Bible Society of South Africa

Na die Woord – Dag 103

JESAJA 44–47, MATTEUS 12–13

Bybelteks(te)

Ek sal my seën uitgiet op jou kinders

1Maar luister nou, my dienaar Jakob,

Israel wat Ek uitverkies het:

2So sê die Here wat jou gemaak het,

Hy wat jou gevorm het in die moederskoot

en jou nou nog help:

Moenie bang wees nie, my dienaar Jakob,

Jesurun wat Ek uitverkies het.

3Ek sal volop water gee op die dorsland,

strome op die droë grond.

Ek sal my Gees uitgiet op jou kinders,

my seën op jou nakomelinge.

4Hulle sal uitspruit soos gras in die veld,

soos wilgerbome langs waterlope.

5Die een sal sê: “Ek behoort aan die Here,”

en homself 'n nakomeling van Jakob noem;

die ander sal op sy hand skryf: Die Here S'n

en homself 'n lid van die volk Israel noem.

Buiten My is daar geen God nie

6So sê die Here, die Koning van Israel,

sy Verlosser, die Here die Almagtige:

Ek is die eerste en Ek is die laaste,

buiten My is daar geen God nie.

7Wie soos Ek is, laat hom dit sê,

laat hom sy saak stel en dit aan My voorlê;

laat hom 'n verklaring gee van wat gebeur het

vandat Ek my volk lank gelede gemaak het

en ook van wat sal gebeur;

laat hy vertel van die dinge wat kom.

8Moenie skrik nie, moenie bang wees nie!

Het Ek dit nie van lankal af aan julle verkondig,

dit vir julle gesê nie?

Julle is my getuies: is daar 'n God buiten My?

Daar is geen ander Rots nie;

Ek weet van geeneen nie.

9Dié wat afgodsbeelde maak, is self almal niks;

die dierbare gode van hulle kan nie help nie.

Dié wat vir hulle moet getuig, kan nie sien nie,

kan nie verstaan nie;

dié wat sulke gode het, word teleurgestel.

10Wie maak nou 'n god, giet 'n beeld

wat nie kan help nie!

11Almal wat so 'n god aanhang, word teleurgestel:

dit is gode wat deur mense gemaak is.

Wanneer dié wat hulle aanhang, bymekaarkom vir 'n beslissing,

staan hulle verbyster en verleë.

12Die ystersmid vat 'n stuk gereedskap

en werskaf in die gloeiende kole.

Met hamers vorm hy die beeld,

met sy gespierde arm maak hy die beeld:

die smid eet nie en word swak,

hy drink nie water nie en raak uitgeput.

13Die ambagsman wat hout gebruik, meet met sy maatlyn

en merk die beeld se buitelyne af.

Hy bewerk hom met beitels

en trek sy mate met 'n passer af.

Hy maak hom in die vorm van 'n mens,

'n pragtige mens wat in 'n huis moet woon.

14Die ambagsman kap vir hom seders af,

of hy kies sipresse of eike

en laat hulle groot word in die bos,

of hy plant 'n lourierboom,

en die reën laat dit groot word.

15Dit dien as vuurmaakhout vir die mens;

iemand vat daarvan en maak hom warm,

of hy maak 'n vuur om brood te bak,

of hy maak 'n god en aanbid dit,

hy maak 'n beeld en buig daarvoor.

16'n Deel van die hout verbrand hy:

hy maak kos daarmee gaar,

hy braai vleis en eet tot hy genoeg het;

hy maak hom ook warm en sê: “Dis lekker!

Ek is warm, ek geniet die vuur!”

17Van die hout wat oorbly, maak hy 'n god, 'n beeld,

hy buig voor hom en aanbid hom,

hy bid tot hom en sê: “Red my, want jy is my god!”

18Sulke mense weet nie wat hulle doen nie,

hulle het nie insig nie,

hulle oë is toegepleister, hulle sien nie,

niks dring tot hulle verstand deur nie.

19Hulle kom nie tot besinning nie,

hulle het te min kennis en verstand om te sê:

“'n Gedeelte van die hout het ek verbrand,

ek het op die kole kos gaar gemaak,

ek het vleis gebraai en geëet,

en moet ek nou van wat oor is 'n afskuwelike afgod maak,

moet ek voor 'n stuk hout buig?”

