Bible Society of South Africa

Na die Woord – Dag 117

2 KONINGS 1–5, SPREUKE 6

Bybelteks(te)

Die Here straf vir Ahasia

1Na die dood van Agab het Moab in opstand gekom teen Israel. 2Ahasia het in Samaria deur sy bokamer se traliewerk geval en hom ernstig beseer. Hy het boodskappers gestuur met die opdrag: “Gaan raadpleeg vir Baäl-Sebub die god van Ekron om te hoor of ek hierdie besering sal oorleef.”

3Maar die Engel van die Here het vir Elia die Tisbiet gesê: “Loop gou die boodskappers van die koning van Samaria tegemoet en sê vir hulle: Is daar dan geen God in Israel nie dat julle vir Baäl-Sebub die god van Ekron gaan raadpleeg? 4Daarom sê die Here vir die koning: Jy sal nie opstaan uit die bed waarin jy gaan lê het nie. Jy gaan sterf.”

Toe vertrek Elia, 5en die boodskappers het omgedraai na die koning toe. Hy vra hulle toe: “Waarom het julle omgedraai?”

6Hulle het hom geantwoord: “'n Man het ons tegemoet geloop en vir ons gesê: Gaan terug na die koning wat vir julle gestuur het en sê vir hom: So sê die Here: Is daar dan geen God in Israel nie dat jy boodskappers stuur om Baäl-Sebub die god van Ekron te raadpleeg? Daarom sal jy nie opstaan uit die bed waarin jy gaan lê het nie. Jy gaan sterf.”

7Die koning vra hulle toe: “Hoe het die man gelyk wat vir julle tegemoet geloop en hierdie dinge vir julle gesê het?”

8Hulle het geantwoord: “Dit was 'n man met velklere aan en met 'n velgordel om sy middel.”

Daarop sê die koning: “Dit moet Elia die Tisbiet wees.”

9Hy stuur toe 'n offisier met vyftig manskappe na Elia toe. Die offisier het na Elia toe opgeklim waar hy op die top van 'n berg gesit het. Die offisier het vir hom gesê: “Man van God, die koning het beveel jy moet afkom na hom toe.”

10Toe antwoord Elia die offisier: “So seker as ek 'n man van God is, daar sal vuur uit die hemel uit afkom en jou en jou vyftig man verteer!”

Daar het toe vuur uit die hemel uit afgekom en die offisier en sy vyftig manskappe verteer.

11Die koning stuur toe 'n ander offisier met vyftig man na Elia toe om hom te beveel: “Man van God, die koning sê: jy moet vinnig na hom toe kom.”

12Elia het hom geantwoord: “So seker as ek 'n man van God is, daar sal vuur uit die hemel uit afkom en jou en jou vyftig man verteer!”

Daar het toe 'n vuur van God uit die hemel uit afgekom en dit het die offisier en sy vyftig man verteer.

13Die koning stuur toe 'n derde keer 'n offisier met sy vyftig man. Die derde offisier is die berg op. By Elia aangekom, het hy op sy knieë voor hom geval en hom om genade gesmeek: “Man van God, spaar tog asseblief my lewe en die lewe van hierdie vyftig man. 14Daar het vuur uit die hemel uit afgekom en dit het die twee offisiere wat vroeër gekom het, saam met hulle manskappe verteer. Spaar nou asseblief my lewe!”

15Die Engel van die Here het vir Elia gesê: “Klim af saam met hom, moenie vir hom bang wees nie.”

Elia is toe saam met hom die berg af na die koning toe.

16Elia het vir die koning gesê: “So sê die Here: Omdat jy boodskappers gestuur het om Baäl-Sebub die god van Ekron te raadpleeg asof daar geen God in Israel is wat geraadpleeg kan word nie, sal jy nie opstaan uit die bed waarin jy nou lê nie. Jy gaan sterf.”

17Hy hét ook gesterf, in ooreenstemming met die woord van die Here wat deur Elia gekom het. Omdat Ahasia self geen kinders gehad het nie, is hy as koning opgevolg deur Joram. Dit was in die tweede regeringsjaar van koning Joram van Juda, seun van Josafat.

