Bible Society of South Africa

Na die Woord – Dag 118

2 KONINGS 6–10, PSALM 140

Bybelteks(te)

Elisa laat 'n byl op die water dryf

1Die profete het vir Elisa gesê: “Die plek waar ons van u onderrig ontvang, het te klein geword vir ons. 2Laat ons na die Jordaan toe gaan en balke kap om vir ons 'n bymekaarkomplek te bou.”

“Gaan gerus,” het hy geantwoord.

3Een het vir hom gevra: “Wil u nie met ons saamgaan nie?”

Hy het geantwoord: “Ek sal gaan,” 4en hy het saam met hulle gegaan.

Toe hulle by die Jordaan kom, het hulle bome afgekap. 5Terwyl een besig was om 'n boom af te kap, het sy byl in die water geval. Hy roep toe: “Ag tog, Meneer, en dit was boonop 'n geleende byl!”

6Die man van God het gevra waar die byl ingeval het. Toe die profeet vir hom die plek gewys het, het hy 'n stuk hout afgekap en dit daar ingegooi, en dit het die byl bo laat dryf. 7Hy sê toe vir hom: “Haal dit uit.” Die man het sy hand uitgesteek en dit gevat.

Die Arameërs word met blindheid geslaan

8Die koning van Aram was in oorlog met Israel gewikkel en het telkens met sy offisiere afgespreek dat hy op 'n sekere plek sou kamp opslaan. 9Die man van God het dan aan die koning van Israel die volgende boodskap gestuur: “Pas op dat u nie na daardie plek toe optrek nie, want die Arameërs trek soontoe op.”

10Gevolglik het die koning van Israel boodskappe deurgestuur na die plek toe wat die man van God aan hom genoem het en hom voor gewaarsku het. Die mense daar was dan keer op keer voorbereid.

11Die koning van Aram het baie onrustig geword hieroor. Hy het sy offisiere laat roep en vir hulle gesê: “Ek wil van julle weet wie van ons dra nuus oor aan die koning van Israel.”

12Een van sy offisiere het geantwoord: “Nie een van ons nie, U Majesteit, maar die profeet Elisa daar in Israel kan vir die koning van Israel vertel selfs wat u in u slaapkamer sê.”

13Die koning van Aram het gesê: “Gaan vind uit waar hy is, dan stuur ek manne om hom te vang.”

Die koning is meegedeel: “Hy is in Dotan.”

14Die koning stuur toe perde, strydwaens en 'n sterk mag daarheen. Hulle het in die nag gekom en die stad omsingel.

15Die môre vroeg het die slaaf van die man van God opgestaan, en toe hy uitgaan, sien hy 'n leër rondom die stad, met perde en strydwaens. “Ag, Meneer!” sê die slaaf vir Elisa, “wat gaan ons nou maak?”

16Hy het geantwoord: “Moenie bang wees nie, dié wat by ons is, is meer as wat hulle is.”

17Elisa het gebid: “Here, maak tog sy oë oop dat hy kan sien.”

Die Here het die oë van die slaaf oopgemaak, en hy het gesien: die berge rondom Elisa was vol perde en strydwaens van vuur. 18Toe die Arameërs op hom afstorm, het Elisa tot die Here gebid: “Slaan tog hierdie mense met blindheid!”

Die Here het hulle met blindheid geslaan net soos Elisa gevra het.

19Elisa sê toe vir hulle: “Dis nie die regte pad nie en dis nie die regte stad hierdie nie. Kom agter my aan, dan lei ek julle tot by die man vir wie julle soek.”

Hy het hulle na Samaria toe gelei. 20Toe hulle in Samaria kom, sê Elisa: “Here, maak hierdie mense se oë oop dat hulle kan sien.”

Toe die Here hulle oë oopmaak en hulle kyk, toe is hulle binne-in Samaria!

21Toe die koning van Israel hulle sien, vra hy vir Elisa: “Moet ek hulle doodmaak, Meneer, moet ek hulle doodmaak?”

22“Nee, moet hulle nie doodmaak nie,” was sy antwoord. “Sou jý mense doodmaak wat jy met jou eie swaard en jou pyl en boog krygsgevange geneem het? Sit vir hulle eet- en drinkgoed voor, dat hulle kan eet voordat hulle teruggaan na hulle koning toe.”

