galdeërs.

Jojagin word bevoorreg

(Vgl. Jer. 52:31-33)

27In die sewe en dertigste jaar van die ballingskap van koning Jojagin van Juda, op die sewe en twintigste van die twaalfde maand, het Ewil-Merodak, wat pas koning van Babel geword het, vir koning Jojagin van Juda uit die gevangenis vrygelaat. 28So het hy hom begenadig en hom hoër status gegee as die ander konings wat by hom in Babel was.

29Jojagin kon sy gevangenisklere uittrek en het so lank as hy gelewe het, aan die koning se tafel geëet. 30Hy het van die koning 'n permanente toelae ontvang vir sy daaglikse behoeftes so lank as hy gelewe het.

2 KONINGS 25AFR83Maak oop in die Bybelleser

SPREUKE 8

1Dit is Wysheid self wat roep,

dit is Insig wat haar stem laat hoor.

2Op die hoogtes langs die pad,

by die kruispaaie, gaan sy staan,

3langs die stadspoorte, by die ingange,

skree sy dit uit:

4“Ek roep na julle, mense, ek roep na alle mense:

5Dié wat ervaring kortkom, kan verstandig word,

dié wat dwaas optree, kan insig kry.

6Luister, want wat ek sê, is die moeite werd,

elke woord van my is opreg.

7Ek praat net die waarheid,

ek het 'n afsku van wat verkeerd is.

8Elke woord uit my mond kan die toets deurstaan,

nie een het 'n verkeerde of vals bedoeling nie.

9Mense wat insig het, weet dat ek reguit praat,

wie die kennis het, weet wat ek sê, is reg.

10Aanvaar wat ek julle leer, dit is meer werd as silwer;

kennis is meer werd as die fynste goud.

11Ek, Wysheid, is kosbaarder as edelstene;

wat jy ook al as baie werd beskou,

teen my weeg dit nie op nie.

12“Ek, Wysheid, het die verstand,

ek het die kennis en die skranderheid.

13Om die Here te dien, is om te haat wat verkeerd is.

Daarom haat ek hoogmoed en hovaardigheid,

'n verkeerde lewe en slinkse woorde.

14Wie my het, het raad en behaal sukses,

ek verleen insig, ek is die een wat die mag gee.

15Met my hulp regeer konings goed

en laat maghebbers reg geskied;

16met my hulp heers die mense wat mag het,

die leiers, elkeen wat reg regeer.

17Ek het dié lief wat my liefhet;

dié wat my soek, vind my.

18Wie my het, het rykdom en eer,

het duursame en blywende besittings.

19Wat ek vir jou lewer,

is beter as goud, selfs fyn goud;

wat ek inbring,

is meer werd as die suiwerste silwer.

20Waar ek gaan, is daar geregtigheid,

my pad is dié van die reg.

21Ek maak dié wat my liefhet, ryk,

ek maak hulle skure vol.

22“Die Here het my geskep, Hy het met my begin;

ek is die eerste wat Hy gemaak het, lank, lank gelede.

23Ek is lankal daar, van die begin af,

voor die aarde daar was.

24Ek het gekom toe die groot waters nog nie daar was nie,

toe daar nog nie fonteine vol water was nie.

25Voor die berge hulle plek gekry het,

voor die rante het ek al gekom,

26voor die Here die aarde met sy vlaktes gemaak het,

voor Hy selfs die eerste grond gemaak het.

27Ek was daar toe Hy die hemelgewelf opgerig het,

toe Hy die horison oor die see afgemerk het,

28toe Hy die wolke daarbo gesit het,

die fonteine onder die diep water laat uitborrel het.

29Ek was daar toe Hy vir die see sy grens vasgestel het,

die waters aan sy wil onderwerp het,

toe Hy die fondamente van die aarde afgesteek het.

30Ek het my kennis by Hom gekry,

ek was elke dag sy vreugde;

die hele tyd het ek dit by Hom geniet.

31Ek het my verlustig in die wêreld wat Hy gemaak het,

die mense was vir my 'n vreugde.

32“Daarom, kinders, luister na my,

dit sal goed gaan met dié wat op my pad bly.

33Luister na wat ek julle leer,

moet dit nie verontagsaam nie,

dan sal julle ook wysheid hê.

34Dit sal goed gaan met die mens wat na my luister,

die mens wat elke dag na my huis toe kom

en op my drumpel staan en wag.

35Wie my vind, vind die lewe self

en geniet die guns van die Here.

36Maar wie my nie wil vind nie, doen homself skade aan;

wie my haat, hou van die dood.”

Bible Society of South Africav.4.26.9
VOLG ONS