18Die ander verhale oor Ahasia en wat hy gedoen het, is opgeteken in die annale van die konings van Israel.

Elia word in die hemel opgeneem

1Die tyd het gekom dat die Here vir Elia in 'n stormwind in die hemel sou opneem.

Elia en Elisa het uit Gilgal vertrek, 2en Elia het vir Elisa gesê: “Bly hier, want die Here stuur my na Bet-El toe.”

Elisa se antwoord was: “So seker as die Here leef en u leef, ek sal u nie alleen laat gaan nie.”

Hulle is toe na Bet-El toe. 3Die profete wat in Bet-El was, het na Elisa toe gegaan en hom gevra: “Weet jy dat die Here vandag jou leermeester van jou af gaan wegvat?”

Hy het geantwoord: “Ja, ek weet. Moenie daaroor praat nie.”

4Elia sê toe vir Elisa: “Bly hier, want die Here stuur my na Jerigo toe.”

Maar Elisa het geantwoord: “So seker as die Here leef en u leef, ek sal u nie alleen laat gaan nie.”

Hulle het saam in Jerigo aangekom. 5Die profete van Jerigo het na Elisa toe gekom en hom gevra: “Weet jy dat die Here vandag jou leermeester van jou af gaan wegvat?”

Hy het geantwoord: “Ja, ek weet. Moenie daaroor praat nie.”

6Elia sê toe vir hom: “Bly hier, want die Here stuur my na die Jordaan toe.”

Maar Elisa het geantwoord: “So seker as die Here leef en u leef, ek sal u nie alleen laat gaan nie.”

Hulle twee is toe saam verder.

7'n Vyftigtal van die profete is agterna en het op 'n afstand gaan staan regoor die plek waar Elia langs die Jordaan gestaan het.

8Elia het sy mantel gevat, dit opgerol en die water daarmee geslaan. Die water het na links en na regs verdeel, sodat hulle twee op droë grond daar deur is. 9Net toe hulle deur is, sê Elia vir Elisa: “Wat wil jy hê moet ek vir jou doen voordat ek van jou af weggevat word?”

Elisa het geantwoord: “Mag daar tog 'n dubbele deel van u gees op my kom!”

10Toe sê Elia: “Dis 'n moeilike ding wat jy vra. As jy my sien wanneer ek van jou af weggevat word, mag dit dan met jou gebeur; maar as jy my nie sien nie, sal dit nie gebeur nie.”

11Terwyl hulle gesels-gesels verder gegaan het, was daar skielik 'n wa van vuur met perde van vuur wat hulle twee van mekaar geskei het, en Elia is in 'n stormwind op, die hemel in. 12Toe Elisa dit sien, het hy uitgeroep: “My vader, my vader, u was vir Israel die strydwa met sy ruiters!”

Toe Elisa nie meer vir Elia kon sien nie, het hy sy eie klere gevat en in twee stukke geskeur. 13Hy het die mantel wat van Elia afgeval het, opgetel en weer op die wal van die Jordaan gaan staan. 14Hy het met hierdie mantel wat van Elia afgeval het, op die water geslaan en gesê: “Waar is die Here die God van Elia? Waar is Hy?”

Toe Elisa die water slaan, het dit na links en na regs verdeel sodat hy kon deurgaan. 15Toe die profete van Jerigo wat 'n entjie daarvandaan gestaan het, hom sien, het hulle gesê: “Die gees van Elia rus nou op Elisa.”

Hulle het hom tegemoet geloop en voor hom gebuig.

16Hulle sê toe vir hom: “Daar is vyftig dapper manne onder ons; laat hulle tog u leermeester gaan soek: dalk het die Gees van die Here hom opgelig en êrens op 'n berg of in 'n vallei neergelaat.”

Elisa het geantwoord: “Moet hulle nie stuur nie.”

17Maar hulle het by hom bly aandring totdat hy nie meer kon weier nie, en toe sê hy: “Stuur hulle dan maar.”

Hulle het vyftig man gestuur, maar hoewel hulle drie dae lank gesoek het, kon hulle Elia nie kry nie. 18Toe hulle terugkom in Jerigo waar Elisa oorgebly het, het hy vir hulle gesê: “Het ek nie vir julle gesê julle moenie gaan nie?”