20Iemand wat hom met as besig hou,

laat hom mislei deur sy eie verdraaide opvattings.

Hy kan homself nie red nie,

hy vra homself nie af:

“Is dit nie 'n leuen waarmee ek my besig hou nie?”

21Dink hieraan, Jakob,

dink hieraan, Israel, want jy is my dienaar;

Ek het jou gemaak, jy is my dienaar.

Ek sal jou nie verlaat nie, Israel.

22Ek het jou oortredinge, jou sondes, uitgewis,

hulle het verdwyn soos wolke, soos miswolke.

Kom terug na My toe,

want Ek het jou verlos.

23Juig, hemel, oor wat die Here gedoen het,

jubel, dieptes van die aarde,

wees bly en juig, berge en bosse,

want die Here het vir Jakob, vir Israel, verlos,

die Here het sy mag laat blyk.

Ek is die Here, Ek doen al hierdie dinge

24So sê die Here jou Verlosser

wat jou in die moederskoot gevorm het:

Ek is die Here, Ek het alles geskep,

Ek alleen het die hemel oopgespan,

Ek het die aarde gevorm; daar was niemand by nie.

25Ek stel die toekomsvoorspellers aan die kaak,

Ek maak die waarsêers belaglik.

Ek weerlê dié geleerde mense,

Ek ontmasker hulle kennis as dwaasheid.

26Ek bevestig die woorde van my dienaar,

Ek bring wat my boodskappers aangekondig het, tot vervulling.

Ek sê van Jerusalem: Hy moet weer bewoon word,

en van die stede van Juda: Hulle moet weer opgebou word,

en Ek self bou Jerusalem se ruïnes weer op.

27Ek sê vir die diep waters van Babel: Droog op!

Ek sal jou riviere laat opdroog.

28Ek sê vir Kores: Ek het jou as herder aangestel,

jy moet my wil uitvoer,

jy moet van Jerusalem sê:

“Hy moet weer opgebou word

en die tempel moet herstel word.”

1So sê die Here aan sy gesalfde, aan Kores,

vir wie Hy as heerser aangestel het,

aan wie Hy nasies onderwerp

en voor wie Hy konings hulle wapens laat neerlê,

voor wie Hy deure oopmaak

en poorte nie gesluit laat bly nie:

2Ek self sal voor jou uit gaan

en hoogtes gelykmaak.

Ek sal bronspoorte oopbreek

en sluitbalke van yster stukkend kap.

3Ek sal vir jou die skatte gee wat in die donker gebêre word,

die rykdomme wat weggesluit is,

sodat jy kan weet dat Ek die Here is,

dat Ek jou op jou naam geroep het,

Ek, die God van Israel.

4Ter wille van my dienaar Jakob,

van Israel wat Ek uitverkies het,

het Ek jou op jou naam geroep,

gee Ek jou 'n eretitel hoewel jy My nie ken nie.

5Ek is die Here, daar is geen ander nie,

buiten My is daar geen God nie.

Ek rus jou toe vir jou taak al ken jy My nie.

6Ek doen dit sodat elkeen van die ooste af

tot in die weste kan weet

dat daar buiten My geen God is nie;

Ek is die Here, daar is geen ander nie.

7Ek maak die lig en skep die donker;

Ek gee voorspoed en skep rampspoed.

Ek is die Here, Ek doen al hierdie dinge.

8Laat die reën uitsak, hemel,

laat redding reën, wolke,

breek oop, aarde, laat voorspoed ontkiem,

laat trou uitspruit.

Ek is die Here, Ek skep hierdie dinge.

Durf julle aan My voorskryf?

9Ellende wag vir hom wat die Een verwyt wat hom gevorm het,

'n potskerf tussen potskerwe van klei.

Durf die klei vir die een wat dit vorm, sê: “Wat maak jy?”

Durf wat jy gemaak het, van jou sê:

“Hy kan nie sy hande gebruik nie!”