23Die koning van Israel het vir hulle 'n groot feesmaal gegee. Nadat hulle geëet het, het hy hulle laat gaan, terug na hulle koning toe. Die bendes van die Arameërs het toe nie weer in die land Israel gekom nie.

Hongersnood in Samaria. Die Arameërs vlug

24Later het koning Ben-Hadad van Aram sy hele leër opgeroep, na Samaria toe opgeruk en dit beleër. 25Daar het 'n groot hongersnood in Samaria ontstaan, en die beleg het voortgeduur totdat die kop van 'n donkie naderhand byna 'n kilogram silwer gekos het en 'n klein skeppie duiwemis sewe en vyftig gram.

26Toe die koning van Israel 'n keer op die stadsmuur langs verbyloop, het 'n vrou uitgeroep: “Help my asseblief, U Majesteit!”

27Hy het geantwoord: “As die Here jou nie help nie, hoe sal ek jou kan help? Uit die dorsvloer of uit die parskuip?”

28Toe die koning haar vra wat haar moeilikheid is, antwoord sy: “Hierdie vrou het aan my voorgestel: ‘Gee jou kind dat ons hom vandag eet, dan kan ons môre my kind eet.’ 29Ons het toe my kind gekook en geëet, maar toe ek vir haar die volgende dag sê: Gee nou jou kind dat ons hom eet, het sy haar kind weggesteek!”

30Toe die koning die vrou se verhaal hoor, het hy sy klere geskeur. Soos hy op die muur langs verbygeloop het, kon die bevolking sien dat hy 'n roukleed onder sy ander klere aanhet. 31Hy het uitgeroep: “Mag die Here my om die lewe bring as ek vandag Elisa seun van Safat se kop op sy lyf laat bly.”

32Elisa het in sy huis gesit saam met die leiers. Die koning het iemand met 'n opdrag gestuur, maar voordat die boodskapper nog by Elisa aangekom het, het hy al vir die leiers gesê: “Weet julle, hierdie moordenaarskind het iemand gestuur om my kop af te kap. Hou dop wanneer die boodskapper kom. Sluit dan die deur en hou hom buite. Sy koning kom agter hom aan.”

33Terwyl Elisa nog so met hulle sit en praat, het die koning self na hom toe gekom en gesê: “Kyk watter ellende het die Here oor ons gebring. Hoe kan ek nog op die Here hoop!”

1Maar Elisa sê: “Hoor die woord van die Here! So het die Here gesê: Môre hierdie tyd sal 'n mens vir elf gram silwer vyf kilogram meel of nege kilogram gars kom koop, hier in die poort van Samaria.”

2Die adjudant, wat die vertroueling van die koning was, het vir die man van God gesê: “Dit is onmoontlik selfs al maak die Here vensters in die hemel sodat dit nou reën.”

Elisa het geantwoord: “Toe maar, jy sal dit met jou eie oë sien, maar jy sal nie daarvan eet nie.”

3Daar was vier melaatses by die ingang van die stadspoort. Hulle het vir mekaar gesê: “Hoekom bly ons hier tot ons doodgaan? 4As ons sou besluit ons wil in die stad ingaan, sal ons daar doodgaan, want daar is hongersnood in die stad. Bly ons hier, is ons ook dood. Kom ons loop oor na die kamp van die Arameërs toe! As hulle ons laat leef, leef ons; as hulle ons doodmaak, is ons dood!”

5Skemeraand het hulle na die kamp van die Arameërs toe vertrek. Toe hulle by die kant van die kamp van die Arameërs kom, ontdek hulle dat daar niemand is nie! 6Die Here het die Arameërs in die kamp die geluid laat hoor van strydwaens, perde en 'n groot leër. Hulle het vir mekaar gesê: “Die koning van Israel het die konings van die Hetiete en van Egipte gehuur om ons aan te val.”

7In die skemer het hulle op die vlug geslaan. Hulle het die hele kamp net so gelos soos dit was, tente, perde en donkies, en vir hulle lewe gevlug.

8Toe hierdie melaatses by die kant van die kamp gekom het, het hulle in 'n tent ingegaan en geëet en gedrink. Hulle het ook silwer, goud en klere daaruit gevat en dit gaan begrawe. Daarna is hulle 'n tweede tent in waaruit hulle ook goed gevat en gaan begrawe het. 9Hulle sê toe vir mekaar: “Ons maak nie reg nie. Vandag is 'n dag vir blydskap en ons bly stil! As ons wag tot ligdag, sal ons beslis gestraf word. Kom ons gaan vertel dit by die paleis van die koning.”