Elisa maak die water van Jerigo bruikbaar

19Die inwoners van die stad het vir Elisa gesê: “U sien self hoe mooi ons stad geleë is, maar die water is giftig en die oes uit die grond veroorsaak misgeboortes.”

20Elisa sê toe: “Bring vir my 'n nuwe skottel en gooi sout daarin.” Hulle het dit na hom toe gevat. 21Hy het uitgegaan na die plek waar die water uitkom en die sout daar ingegooi, met die woorde: “So sê die Here: Ek maak hierdie water bruikbaar sodat dit nie meer dood of onvrugbaarheid sal veroorsaak nie.”

22Die water is vandag nog bruikbaar, net soos Elisa gesê het.

Die seuntjies spot vir Elisa

23Elisa is daarvandaan op na Bet-El toe. Terwyl hy op pad was daarnatoe, het 'n klomp klein seuntjies uit die stad gekom en hom gespot: “Hoër op, kaalkop! Hoër op, kaalkop!”

24Hy het omgedraai, hulle aangekyk en hulle vervloek in die Naam van die Here. Twee bere het uit die bos gekom en twee en veertig van die kinders verskeur.

25Van Bet-El af is Elisa na Karmelberg toe en daarvandaan na Samaria toe.

Die Moabiete rebelleer teen Israel

1Joram seun van Agab het in Samaria koning oor Israel geword in die agtiende regeringsjaar van koning Josafat van Juda. Hy was twaalf jaar lank koning. 2Hy het gedoen wat verkeerd is in die oë van die Here, maar nie so erg soos sy pa en ma nie: hy het darem die klippilaar van Baäl wat deur sy pa gemaak is, verwyder. 3Tog het hy volhard in die sondes wat Jerobeam seun van Nebat vir Israel laat doen het; hy het dit nie laat vaar nie.

4Koning Mesa van Moab was 'n skaapboer wat honderd duisend lammers en die wol van honderd duisend ramme aan die koning van Israel moes lewer. 5Toe Agab dood is, het die koning van Moab teen die koning van Israel gerebelleer. 6Koning Joram het onmiddellik uit Samaria vertrek en die hele Israel onder die wapen gebring. 7Hy het aan koning Josafat van Juda die volgende boodskap gestuur: “Die koning van Moab het teen my gerebelleer. Gaan jy hom saam met my aanval?”

Josafat het geantwoord: “Ek sal saam met jou opruk. Ek en jy is een. My manskappe is jou manskappe, en my perde is jou perde.”

8“Met watter pad sal ons opruk?” het Joram gevra.

“Met die pad deur die Edomwoestyn,” het Josafat geantwoord.

9Die koning van Israel, die koning van Juda en die koning van Edom het saam opgetrek. Nadat hulle sewe dae gevorder het, was daar nie meer water vir die manskappe en vir die diere by hulle nie.

10Toe sê die koning van Israel: “Helaas, die Here het hierdie drie konings geroep net om hulle in die mag van Moab oor te gee.”

11Maar Josafat het gevra: “Is hier nie 'n profeet van die Here deur wie ons die Here kan raadpleeg nie?”

Een van die amptenare van die koning van Israel het geantwoord: “Elisa seun van Safat is hier. Hy het sy opleiding by Elia gekry.”

12Toe het Josafat gesê: “Die woord van die Here is by Elisa.”

Daarna het Josafat en die konings van Israel en Edom na Elisa toe gegaan.

13Elisa het vir die koning van Israel gesê: “Het ons nog iets vir mekaar te sê? Gaan na die profete van jou pa en jou ma toe.”

Maar die koning van Israel het vir hom gesê: “Nee, dit is tog die Here wat hierdie drie konings geroep het net om hulle in die mag van Moab oor te gee.”

14Elisa het geantwoord: “So seker as die Here die Almagtige lewe, in wie se diens ek is, as dit nie was dat ek agting het vir die persoon van koning Josafat van Juda nie, sou ek my nie eens verwerdig het om na jou te kyk nie. 15Bring nou vir my 'n lierspeler.”