10Ellende wag vir hom wat vir sy pa sê:

“Waarom verwek u 'n kind?”

of vir sy ma: “Waarom bring u 'n kind in die wêreld?”

11So sê die Here, die Heilige van Israel,

die Skepper van Israel:

Durf julle van My rekenskap vra oor wat gaan gebeur?

Durf julle aan My voorskryf oor my kinders

en oor die werk van my hande?

12Ek het die aarde gemaak;

die mensdom wat daarop is, het Ek geskep.

Ek het met my hande die hemel oopgespan

en Ek het aan al die hemelliggame hulle opdragte gegee.

13Ek het vir Kores te voorskyn laat tree om reg te laat geskied;

Ek verwyder elke hindernis op sy pad.

Hy sal my stad weer opbou

en my ballinge terugstuur

sonder dat hy betaling of 'n geskenk daarvoor ontvang,

sê die Here die Almagtige.

Die Here alleen is God

14So sê die Here:

Die opbrings van Egipte en die winste van Kus

sal na jou toe oorgaan en sal joune wees,

ook die mense van Seba, die groot mense.

Hulle sal agter jou loop en jou volg in kettings,

hulle sal diep voor jou buig en teenoor jou bely:

“Waarlik, God is by jou,

en daar is geen ander nie,

daar is nie nog 'n God nie.”

15U is die God wat U verborge hou,

die God van Israel, die Redder!

16Dié wat afgode maak, staan almal verleë,

teleurgestel in hulle verwagting,

hulle kom bedroë daarvan af.

17Maar Israel word deur die Here gered

met 'n blywende redding.

Hulle sal nie verleë staan nie en nooit teleurgestel word nie.

18So sê die Here, Hy wat die hemel geskep het,

Hy wat alleen God is,

Hy wat die aarde gevorm, gemaak het,

dit gereed gemaak, geskep het,

dit gevorm het, nie om leeg te wees nie,

maar om bewoon te word:

Ek is die Here; daar is geen ander nie.

19Ek het nie in die geheim gepraat

iewers in 'n donker land nie.

Ek het nie aan die nakomelinge van Jakob gesê om My in 'n onbewoonbare land te dien nie.

Wat Ek, die Here, sê, bring redding,

my woorde gee lewe.

Net van die Here kom daar redding en krag

20Kom almal bymekaar, kom nader vir die beslissing,

vlugtelinge uit die nasies.

Dié wat afgodsbeelde dra wat van hout gemaak is,

en tot 'n god bid wat nie kan red nie,

het geen insig nie.

21Stel julle saak en bring julle bewyse,

beraadslaag gerus met mekaar daaroor.

Wie het wat nou gebeur, lankal aangekondig?

Wie het al vantevore gesê dit sal gebeur?

Is dit nie Ek, die Here, nie?

Daar is buiten My geen God nie;

net Ek is 'n God wat regverdig is en red.

22Kom na My toe dat julle gered kan word,

almal op die aarde,

want Ek is God, daar is geen ander nie.

23Ek lê 'n eed af in my eie Naam,

wat Ek sê, is betroubaar,

dit is 'n woord wat nie onvervul sal bly nie:

voor My sal elke knie buig,

in my Naam sal elke tong 'n eed aflê.

24Hulle sal sê:

“Net van die Here kom daar redding en krag.”

Almal wat teen Hom te kere gegaan het,

sal beskaamd daarvan afkom

wanneer hulle voor Hom moet verskyn.

25Maar al die nakomelinge van Israel sal gered word

omdat hulle aan die Here behoort,

en hulle sal in Hom roem.

Ek laat die redding naderkom

1Bel het ineengestort, dis klaar met Nebo!

Julle gode wat deur julle rondgedra is,

word nou op diere, op beeste gelaai.

Hulle het 'n vrag geword vir moeë diere.

2Dit is klaar met julle gode,

hulle het ineengestort,

hulle kan hulle vrag nie dra nie

en word self in ballingskap weggevoer.

3Luister na My, nageslag van Jakob,

almal wat oor is uit die nageslag van Israel,

julle vir wie Ek gedra het van julle geboorte af,

wat Ek vasgehou het vandat julle daar is.