10Hulle het by die stad aangekom en na die wagte geroep en vir hulle vertel: “Toe ons by die kamp van die Arameërs gekom het, was daar niemand te sien of te hoor nie. Daar was net vasgemaakte perde en donkies, en die tente net soos hulle gelos is.”

11Die wagte het die nuus verder oorgedra totdat dit binne in die paleis bekend geword het.

12Die koning het die nag opgestaan en vir sy amptenare gesê: “Ek sal julle vertel wat die Arameërs met ons wil doen! Hulle weet ons is uitgehonger. Hulle het uit die kamp uit gegaan en in die veld gaan wegkruip met die gedagte: as die Israeliete uit die stad uitgaan, vang ons hulle lewendig en kom so self in die stad.”

13Een van sy amptenare het hierop geantwoord: “Laat van ons mense vyf van die perde vat wat nog oor is, dan stuur ons hulle met die perde en kyk wat gebeur. Hulle sal dit óf oorleef soos die menigte Israeliete wat nog in die stad oor is, óf hulle sal omkom soos die menigte Israeliete wat hier al aan hulle einde gekom het.”

14Hulle het twee strydwaens met perde gevat. Die koning het hulle agter die leër van die Arameërs aan gestuur met die opdrag: “Gaan kyk.”

15Hulle is agter hulle aan tot by die Jordaan. Die hele pad het vol klere en goed gelê wat die Arameërs in hulle haas om weg te kom, weggegooi het. Die boodskappers het teruggekom en dit aan die koning meegedeel.

16Toe het die volk uit die stad uit gegaan en die kamp van die Arameërs geplunder. Vyf kilogram meel of nege kilogram gars het net elf gram silwer gekos, soos die Here gesê het. 17Die koning het die adjudant, wat sy vertroueling was, in bevel van die poort geplaas, maar hy is deur die volk in die poort doodgetrap, net soos die man van God dit vir die koning gesê het toe dié na hom toe gekom het. 18Dit het gebeur net soos die man van God vir die koning gesê het: “Nege kilogram gars of vyf kilogram meel sal môre hierdie tyd net elf gram silwer kos in die poort van Samaria.”

19Toe het die adjudant mos die man van God geantwoord: “Dit is onmoontlik selfs al maak die Here vensters in die hemel dat dit nou reën,” en Elisa het geantwoord: “Toe maar, jy sal dit met jou eie oë sien, maar jy sal net nie daarvan eet nie.”

20Dit is presies wat met die adjudant gebeur het: die volk het hom in die poort doodgetrap.

'n Vrou kry haar grond terug

1Elisa het vir die vrou wie se seun hy in die lewe teruggebring het, gesê: “Maak klaar om te vertrek, jy en jou huisgesin. Gaan bly op enige plek in die buiteland waar jy blyplek kan kry, want die Here het 'n hongersnood van sewe jaar vir hierdie land bepaal, en dit het al klaar begin.”

2Die vrou het klaargemaak soos die profeet gesê het, en met haar gesin vertrek en sewe jaar lank in die land van die Filistyne gaan bly. 3Aan die einde van die sewe jaar het sy uit die land van die Filistyne teruggekeer. Sy het na die koning toe gegaan om by hom te pleit vir haar huis en haar grond.

4Die koning was in gesprek met Gehasi, die slaaf van die man van God. Hy het gevra: “Vertel 'n bietjie vir my van al die groot dinge wat Elisa gedoen het.”

5Terwyl hy vir die koning vertel van die dooie vir wie Elisa in die lewe teruggebring het, kom die vrou wie se seun hy in die lewe teruggebring het, juis by die koning pleit vir haar huis en haar grond. Gehasi sê toe: “U Majesteit, dit is die vrou hierdie, en dit is haar seun vir wie Elisa in die lewe teruggebring het.” 6Die koning het die vrou uitgevra, en sy het hom alles vertel. Die koning het 'n paleisamptenaar tot haar beskikking gestel met die opdrag: “Sorg dat sy alles terugkry wat aan haar behoort, ook die hele opbrengs van die grond van die dag af dat sy die land verlaat het tot nou toe.”