Terwyl die lierspeler gespeel het, het die mag van die Here vir Elisa in besit geneem, 16en hy het gesê: “So sê die Here: Daar sal damme en damme water in hierdie vallei staan. 17Kyk, so sê die Here: Julle sal nie wind of reën sien nie, en tog sal hierdie vallei vol water word, sodat julle en julle slagvee en julle pakdiere kan drink. 18Vir die Here is dit maar iets gerings om te doen: Hy sal ook vir Moab in julle mag oorgee. 19Julle sal al hulle vestingstede, die uitsoekstede, inneem, al die mooi bome uitkap, al die fonteine toestop, en al die mooi lande vol klippe gooi.”

20Die volgende môre, teen die tyd dat die offer gewoonlik gebring word, het daar onverwags water uit die rigting van Edom gekom, en die hele gebied het vol water geloop.

21Die Moabiete het verneem dat die konings opruk om teen hulle te veg. Almal wat bewapen kon word, jonk en oud, is opgekommandeer en het by die grens gaan stelling inneem. 22Toe hulle vroeg die volgende môre opstaan, net toe die son opkom oor die water, sien die Moabiete die water oorkant hulle, rooi soos bloed.

23“Dis bloed!” het hulle geskree. “Die konings het met mekaar begin veg en mekaar doodgemaak. Storm op die buit af, Moabiete!”

24Toe hulle by die kamp van die Israeliete kom, het die Israeliete hulle aangeval en verslaan. Die Israeliete het die Moabiete voor hulle uit op die vlug gedryf, Moab binnegedring en dit verwoes. 25Hulle het die stede in puin gelê en elke bewerkbare stuk grond met klippe besaai: elkeen het 'n klip gegooi om dit vol klippe te kry. Elke fontein het hulle toegestop en elke goeie boom afgekap. Uiteindelik het net Kir-Geres oorgebly. Die soldate met slingervelle het die stad omring en dit ingeneem.

26Toe die koning van Moab sien dat hy die geveg gaan verloor, het hy sewe honderd man wat met swaarde bewapen was, gevat in 'n poging om by die koning van Edom deur te breek, maar hulle kon nie. 27Toe vat die koning van Moab sy oudste seun wat in sy plek sou koning word en offer hom as brandoffer op die stadsmuur. Dit het die Israeliete so geskok dat hulle daarvandaan vertrek en na hulle land toe teruggegaan het.

Die weduwee se olie

1'n Vrou van 'n profeet het haar nood by Elisa kom kla: “My man is dood. U weet self dat hy die Here gedien het. Nou het die skuldeiser gekom om my twee seuns te vat en hulle sy slawe te maak.”

2Elisa het vir haar gesê: “Ek sal jou help. Sê vir my: wat het jy in jou huis?”

Sy het geantwoord: “Ek het niks in die huis nie behalwe 'n erdekannetjie olie.”

3Hy het toe gesê: “Gaan leen nou by al jou bure leë kruike, en sorg dat jy nie te min leen nie. 4Dan gaan jy in jou huis in, maak die deur agter jou en jou seuns toe, en gooi elkeen van hierdie kruike vol olie. Soos elkeen vol word, moet jy hom wegpak.”

5Sy is van hom af weg. Sy het die deur agter haar en haar seuns toegemaak. Soos hulle die kruike na haar toe aangedra het, het sy hulle volgemaak. 6Toe die kruike vol was, sê sy vir een van haar seuns: “Bring vir my nog 'n kruik.”

Maar hy het gesê: “Daar is nie meer 'n kruik oor nie.”

Toe het daar nie 7meer olie uit die kannetjie gekom nie. Sy het by die man van God aangekom en dit vir hom vertel. Hy het gesê: “Gaan verkoop die olie en betaal jou skuld. Jy en jou seuns kan dan leef van wat oorbly.”

Die seun van die Sunemmitiese vrou

8Op 'n dag het Elisa na Sunem toe gegaan.

Daar was 'n vooraanstaande vrou wat by hom daarop aangedring het om vir ete oor te bly. Elke keer as hy daar verbykom, het hy eers by haar aangegaan om te eet. 9Sy het vir haar man gesê: “Ek weet dit is 'n heilige man van God wat gereeld hier by ons aankom. 10Kom ons bou 'n klein bovertrekkie en sit vir hom 'n bed, 'n tafel, 'n stoel en 'n lamp daarin. Wanneer hy by ons aankom, kan hy daar intrek.”

