Elisa laat 'n byl op die water dryf
1Die profete het vir Elisa gesê: “Die plek waar ons van u onderrig ontvang, het te klein geword vir ons. 2Laat ons na die Jordaan toe gaan en balke kap om vir ons 'n bymekaarkomplek te bou.”
“Gaan gerus,” het hy geantwoord.
3Een het vir hom gevra: “Wil u nie met ons saamgaan nie?”
Hy het geantwoord: “Ek sal gaan,” 4en hy het saam met hulle gegaan.
Toe hulle by die Jordaan kom, het hulle bome afgekap. 5Terwyl een besig was om 'n boom af te kap, het sy byl in die water geval. Hy roep toe: “Ag tog, Meneer, en dit was boonop 'n geleende byl!”
6Die man van God het gevra waar die byl ingeval het. Toe die profeet vir hom die plek gewys het, het hy 'n stuk hout afgekap en dit daar ingegooi, en dit het die byl bo laat dryf. 7Hy sê toe vir hom: “Haal dit uit.” Die man het sy hand uitgesteek en dit gevat.
Die Arameërs word met blindheid geslaan
8Die koning van Aram was in oorlog met Israel gewikkel en het telkens met sy offisiere afgespreek dat hy op 'n sekere plek sou kamp opslaan. 9Die man van God het dan aan die koning van Israel die volgende boodskap gestuur: “Pas op dat u nie na daardie plek toe optrek nie, want die Arameërs trek soontoe op.”
10Gevolglik het die koning van Israel boodskappe deurgestuur na die plek toe wat die man van God aan hom genoem het en hom voor gewaarsku het. Die mense daar was dan keer op keer voorbereid.
11Die koning van Aram het baie onrustig geword hieroor. Hy het sy offisiere laat roep en vir hulle gesê: “Ek wil van julle weet wie van ons dra nuus oor aan die koning van Israel.”
12Een van sy offisiere het geantwoord: “Nie een van ons nie, U Majesteit, maar die profeet Elisa daar in Israel kan vir die koning van Israel vertel selfs wat u in u slaapkamer sê.”
13Die koning van Aram het gesê: “Gaan vind uit waar hy is, dan stuur ek manne om hom te vang.”
Die koning is meegedeel: “Hy is in Dotan.”
14Die koning stuur toe perde, strydwaens en 'n sterk mag daarheen. Hulle het in die nag gekom en die stad omsingel.
15Die môre vroeg het die slaaf van die man van God opgestaan, en toe hy uitgaan, sien hy 'n leër rondom die stad, met perde en strydwaens. “Ag, Meneer!” sê die slaaf vir Elisa, “wat gaan ons nou maak?”
16Hy het geantwoord: “Moenie bang wees nie, dié wat by ons is, is meer as wat hulle is.”
17Elisa het gebid: “Here, maak tog sy oë oop dat hy kan sien.”
Die Here het die oë van die slaaf oopgemaak, en hy het gesien: die berge rondom Elisa was vol perde en strydwaens van vuur. 18Toe die Arameërs op hom afstorm, het Elisa tot die Here gebid: “Slaan tog hierdie mense met blindheid!”
Die Here het hulle met blindheid geslaan net soos Elisa gevra het.
19Elisa sê toe vir hulle: “Dis nie die regte pad nie en dis nie die regte stad hierdie nie. Kom agter my aan, dan lei ek julle tot by die man vir wie julle soek.”
Hy het hulle na Samaria toe gelei. 20Toe hulle in Samaria kom, sê Elisa: “Here, maak hierdie mense se oë oop dat hulle kan sien.”
Toe die Here hulle oë oopmaak en hulle kyk, toe is hulle binne-in Samaria!
21Toe die koning van Israel hulle sien, vra hy vir Elisa: “Moet ek hulle doodmaak, Meneer, moet ek hulle doodmaak?”
22“Nee, moet hulle nie doodmaak nie,” was sy antwoord. “Sou jý mense doodmaak wat jy met jou eie swaard en jou pyl en boog krygsgevange geneem het? Sit vir hulle eet- en drinkgoed voor, dat hulle kan eet voordat hulle teruggaan na hulle koning toe.”
23Die koning van Israel het vir hulle 'n groot feesmaal gegee. Nadat hulle geëet het, het hy hulle laat gaan, terug na hulle koning toe. Die bendes van die Arameërs het toe nie weer in die land Israel gekom nie.
Hongersnood in Samaria. Die Arameërs vlug
24Later het koning Ben-Hadad van Aram sy hele leër opgeroep, na Samaria toe opgeruk en dit beleër. 25Daar het 'n groot hongersnood in Samaria ontstaan, en die beleg het voortgeduur totdat die kop van 'n donkie naderhand byna 'n kilogram silwer gekos het en 'n klein skeppie duiwemis sewe en vyftig gram.
26Toe die koning van Israel 'n keer op die stadsmuur langs verbyloop, het 'n vrou uitgeroep: “Help my asseblief, U Majesteit!”
27Hy het geantwoord: “As die Here jou nie help nie, hoe sal ek jou kan help? Uit die dorsvloer of uit die parskuip?”
28Toe die koning haar vra wat haar moeilikheid is, antwoord sy: “Hierdie vrou het aan my voorgestel: ‘Gee jou kind dat ons hom vandag eet, dan kan ons môre my kind eet.’ 29Ons het toe my kind gekook en geëet, maar toe ek vir haar die volgende dag sê: Gee nou jou kind dat ons hom eet, het sy haar kind weggesteek!”
30Toe die koning die vrou se verhaal hoor, het hy sy klere geskeur. Soos hy op die muur langs verbygeloop het, kon die bevolking sien dat hy 'n roukleed onder sy ander klere aanhet. 31Hy het uitgeroep: “Mag die Here my om die lewe bring as ek vandag Elisa seun van Safat se kop op sy lyf laat bly.”
32Elisa het in sy huis gesit saam met die leiers. Die koning het iemand met 'n opdrag gestuur, maar voordat die boodskapper nog by Elisa aangekom het, het hy al vir die leiers gesê: “Weet julle, hierdie moordenaarskind het iemand gestuur om my kop af te kap. Hou dop wanneer die boodskapper kom. Sluit dan die deur en hou hom buite. Sy koning kom agter hom aan.”
33Terwyl Elisa nog so met hulle sit en praat, het die koning self na hom toe gekom en gesê: “Kyk watter ellende het die Here oor ons gebring. Hoe kan ek nog op die Here hoop!”