Gasael word koning oor Aram

7Toe Elisa in Damaskus kom, was koning Ben-Hadad van Aram juis siek. Toe hulle hom meedeel dat die man van God daar aangekom het, 8het die koning vir Gasael gesê: “Neem geskenke saam met jou en gaan na die man van God toe. Gaan raadpleeg die Here deur hom of ek van hierdie siekte gesond sal word.”

9Gasael het hom tegemoet gegaan met geskenke van allerhande pragtige Damaskusware, 'n vrag vir veertig kamele. Hy het by hom gekom, voor hom gaan staan en gesê: “U dienswillige, koning Ben-Hadad van Aram, het my na u toe gestuur om te vra of hy van sy siekte gesond sal word.”

10Elisa het vir Gasael gesê: “Gaan sê vir jou koning hy sal nie gesond word nie, want die Here het aan my geopenbaar dat hy sal sterwe.”

11Die man van God het vir Gasael met 'n strak gesig aangekyk totdat hy verleë geword het. Toe het Elisa in trane uitgebars.

12“Waarom huil u?” het Gasael gevra.

Elisa het geantwoord: “Omdat ek weet watter kwaad jy die Israeliete gaan aandoen. Jy sal hulle vestings in vlamme laat opgaan, hulle jongmanne doodmaak, hulle kindertjies verpletter en hulle swanger vrouens oopsny.”

13Maar Gasael het gesê: “Ek het nie enige mag nie, hoe sou ek so iets kon doen!”

Elisa het geantwoord: “Die Here het aan my geopenbaar dat jy koning oor Aram sal word.”

14Gasael het van Elisa af weggegaan en by sy koning gekom. Dié het hom gevra: “Wat het Elisa vir jou gesê?”

Gasael antwoord toe: “Hy het vir my gesê u sal lewe.”

15Die volgende môre het Gasael 'n doek gevat, dit in water gesteek en oor die koning se gesig getrek, en die koning het gesterf.

Gasael het hom as koning opgevolg.

Joram word koning van Juda

(Vgl. 2 Kron. 21:1-10)

16In die vyfde regeringsjaar van koning Joram van Israel, seun van Agab, het Joram seun van Josafat sy pa opgevolg as koning van Juda. 17Hy was twee en dertig toe hy koning geword het, en hy het ag jaar in Jerusalem geregeer.

18Hy het die pad van die konings van Israel geloop soos die koningshuis van Agab gedoen het, want hy was getroud met 'n dogter van Agab. Hy het gedoen wat verkeerd is in die oë van die Here.

19Die Here wou Juda nie vernietig nie, ter wille van sy dienaar Dawid. Die Here het hom belowe om altyd iemand uit sy nageslag op sy troon te laat sit.

20In die tyd van Joram het die Edomiete teen Juda gerebelleer en 'n eie koning oor hulle aangestel. 21Joram het met sy hele strydwamag opgeruk na Saïr toe. Hy het in die nag die Edomiete aangeval wat hom en sy strydwaoffisiere wou omsingel, maar sy manskappe moes vlug, terug huis toe.

22Tot vandag toe is Edom in opstand teen die gesag van Juda. Destyds het Libna ook gerebelleer.

23Die ander verhale oor Joram en alles wat hy gedoen het, is opgeteken in die annale van die konings van Juda. 24Hy is oorlede, en hy is begrawe in die familiegraf in die Dawidstad. Sy seun Ahasia het hom as koning opgevolg.

Ahasia regeer oor Juda

(Vgl. 2 Kron. 22:1-6)

25In die twaalfde regeringsjaar van koning Joram van Israel, seun van Agab, het Ahasia seun van Joram koning van Juda geword. 26Ahasia was twee en twintig toe hy koning geword het en hy het 'n jaar in Jerusalem geregeer. Sy ma was Atalia 'n kleindogter van koning Omri van Israel. 27Hy het die pad van die koningshuis van Agab geloop: hy het gedoen wat verkeerd is in die oë van die Here net soos die koningshuis van Agab, want hy het ingetrou in die familie van Agab. 28Saam met Joram seun van Agab het hy opgeruk om te veg teen koning Gasael van Aram by Ramot in Gilead. Die Arameërs het vir Joram daar gewond. 29Koning Joram het teruggegaan om in Jisreël te gaan herstel van die wonde wat die Arameërs hom in Ramot toegedien het toe hy teen koning Gasael van Aram geveg het. Koning Ahasia van Juda, seun van Joram, het vir Joram seun van Agab in Jisreël gaan besoek waar hy siek gelê het.