4Ook tot in julle ouderdom is Ek die Here,

tot in julle grysheid sal Ek julle dra.

Ek het julle gemaak en Ek sal julle vashou,

julle dra en julle red.

5Met wie kan julle My vergelyk,

aan wie kan julle My gelykstel,

met wie kan julle My op een lyn stel,

wie kan 'n vergelyking met My deurstaan?

6Mense gooi goud uit hulle geldsak uit

en weeg silwer op 'n skaal af;

hulle huur 'n goudsmid, en hy maak daarvan 'n afgodsbeeld.

Dan buig hulle voor hom en aanbid hom.

7Hulle tel hom op hulle skouers en dra hom,

hulle sit hom op sy plek neer en hy staan daar,

hy kan nie van daardie plek af padgee nie.

As iemand na hom roep, antwoord hy nie,

hy help hom nie uit sy nood nie.

8Dink hieraan en luister,

neem dit ter harte, julle oortreders.

9Dink aan wat vroeër gebeur het, lank gelede;

Ek is God, daar is geen ander nie;

Ek is God, daar is niemand soos Ek nie.

10Ek kondig vantevore aan wat later sal kom,

lank tevore al wat nog nie gebeur het nie.

Ek sê wat Ek besluit het en dit gebeur,

wat Ek wil, doen Ek.

11Ek roep 'n roofvoël uit die ooste,

uit 'n ver land roep Ek 'n man wat my besluit sal uitvoer.

Ek het dit gesê, en Ek sal hom laat kom,

Ek het dit beplan en Ek sal dit doen.

12Luister na My, julle hardkoppiges,

julle wat geen redding verdien nie.

13Ek laat die redding naderkom,

dit is nie meer ver nie,

die verlossing wat Ek bring, sal nie lank uitbly nie.

Ek bring verlossing vir Sion

en openbaar my mag in wat Ek met Israel doen.

Daar kom 'n ramp oor jou

1Klim af, gaan sit in die stof, Babel!

Gaan sit op die grond

sonder jou troon,

stad van die Galdeërs!

Jy sal nie langer vergelyk word met 'n jong vrou

wat fyn is en altyd haar sin kry nie.

2Vat maalklippe en maal meel,

slaan jou sluier op, trek jou boklere uit,

maak jou onderlyf kaal en loop deur die rivier.

3Jou geslagsdele sal kaal wees,

mense sal jou bekyk en jou bespot.

Ek, die Here, gaan jou straf,

Ek sal niemand verskoon nie.

4Ons Verlosser is die Heilige van Israel,

sy Naam is die Here die Almagtige.

5Sit doodstil, kruip weg in die donker,

stad van die Galdeërs!

Jy sal nie langer bekend staan

as die een wat heers oor al die koninkryke nie.

6Ek was kwaad vir my volk,

Ek het hulle nie meer as my besitting beskou nie;

daarom het Ek hulle in jou mag oorgegee.

Maar jy het nie met hulle medelye gehad nie;

selfs op die oumense het jy 'n swaar juk gelê.

7Jy het gedink jy sal altyd bestaan, altyd heers.

Jy het nie aan die gevolge gedink nie,

jy het nie gedink aan wat sal gebeur nie.

8Luister dan nou hierna,

jy wat in wellus lewe,

jy wat so rustig woon,

jy wat dink:

daar is niemand soos ek nie,

ek sal nie sonder 'n sorg sit soos 'n weduwee nie,

en ek sal nie my inwoners verloor nie.

9Altwee hierdie dinge sal jou oorval,

in een oomblik, op dieselfde dag:

jy sal jou inwoners verloor

en niemand sal vir jou sorg nie.

Dit sal jou voluit tref

ondanks jou baie toordery,

ondanks jou magdom beswerings.

10Jy het op jou bose dade vertrou,

jy het gedink daar is niemand wat jou sien nie.

Jou wysheid en jou kennis het jou mislei,

en jy het gedink:

daar is niemand soos ek nie.

11Maar daar kom 'n ramp oor jou

wat jy nie kan besweer nie,

onheil oorval jou,

en jy kan dit nie met 'n losprys keer nie.