11Op 'n dag toe Elisa weer daar aankom, het hy in die bovertrek ingetrek en gaan rus. 12Hy het vir Gehasi sy slaaf gesê: “Roep bietjie die Sunemmitiese vrou.”

Gehasi het haar geroep, en toe sy voor Elisa se kamer staan, 13sê hy vir sy slaaf: “Sê vir haar: Jy het al hierdie moeite vir ons gedoen. Wat kan ek vir jou doen? Sal ek vir jou 'n woordjie doen by die koning of by die hoof van die leër?”

“Ek woon hier tussen my eie mense,” was haar antwoord.

14Hy vra toe: “Maar kan daar nie iets vir haar gedoen word nie?” Waarop Gehasi antwoord: “Ja tog, sy het nie 'n seun nie, en haar man is al oud.”

15“Roep haar hiernatoe,” sê Elisa.

Toe Gehasi haar nader roep, het sy in die deur kom staan.

16Toe sê Elisa: “Hierdie tyd oor 'n jaar sal jy 'n seun in jou arms hou.”

Sy antwoord: “Nee, Meneer, u is 'n man van God, u moet tog nie vir my iets sê wat nie so kan wees nie!”

17Die vrou het swanger geword en 'n seun in die wêreld gebring, presies 'n jaar later, net soos Elisa vir haar gesê het.

18Toe die seun groter geword het, het hy op 'n dag na sy pa-hulle toe gegaan waar hulle besig was om te oes. 19Skielik het hy vir sy pa gesê: “My kop, my kop!”

Sy pa het vir 'n slaaf gesê: “Dra hom na sy ma toe.”

20Die slaaf het hom na sy ma toe gedra. Hy het op haar skoot gelê tot die middag, en toe is hy dood. 21Sy het hom boontoe gedra en hom neergelê op die bed van die man van God, en toe sy uitgaan, het sy die deur agter haar toegetrek. 22Sy het haar man geroep en gesê: “Stuur tog vir my 'n slaaf en 'n donkie. Ek wil na die man van God toe gaan en gou weer terug wees.”

23“Maar waarom gaan jy vandag na hom toe,” het haar man gevra, “dit is mos nie nuwemaan of sabbat nie?”

Maar sy het hom gerusgestel, 24die donkie opgesaal en vir haar slaaf gesê: “Jaag die donkie aan. Moenie dat hy gaan staan nie, behalwe as ek vir jou so sê.”

25Sy is toe vort en het by die man van God aangekom by Karmelberg. Toe die man van God haar op 'n afstand sien aankom, sê hy vir Gehasi sy slaaf: “Dis mos die Sunemmitiese vrou daardie. 26Hardloop haar tegemoet en vra vir haar: Gaan dit goed met jou? Gaan dit goed met jou man? En met jou seun?”

Vir Gehasi het sy gesê: “Dit gaan goed,” 27maar toe sy by die man van God op die berg kom, het sy aan sy voete vasgeklou.

Toe Gehasi nader staan om haar weg te stoot, sê die man van God: “Los haar, sy is baie hartseer. Die Here het dit vir my verberg en vir my niks gesê nie.”

28Sy sê toe vir hom: “Meneer, het ek van u 'n seun gevra? Het ek nie gesê: Moenie by my 'n valse hoop wek nie?”

29Toe sê hy vir Gehasi: “Maak gou klaar, vat my kierie en vertrek. As jy iemand raakloop, moet hom nie groet nie. Gaan sit my kierie op die gesig van die seun.”

30Toe sê die seun se ma: “So seker as die Here leef en u leef, ek sal u nie toelaat om agter te bly nie.”