Jehu word gesalf tot koning oor Israel

1Die profeet Elisa het een van die profete geroep en vir hom gesê: “Maak klaar en vat hierdie kruikie olie en gaan na Ramot in Gilead toe. 2As jy daar kom, gaan soek vir Jehu op, seun van Josafat seun van Nimsi. Gaan in, bring hom eenkant, weg van sy medeoffisiere af, in 'n binnekamer, 3vat die kruik olie en giet dit op sy kop uit. Sê dan vir hom: ‘So sê die Here: Ek salf jou tot koning van Israel.’ Maak dan die deur oop en vlug onmiddellik.”

4Die jongman, die profeet, het na Ramot in Gilead toe gegaan. 5Toe hy daar aankom, was die generaals besig met 'n samespreking. Hy het gesê: “Ek het 'n boodskap vir u, Generaal.”

Jehu het gevra: “Vir wie van ons?”

Hy het geantwoord: “Vir u, Generaal.”

6Jehu het opgestaan en toe hy in die ander vertrek inkom, het die profeet die olie op Jehu se kop uitgegiet met die woorde: “So sê die Here die God van Israel: Ek salf jou tot koning oor Israel, die volk van die Here. 7Jy sal die koningshuis van Agab vernietig. So sal Ek My wreek op Isebel oor die vergieting van die bloed van my dienaars die profete, oor die vergieting van die bloed van al die dienaars van die Here. 8Die hele koningshuis van Agab sal tot niet gaan. Ek sal elke manlike nakomeling van Agab in Israel sonder uitsondering uitroei. 9Ek sal met die huis van Agab maak soos met die huis van Jerobeam seun van Nebat, en soos met die huis van Baesa seun van Agija. 10Die honde sal vir Isebel opvreet op die oop stuk grond in Jisreël; sy sal nie begrawe word nie.”

Die profeet het toe die deur oopgemaak en gevlug.

11Toe Jehu uit die kamer uit terugkom by die amptenare van die koning, het hulle vir hom gevra: “Is alles reg? Hoekom het hierdie mal man na jou toe gekom?”

Hy het hulle geantwoord: “Julle ken tog self die man en sy praatjies.” 12Hulle antwoord toe: “Onsin! Toe, vertel ons.”

Hy het gesê: “Dit is wat die man vir my gesê het: So sê die Here: Ek salf jou tot koning oor Israel.”

13Onmiddellik het elkeen sy klere gevat en dit op die trappe voor Jehu oopgegooi. Hulle het die ramshoring geblaas en uitgeroep: “Jehu is koning!”

14-15Jehu seun van Josafat, seun van Nimsi, het met hulle saamgesweer teen koning Joram van Israel. Hy was toe in Jisreël waar hy gaan herstel het van die wonde wat die Arameërs hom toegedien het toe hy teen koning Gasael van Aram geveg het. Dit het gebeur terwyl Joram en die Israeliete besig was om Ramot in Gilead te verdedig teen koning Gasael van Aram.

Jehu het gesê: “As julle aan my kant is, sorg dat niemand wegkom uit Ramot uit om die nuus in Jisreël te gaan vertel nie.”

16Daarna het Jehu op sy wa geklim en Jisreël toe gery waar Joram siek gelê het en koning Ahasia van Juda vir Joram gaan besoek het. 17Waar die wag op die toring in Jisreël gestaan het, het hy Jehu se aanhangers sien aankom. Hy het opgemerk: “Ek sien 'n klomp mense.”

Toe sê Joram: “Beveel 'n ruiter om hulle tegemoet te ry en te vra of hulle in vrede kom.”

18Die perderuiter het Jehu tegemoet gegaan en gesê: “Die koning vra of jy in vrede kom.”

Jehu het geantwoord: “Wat maak dit saak of ek in vrede kom? Sluit by my aan.”

Die man het laat weet: “Die boodskapper het tot by hulle gekom, maar hy kom nie terug nie.”

19Koning Joram stuur toe 'n tweede perderuiter. Toe hy by hulle kom, sê hy: “Die koning vra of jy in vrede kom?”