Jou ondergang kom skielik,

jy het dit nie verwag nie.

12Gaan maar aan met jou beswerings

en jou baie toordery

waarmee jy jou van jongs af al ophou.

Dalk bereik jy iets daarmee,

dalk skrik jy jou vyande daarmee af!

13Jy het jou moeg gemaak met jou baie voortekens.

Laat jou voorspellers nou optree,

laat hulle jou help,

hulle wat die hemel opdeel

en die sterre bekyk,

hulle wat elke maand bekend maak

wat oor jou gaan kom.

14Maar hulle het soos stoppels geword,

hulle gaan verbrand.

Hulle kan hulleself nie red van die vlamme nie.

Daar bly nie eens kole oor om jou by warm te maak nie,

'n vuur om by te sit nie.

15Dit is wat jy het aan dié met wie jy jou ophou,

met wie jy jou van jongs af inlaat.

Hulle het almal gedwaal,

daar is niemand wat jou kan red nie.

Jesus is die Here oor die sabbat

(Mark. 2:23-28; Luk. 6:1-5)

1In dié tyd het Jesus op 'n sabbatdag deur gesaaides geloop. Sy dissipels het honger geword en are begin pluk en van die koring geëet. 2Toe die Fariseërs dit sien, sê hulle vir Hom: “Kyk daar! U dissipels doen iets wat op die sabbatdag nie gedoen mag word nie.”

3Maar Hy sê vir hulle: “Het julle nie gelees wat Dawid gedoen het toe hy en sy manne honger geword het nie? 4Hy het in die huis van God ingegaan en van die offerbrood geëet, wat hy en sy manne nie mag gedoen het nie, maar net die priesters. 5Of het julle nie in die wet van Moses gelees dat die priesters op die sabbatdag in die tempel diens moet doen nie? Hulle oortree dus die sabbatsgebod, en tog is hulle nie skuldig nie.

6“Ek sê vir julle: Hier is Een wat groter is as die tempel. 7As julle begryp het wat dit beteken: ‘Ek verwag barmhartigheid en nie offers nie,’ dan sou julle nie mense wat onskuldig is, veroordeel het nie. 8Die Seun van die mens is immers Here oor die sabbat.”

Die man met die gebreklike hand

(Mark. 3:1-6; Luk. 6:6-11)

9Jesus het daarvandaan verder gegaan en in hulle sinagoge gekom. 10Daar was juis 'n man met 'n gebreklike hand. Hulle vra Hom toe: “Mag 'n mens iemand op die sabbatdag gesond maak?”

Hulle bedoeling daarmee was om 'n klag teen Hom te kry.

11Hy sê toe vir hulle: “Wie van julle sal nie die een skaap wat hy het en wat op 'n sabbatdag in 'n sloot val, dadelik uithaal nie? 12Hoeveel is 'n mens nie meer werd as 'n skaap nie? Dan mag 'n mens mos op die sabbatdag goed doen.”

13Toe sê Hy vir die man: “Steek jou hand uit.”

Hy het dit gedoen, en sy hand was reg soos die ander een.

14Die Fariseërs het toe uitgegaan en planne beraam om Jesus om die lewe te bring.

Jesus die Dienaar van die Here

15Toe Jesus dit hoor, het Hy daarvandaan weggegaan. Baie mense het saam met Hom gegaan, en Hy het hulle almal gesond gemaak, maar 16hulle belet om in die openbaar oor Hom te praat. 17So is vervul wat die Here deur die profeet Jesaja gesê het:

18“Hier is my Dienaar wat Ek aangestel het,

my Geliefde oor wie Ek My verheug;

Ek sal my Gees op Hom laat kom,

en Hy sal die wil van God aan die nasies bekend maak.

19Hy sal nie twis nie en nie skreeu nie,

en niemand sal sy stem op die strate hoor nie.

20'n Riet wat geknak is, sal Hy nie afbreek nie

en 'n lamppit wat rook, nie uitdoof nie;

Hy sal die wil van God laat seëvier.

21En op Hom sal die nasies hulle hoop vestig.”