Hy het opgestaan en saam met haar gegaan. 31Gehasi was voor hulle daar en hy het die kierie op die seun se gesig gesit, maar daar was geen geluid of enige teken van lewe nie. Hy gaan toe terug na Elisa toe en sê vir hom dat die seun nie bygekom het nie. 32Toe Elisa in die huis kom, het die seun daar dood gelê net soos hy op die bed neergelê was. 33Elisa het die kamer binnegegaan en die deur toegemaak sodat hulle alleen was. Nadat hy tot die Here gebid het, 34het Elisa op die bed geklim en bo-op die seun gaan lê. Hy het vol op die seun gelê met sy mond op die seun se mond, sy oë op sý oë, sy hande op sý hande, sodat die seun se liggaam warm geword het. 35Nadat hy 'n keer heen en weer in die huis geloop het, het hy weer op hom gaan lê. Die seun het sewe keer genies en toe sy oë oopgemaak.

36Elisa het vir Gehasi geroep en hom beveel om die Sunemmitiese vrou te roep. Hy het dit gedoen en toe sy inkom, sê Elisa vir haar: “Tel jou seun op.”

37Sy het ingekom en by sy voete op haar knieë geval en gebuig. Toe tel sy haar kind op en gaan uit.

'n Giftige bredie word eetbaar

38Elisa is terug Gilgal toe. Daar was in dié tyd 'n hongersnood in die land. Terwyl die profete aan sy voete gesit het, sê hy vir sy slaaf: “Sit 'n groot pot op die vuur en kook 'n bredie vir die profete.”

39Een van hulle is veld toe om te gaan kruie pluk. Hy het op wilde ranke afgekom en wildekomkommers daarvan afgepluk tot sy sakke vol was. Hy het dit in die pot met bredie gaan insny sonder om te weet wat dit regtig was.

40Hulle het met ete vir die manne van die bredie opgeskep, maar net toe hulle dit proe, roep hulle uit: “Man van God, daar is gif in die kos!” Hulle kon dit nie eet nie.

41Elisa het gesê: “Bring 'n bietjie meel.”

Hy het dit in die pot gegooi en gesê: “Skep op vir die mense dat hulle kan eet.”

Die kos in die pot was toe nie meer giftig nie.

Kos vir honderd mense

42Daar het 'n man uit Baäl-Salisa aangekom wat vir die man van God brood gebring het, twintig garsbrode gebak met meel van die nuwe oes, en ook vars koringare.

Elisa het gesê: “Gee dit vir die mense om te eet.”

43Maar sy slaaf het beswaar gemaak: “Hoe kan ek die bietjie kos aan 'n honderd man voorsit?”

Maar Elisa het weer gesê: “Gee dit vir die mense om te eet, want so sê die Here: Hulle sal eet en nog oorhou.”

44Die slaaf het dit vir hulle voorgesit. Hulle het geëet en oorgehou, net soos die Here gesê het.

Naäman word genees van melaatsheid

1Naäman, die hoof van die leër van die koning van Aram, was 'n gesiene man wat die agting van die koning geniet het. Deur hom het die Here 'n oorwinning aan Aram besorg. Die man was 'n dapper soldaat, maar hy het melaats geword.

2Op een van hulle strooptogte het die Arameërs 'n jong dogtertjie uit Israel ontvoer wat Naäman se vrou se bediende geword het. 3Sy het vir die vrou gesê: “Ag, as Meneer net by die profeet in Samaria kon uitkom, dan sal hy vir Meneer van sy melaatsheid gesond maak.”

4Naäman het by die koning gekom en hom meegedeel wat die dogtertjie uit Israel gesê het.

5“Gaan gerus,” het die koning van Aram gesê, “ek stuur jou met 'n brief na die koning van Israel toe.”

Hy het vertrek en drie honderd twee en veertig kilogram silwer, ag en sestig kilogram goud en tien stelle klere met hom saamgevat. 6Hy het die brief na die koning van Israel toe gebring. Dit het só gelui: “Ek het my dienaar Naäman met hierdie brief na jou toe gestuur. Wanneer hy by jou uitkom, moet jy hom van sy melaatsheid gesond maak.”

7Toe die koning die brief gelees het, het hy sy klere geskeur en gesê: “Is ek dan God wat mense laat sterwe of aan hulle die lewe gee dat hierdie man iemand na my toe stuur om hom van sy melaatsheid gesond te maak? Dit moet vir julle duidelik wees hy soek net skoor met my.”

8Elisa die man van God het te hore gekom dat die koning van Israel sy klere geskeur het en het 'n boodskap aan die koning gestuur: “Hoekom het u u klere geskeur? Laat Naäman na my toe kom, sodat hy kan besef dat daar 'n profeet in Israel is.”