Jehu het geantwoord: “Wat maak dit saak of ek in vrede kom? Sluit by my aan.”

20Die wag het laat weet: “Die boodskapper het tot by hulle gekom, maar hy kom nie terug nie. Die een wat die wa dryf, moet Jehu seun van Nimsi wees, want hy dryf soos 'n mal mens!”

21Koning Joram van Israel het toe opdrag gegee: “Span die wa in.”

Hulle het sy wa ingespan en hy het opgeklim. Koning Ahasia van Juda het op sy eie wa geklim. Hulle het na Jehu toe gery en by hom gekom by die stuk grond van Nabot die Jisreëliet. 22Toe Joram vir Jehu sien, vra hy: “Kom jy in vrede, Jehu?”

Maar hy antwoord: “Wat? Vrede? Met al hierdie hoerery en toordery van jou ma Isebel se afgodsdiens?”

23Toe Joram die wa ompluk om te vlug, skree hy vir Ahasia: “Verraad, Ahasia!”

24Jehu het sy boog gespan en Joram tussen die blaaie getref. Die pyl is deur sy hart; daar op sy wa het hy inmekaargesak. 25Jehu het sy adjudant Bidkar beveel: “Tel hom op en gooi hom op die stuk grond van Nabot die Jisreëliet. Onthou jy toe ek en jy langs mekaar agter sy pa Agab aangery het hoe die Here hierdie oordeel oor hom aangekondig het? 26Die Here het toe gesê: ‘So seker as Ek die vergieting van die bloed van Nabot en van sy seuns gister gesien het, sal Ek jou daarvoor vergelding laat doen op hierdie selfde stuk grond.’ Vat hom nou en gooi hom op dié stuk grond, net soos die Here gesê het.”

27Toe koning Ahasia van Juda sien wat gebeur, het hy in die rigting van Bet-Gan gevlug. Jehu het hom agtervolg en opdrag gegee: “Skiet hom ook!” Op die hoogte van Gur, by Jibleam, het hulle hom op sy wa raakgeskiet. Hy het nog tot by Megiddo gevlug, maar daar het hy gesterf. 28Sy dienaars het hom op sy wa na Jerusalem toe vervoer en hom daar in die Dawidstad in die familiegraf begrawe.

29In die elfde regeringsjaar van Joram seun van Agab het Ahasia koning geword oor Juda.

30Isebel het gehoor dat Jehu na Jisreël toe op pad is. Sy het oogverf aangesmeer en haar hare mooi gemaak. Sy het by die venster gaan staan en uitkyk.

31Toe Jehu by die poort inkom, het sy vir hom gesê: “Kom jy in vrede, Simri, koningsmoordenaar?”

32Jehu het na die venster toe opgekyk en gevra: “Wie is aan my kant? Wie?” Twee, drie paleisamptenare het afgekyk na hom toe. 33Hy het beveel: “Gooi haar af!”

Toe gooi hulle haar af. Van haar bloed het teen die muur en teen die perde gespat, en hulle het haar doodgetrap.

34Hy het in die paleis ingegaan en gaan eet en drink. Daarna het hy gesê: “Sien tog maar om na hierdie vervloekte vrou. Begrawe haar, sy is darem 'n koning se dogter.”

35Hulle is weg om haar te gaan begrawe, maar hulle kon net die kopbeen, die voete en die hande kry. 36Toe hulle dit aan Jehu kom rapporteer, het hy gesê: “Dit is die woord van die Here wat deur sy dienaar Elia die Tisbiet gekom het: ‘Op die oop stuk grond in Jisreël sal die honde die vleis van Isebel opvreet.’ 37Op die oop stuk grond in Jisreël sal die lyk van Isebel wees soos mis in 'n land. Niemand sal kan sê dit is Isebel nie.”

Jehu laat al die prinse van Samaria doodmaak

1In Samaria was daar sewentig prinse uit Agab se geslag. Jehu het briewe geskryf en dit na Samaria toe gestuur, na die regeerders van Jisreël, na die leiers en na die opvoeders van Agab se nakomelinge. Dit het so gelui:

2“As julle hierdie brief kry – julle het daar by julle die prinse, die strydwaens en perde, 'n versterkte stad en wapentuig – 3soek dan die beste en knapste prins uit en sit hom op die troon van sy pa. Maar julle sal moet veg vir julle koningshuis.”