Jesus en Beëlsebul

(Mark. 3:20-30; Luk. 11:14-23; 12:10)

22Hulle het toe 'n man wat in die mag van 'n bose gees was, na Jesus toe gebring. Die man was blind en stom. Jesus het sy gebrek genees, sodat hy weer kon praat en sien. 23En die hele menigte mense was verslae en het gesê: “Is Hy nie miskien die Seun van Dawid nie?”

24Die Fariseërs het hiervan gehoor en gesê: “Hy dryf bose geeste uit alleen met die hulp van Beëlsebul, die aanvoerder van die bose geeste.”

25Jesus het egter geweet wat hulle dink, en Hy het vir hulle gesê: “Elke koninkryk wat onderling verdeeld is, gaan te gronde, en geen stad of huis wat onderling verdeeld is, sal bly staan nie. 26As die Satan dan die Satan uitdryf, is hy teen homself verdeeld; hoe kan sy ryk dan bly staan? 27En as Ek met Beëlsebul se hulp die bose geeste uitdryf, met wie se hulp doen julle volgelinge dit dan? Julle eie volgelinge sal as julle regters optree en wys dat julle verkeerd is.

28“Aangesien Ek deur die Gees van God die bose geeste uitdryf, het die koninkryk van God inderdaad tot by julle gekom.

29“Hoe kan iemand tog by die huis van 'n sterk man ingaan en sy goed vat as hy nie vooraf die sterk man vasbind nie? Eers dan sal hy sy huis kan beroof.

30“Wie nie aan my kant is nie, is teen My; en wie nie saam met My die skape bymekaarmaak nie, jaag hulle uitmekaar.

31“Daarom sê Ek vir julle: Elke sonde en lastering kan die mense vergewe word, maar die lastering teen die Heilige Gees kan nie vergewe word nie. 32As iemand iets teen die Seun van die mens sê, kan dit hom vergewe word; maar as iemand iets teen die Heilige Gees sê, kan dit hom nie vergewe word nie, nie in hierdie bedeling nie en ook nie in die toekomstige nie.”

'n Boom word aan sy vrugte geken

(Luk. 6:43-45; vgl. Matt. 7:17-27)

33“As julle sê 'n boom is goed, moet julle ook sê sy vrugte is goed; en as julle sê hy is sleg, moet julle ook sê sy vrugte is sleg. 'n Boom word tog aan sy vrugte geken.

34“Julle slange! Hoe kan julle wat sleg is, iets goeds sê? Waar die hart van vol is, loop die mond van oor. 35Die goeie mens bring die goeie te voorskyn uit die oorvloed goeie dinge in sy hart; die slegte mens bring die slegte te voorskyn uit die oorvloed slegte dinge in sy hart.

36“Dit sê Ek vir julle: Van elke ligsinnige woord wat die mense sê, sal hulle rekenskap moet gee op die oordeelsdag. 37Op grond van jou eie woorde sal jy vrygespreek of veroordeel word.”

Die teken van Jona

(Mark. 8:11-12; Luk. 11:29-32; vgl. Matt. 16:1-4)

38Party van die skrifgeleerdes en die Fariseërs sê toe vir Hom: “Meneer, ons wil 'n wonderteken van u sien.”

39Maar Hy antwoord hulle: “'n Slegte en afvallige geslag vra 'n teken, en geen teken sal aan hulle gegee word nie, behalwe die teken van die profeet Jona. 40Soos Jona drie dae en drie nagte in die maag van 'n groot vis was, so sal die Seun van die mens drie dae en drie nagte binne-in die aarde wees. 41Die mense van Nineve sal op die oordeelsdag saam met die mense van vandag opstaan en teen hulle getuig. Hulle het hulle immers op die prediking van Jona bekeer. En hier staan Een wat groter is as Jona! 42Die koningin van die Suide sal op die oordeelsdag saam met die mense van vandag opstaan en teen hulle getuig. Sy het immers van die uithoeke van die aarde af gekom om na die wysheid van Salomo te luister. En hier staan Een wat groter is as Salomo!”