9Toe Naäman met sy wa en perde daar aankom, het hy stilgehou voor die deur van Elisa se huis. 10Elisa het 'n boodskap na hom toe gestuur: “Gaan was jou sewe maal in die Jordaan, dan sal jy gesond word en rein wees.”

11Naäman het vererg weggery en gesê: “Ek het darem gedink hy sou uitkom en gaan staan, die Naam van die Here sy God aanroep, dan sy hand heen en weer oor die plek beweeg en so die melaatsheid wegneem. 12Is die riviere van Damaskus, die Abana en die Parpar, nie beter as al die waters van Israel nie? Kan ek my nie daarin was om rein te word nie?”

So het hy woedend daarvandaan teruggery.

13Sy amptenare het by hom gekom en mooi met hom gepraat: “Meneer, as die profeet iets moeiliks van u verwag het, sou u dit nie gedoen het nie? Hoeveel te meer nou dat hy eenvoudig vir u gesê het: Was jou en jy sal rein wees?”

14Hy het toe afgegaan na die Jordaan toe en hom sewe keer daarin gebad, soos die man van God gesê het, en sy vel het gesond geword soos dié van 'n klein seuntjie en hy was weer rein.

15Hy en sy hele gevolg het teruggegaan na die man van God toe. Daar aangekom, het Naäman voor die man van God gaan staan en gesê: “Ek weet nou, daar is geen God op die hele aarde nie behalwe in Israel. Aanvaar asseblief hierdie geskenk van my.”

16Maar Elisa het gesê: “So seker as die Here leef in wie se diens ek is, ek sal dit nie aanvaar nie.”

Naäman het by Elisa daarop aangedring om dit te aanvaar, maar hy het bly weier.

17Toe sê Naäman: “As u dan nie iets wil hê nie, wil u nie asseblief vir my twee muilvragte grond laat kry nie? Daarop wil ek brandoffers en ander diereoffers bring, net aan die Here, nie langer aan enige ander god nie. 18Daar is net een ding wat die Here my asseblief sal moet vergewe: as my koning na die tempel van Rimmon toe kom om te aanbid, en ek hom moet vergesel, en ek dan in die tempel van Rimmon aanbid wanneer hy daar aanbid, mag die Here my dit vergewe!”

19Elisa het van Naäman afskeid geneem, maar toe hy 'n ent weg was, 20het Gehasi, die slaaf van Elisa die man van God, vir homself gesê: “Meneer het hierdie Arameër Naäman laat wegkom sonder om iets te aanvaar van alles wat hy gebring het. So seker as die Here leef, ek gaan agter hom aan hardloop en ek sal iets van hom aanvaar.”

21Gehasi is agter Naäman aan. Toe Naäman hom agter hom aan sien hardloop, het hy van die wa af afgespring, hom tegemoet gegaan en gevra: “Wat is verkeerd?”

22“Niks nie,” het hy geantwoord. “Die profeet het my gestuur om te sê: Daar het nou net twee jongmanne van die profetegemeenskap hier aangekom van die Efraimsberge af, en sal u nie asseblief vir hulle vier en dertig kilogram silwer en twee stelle klere gee nie.”

23Naäman het gesê: “Wees so vriendelik om ag en sestig kilogram te aanvaar.”

Hy het by hom daarop aangedring, die ag en sestig kilogram silwer in twee geldsakke toegebind en dit saam met die twee stelle klere aan twee van sy slawe gegee om dit voor Gehasi uit te dra. 24Toe hy by Die Bult kom, het hy dit by hulle gevat en in sy kamer gaan wegsteek. Toe hy die manne laat gaan het en hulle daar weg is, 25en hy inkom en by die profeet gaan staan, vra Elisa vir hom: “Waar kom jy vandaan, Gehasi?”

Hy het geantwoord: “Ek was nêrens heen nie.”

26Hy sê toe vir hom: “Was ek nie in die gees by jou toe iemand van sy wa af omgedraai het om jou tegemoet te gaan nie? Moes jy dié geleentheid aangryp om silwer en klere in die hande te kry, of olyfboorde en wingerde, kleinvee en grootvee, slawe en slavinne? 27Die melaatsheid waarmee Naäman aangetas was, sal vir altyd aan jou en jou nageslag sit.”