4Hulle het bang geword, want hulle het gedink: twee konings moes die onderspit teen hom delf, hoe sal ons ons kan handhaaf?

5Die amptenaar in beheer van die paleis en die een in beheer van die stad, die leiers en die opvoeders het vir Jehu laat weet: “Ons wil u onderdane wees. Ons wil niemand koning maak nie. Alles wat u aan ons opdra, sal ons uitvoer. Doen wat u goedvind.”

6Toe skryf hy vir hulle 'n tweede brief: “As julle ten gunste van my is en aan my gehoorsaam wil wees, bring die koppe van die prinse môre hierdie tyd na my toe in Jisreël.”

Die sewentig prinse was elkeen tuis by 'n vooraanstaande persoon van die stad wat hulle moes grootmaak. 7Toe die brief by die leiers kom, het hulle die prinse gevat en al sewentig doodgemaak en hulle koppe in mandjies na Jehu toe in Jisreël gestuur. 8Die boodskapper het kom rapporteer: “Hulle het die koppe van die prinse gebring.”

Jehu het gesê: “Sit hulle tot môreoggend in twee hope neer by die ingang van die poort.”

9Die volgende môre het hy uitgegaan, daar gaan staan, en vir al die mense daar gesê: “Julle is onskuldig. Dit is ek wat teen die koning saamgesweer en hom vermoor het, maar wie het al hierdie mense doodgemaak? 10Erken dan dat nie 'n enkele ding wat die Here oor die huis van Agab gesê het, onvervul sal bly nie. Die Here het alles gedoen wat Hy deur sy dienaar Elia gesê het.”

11Jehu het almal doodgemaak wat nog van die koningshuis van Agab in Jisreël oor was: al die vooraanstaandes, vertrouelinge, selfs priesters; hy het nie een laat wegkom nie.

12Jehu het klaargemaak en na Samaria toe vertrek. Langs die pad by Bet-Eked-Roïm 13het hy die broers van koning Ahasia van Juda teëgekom. “Wie is julle?” het hy gevra.

“Ons is Ahasia se broers,” het hulle geantwoord, “ons gaan kyk hoe gaan dit met die prinse en die koning se ma.”

14Jehu het beveel: “Vang hulle.”

Hulle het hulle gevang en hulle doodgemaak by die put van Bet-Eked, altesaam twee en veertig; hy het nie een van hulle laat oorbly nie.

15Toe hy daar weg is, kom hy vir Jonadab seun van Rekab op die pad teë. Nadat hy hom gegroet het, vra hy vir hom: “Kan ek op jou reken soos jy op my?”

Jonadab het geantwoord: “Ja.”

“As dit ja is,” sê Jehu, “gee my jou hand.”

Hulle het mekaar die hand gegee en Jehu het hom by hom op die wa laat klim. 16Jehu het gesê: “Kom saam met my, dan sal jy my ywer vir die Here sien.” Jehu het hom saam met hom laat ry, 17en toe Jehu in Samaria kom, het hy almal van Agab wat nog in Samaria oor was, doodgemaak; hy het tot die laaste een toe om die lewe gebring, soos die Here vir Elia gesê het.

Jehu laat die profete van Baäl doodmaak

18Jehu het die hele volk bymekaar laat kom en vir hulle gesê: “Agab het vir Baäl maar net 'n bietjie gedien, maar ek wat Jehu is, gaan hom baie meer dien. 19Roep nou al die profete van Baäl na my toe, al sy vereerders en al sy priesters. Nie een mag wegbly nie, want ek wil 'n groot offer aan Baäl bring. Nie een wat wegbly, sal bly leef nie.”

Jehu het dit met lis beplan om die vereerders van Baäl te kan vernietig.

20Jehu het beveel: “Sonder vir Baäl 'n feesdag af.”

So 'n feesdag is uitgeroep, 21en Jehu het oral in Israel boodskappers gestuur, sodat al die vereerders van Baäl gekom het; daar was nie 'n enkele wat nie gekom het nie. Hulle het in die tempel van Baäl ingegaan, sodat die tempel naderhand van hoek tot kant vol was. 22Aan die persoon wat oor die klerekamer toesig gehou het, het hy gesê: “Bring klere vir al die vereerders van Baäl.”

Hy het vir hulle die klere gebring. 23Jehu en Jonadab seun van Rekab het saam in die tempel van Baäl ingegaan, en Jehu het vir die vereerders van Baäl gesê: “Sorg dat hier nie vereerders van die Here saam met julle is nie; net die vereerders van Baäl moet hier wees.”

24Toe hulle ingaan om die brandoffers en ander diereoffers te bring, was daar buite tagtig man wat deur Jehu opgestel is met die bevel: “Die persoon wat een van die manne wat ek in julle mag gee, laat wegkom, sal met sy eie lewe daarvoor boet.”

25Net toe Jehu klaar die brandoffer gebring het, het hy vir die hardlopers en die adjudante gesê: “Gaan in en maak hulle dood. Niemand mag daar uitkom nie.”

Hulle het hulle doodgesteek en die liggame uitgegooi. Hulle het in die binneste heiligdom van die Baälstempel ingedring, 26die klippilaar uit die Baälstempel uitgebring en dit in die vuur gegooi. 27Hulle het die klippilaar stukkend geslaan en die tempel van Baäl afgebreek en daarvan kleinhuisies gebou, wat dit vandag nog is. 28So het Jehu die Baäldiens uit Israel verdelg.

Beoordeling van Jehu se bewind

29Jehu het nie afgesien van die sondes wat Jerobeam seun van Nebat vir Israel laat doen het nie: die goue kalwers wat in Bet-El en in Dan was, is nog vereer.

30Die Here het vir Jehu gesê: “Omdat jy gedoen het wat goed en reg is in my oë en jy die huis van Agab alles aangedoen het wat Ek My voorgeneem het, sal jou kinders tot in die vierde geslag op die troon van Israel sit.”

31Maar Jehu het nie met sy hele hart die woord van die Here die God van Israel gehoorsaam nie. Hy het nie afgesien van die sondes wat Jerobeam vir Israel laat doen het nie.

32In daardie tyd het die Here begin om die gebied van Israel kleiner te maak. Oral in die grondgebied van Israel het Gasael hulle neerlae toegedien: 33van die Jordaan af ooswaarts, die hele Gilead waar die stamme Gad, Ruben en Manasse gewoon het, van Aroër af aan die Arnonrivier, Gilead sowel as Basan.

34Die ander verhale oor Jehu en alles wat hy gedoen het, al sy dapper dade, is opgeteken in die annale van die konings van Israel. 35Jehu is oorlede, en hulle het hom begrawe in Samaria. Sy seun Joahas het hom as koning opgevolg. 36Jehu het ag en twintig jaar in Samaria as koning oor Israel geregeer.

2 KONINGS 10AFR83Maak oop in die Bybelleser

Die Here behartig die regsaak van die hulpelose

1Vir die koorleier. 'n Psalm van Dawid.

2Red my van mense wat sleg is, Here,

beskerm my teen mense wat geweld pleeg,

3wat slegte dinge bedink

en elke dag vyandskap aanblaas.

4Hulle tonge is so giftig soos slange,

hulle woorde so venynig soos adders. Sela

5Hou my uit die mag van die goddeloses, Here,

beskerm my teen mense wat geweld wil pleeg,

wat planne maak om my uit die pad te kry.

6Hovaardige mense stel vir my strikke,

hulle span toue om my te vang,

hulle stel 'n valstrik op my pad. Sela

7Ek sê vir die Here: U is my God!

Here, luister tog na my smeekgebed.

8O Here my God aan wie ek behoort,

my kragtige Redder,

U beskerm my wanneer die goddeloses my aanval.

9Moet tog nie dat hulle hulle sin kry nie, Here,

moet tog nie dat hulle planne slaag nie. Sela

10Dié wat my van alle kante bedreig, verhef hulle teen U;

laat hulle dreigemente hulleself tref.

11Laat gloeiende kole op hulle val,

gooi hulle in modderputte

dat hulle nie weer daar uitkom nie.

12Laat daar geen skindertong in die land wees nie,

laat onheil dié wat geweld pleeg, elke keer weer tref!

13Ek weet, die Here behartig die regsaak van die hulpelose,

Hy sorg vir die reg van die arme.

14Die regverdiges sal u Naam loof,

die opregtes sal by U woon.

Bible Society of South Africav.4.18.14
VOLG ONS