Toe hy van Elisa af weggaan, was hy klaar melaats, wit soos sneeu.

1As jy vir iemand borg gestaan het, my seun,

as jy jou verbind het vir 'n ander,

2verstrik geraak het deur wat jy gesê het

en vasgevang is deur jou eie woorde,

3doen dan dít, my seun,

en red jouself só as jy in 'n ander se mag beland het:

gaan soebat hom, gaan pleit by hom;

4moenie gaan slaap nie, bly wakker,

5red jou uit sy mag soos 'n wildsbok uit 'n strik,

soos 'n voëltjie uit die net van 'n voëlvanger.

6Gaan kyk na die mier, luiaard,

kyk hoe hy werk, en leer by hom.

7Hy het nie 'n leier nie,

nie 'n opsigter of 'n regeerder nie,

8tog maak hy sy kosvoorraad reg in die somer,

versamel hy sy voedsel in die oestyd.

9Hoe lank gaan jy nog lê, luiaard,

wanneer gaan jy opstaan?

10Nog 'n bietjie slaap, nog 'n bietjie sluimer,

nog 'n bietjie handevou en bly lê,

11en daar oorval die armoede jou soos 'n rower,

daar oorrompel die gebrek jou soos 'n inbreker.

12Dit is 'n nikswerd mens, 'n mens vol onreg,

wat altyd reg is om te lieg,

13om te bedrieg deur met die oog te knik,

met die voet te beduie,

met die vingers tekens te gee,

14wat altyd met 'n skelmstreek kom

en voortdurend op kwaad uit is.

Hy maak moeilikheid waar hy gaan.

15So 'n mens se ondergang kom skielik;

hy stort ineen, en daar is nie herstel nie.

16Die Here haat ses dinge,

nee, daar is sewe waarvan Hy 'n afsku het:

17oë wat straal van hoogmoed,

'n tong wat lieg,

hande wat met bloed bevlek is,

18gedagtes wat met komplotte besig is,

voete wat net een koers ken, dié van die kwaad,

19'n getuie wat lieg

en iemand wat rusie stook tussen broers.

20My seun, hou vas aan wat jou vader jou voorskryf;

wat jou moeder jou leer,

moet jy nie in die wind slaan nie.

21Dit moet jou altyd bybly,

daarmee moet jy saamleef;

22dit sal vir jou leiding gee in wat jy doen,

dit sal jou beskerm as jy slaap

en jou lei sodra jy wakker word.

23Wat ek jou voorskryf, is 'n lamp,

my onderrig is 'n lig;

wie hom laat teregwys,

is op die pad na die lewe toe.

24My onderrig sal jou beskerm

teen die slegte vrou van 'n ander

wat jou met haar gladde tong wil verlei.

25Moenie dat haar skoonheid jou begeerte wek nie,

moenie dat sy jou vang met haar oë nie.

26Jy kan 'n prostituut kry vir 'n stuk brood,

maar owerspel kan jou lewe kos.

27Kan jy kole vuur in die vou van jou klere inhark

sonder dat jou klere aan die brand raak?

28Kan jy op brandende kole loop

sonder dat jy jou voete verbrand?

29Net so min kan jy by 'n ander man se vrou slaap

sonder om gestraf te word,

jy sal nie vry kom as jy met haar lol nie.

30'n Dief word verag as hy steel,

ook al steel hy om sy honger te stil,

31en as hy uitgevind word, moet hy sewevoudig teruggee,

selfs al kos dit hom alles wat hy besit.

32Maar 'n man wat owerspel pleeg,

moet van sy verstand af wees,

iemand wat dit doen, verwoes sy lewe.

33Hy sal slae op die lyf loop en verneder word,

sy skande sal nooit uitgewis word nie.

34Die woede van die vrou se man is 'n gloeiende vuur,

sy wraak ken nie perke nie;

35hy laat hom nie afkoop nie,

geen betaling is vir hom genoeg nie.

Bible Society of South Africav.4.18.14
VOLG ONS