Die terugkoms van die onrein gees

(Luk. 11:24-26)

43“Wanneer 'n onrein gees uit 'n mens weggaan, swerf hy deur dor streke op soek na 'n rusplek. As hy dit nie kry nie, 44sê hy: ‘Ek gaan terug na my huis waaruit ek weggegaan het.’ Hy kom dan terug en kry dit onbewoon, skoon en aan die kant. 45Dan gaan haal hy sewe ander geeste, nog slegter as hy self, en hulle trek saam met hom in en gaan woon daar. Aan die einde is so 'n mens slegter daaraan toe as aan die begin. So sal dit ook gaan met die slegte mense van vandag.”

Die moeder en die broers van Jesus

(Mark. 3:31-35; Luk. 8:19-21)

46Terwyl Jesus nog besig was om met die mense te praat, het sy moeder en broers buite gestaan, en hulle wou met Hom praat.

47Iemand sê toe vir Hom: “U moeder en u broers staan daar buite en wil met U praat.”

48Maar Hy sê vir die man wat dit vir Hom gesê het: “Wie is my moeder, en wie is my broers?”

49Toe wys Hy met sy hand na sy dissipels en sê: 50“Daar is my moeder en my broers! Elkeen wat die wil doen van my Vader wat in die hemel is, dié is my broer en my suster en my moeder.”

Die gelykenis van die saaier

(Mark. 4:1-9; Luk. 8:4-8)

1Dieselfde dag het Jesus van die huis af gegaan en by die see gaan sit. 2'n Groot menigte het so om Hom saamgedrom dat Hy in 'n skuit geklim en daarin gaan sit het, maar die mense het almal op die strand bly staan. 3Hy het hulle baie dinge in gelykenisse vertel en onder andere gesê:

“'n Saaier het eendag gaan saai. Met die saai het 'n deel van die saad op die pad geval, en 4die voëls het gekom en dit opgepik. 5'n Ander deel daarvan het op klipbanke geval, waar daar nie baie grond was nie, en dit het gou opgekom omdat die grond nie diep was nie. 6Maar toe die son warm word, is dit verskroei, en omdat dit nie wortel geskiet het nie, het dit verdroog. 7'n Ander deel het tussen die onkruid geval, en die onkruid het opgekom en dit laat verstik. 8Die ander saad het in goeie grond geval en 'n oes gelewer, party honderdvoudig, ander sestigvoudig en ander dertigvoudig.

9“Wie ore het, moet luister!”

Die doel van die gelykenisse

(Mark. 4:10-12; Luk. 8:9-10)

10Die dissipels het vir Jesus kom vra: “Hoekom gebruik U gelykenisse as U met die mense praat?”

11Hy het hulle geantwoord: “Aan julle is dit gegee om die geheime van die koninkryk van die hemel te ken, maar aan hulle is dit nie gegee nie. 12Wie het, vir hom sal nog meer gegee word, en hy sal oorvloed hê; maar wie nie het nie, van hom sal ook die bietjie wat hy het, weggevat word. 13Om hierdie rede praat Ek met hulle in gelykenisse: omdat hulle kyk maar nie sien nie, en hoor maar nie luister en verstaan nie. 14In hulle geval word die profesie van Jesaja vervul wat sê:

“ ‘Julle sal hoor en hoor en tog niks verstaan nie, en kyk en kyk en tog niks sien nie.

15Hierdie volk se verstand is afgestomp: hulle het hulle ore toegedruk en hulle oë toegemaak

sodat hulle nie met hulle oë kan sien en met hulle ore kan hoor

en met hulle verstand kan verstaan en hulle bekeer, en Ek hulle gesond maak nie.’

16“Maar julle oë is bevoorreg dat hulle sien, en julle ore dat hulle hoor. 17Dit verseker Ek julle: Baie profete en gelowiges wou graag sien wat julle sien, maar het dit nie gesien nie, en wou graag hoor wat julle hoor, maar het dit nie gehoor nie.”

Jesus verklaar die gelykenis van die saaier

(Mark. 4:13-20; Luk. 8:11-15)

18“Luister julle dan na wat die gelykenis van die saaier beteken: 19Die Bose kom by elkeen wat die woord van die koninkryk hoor maar dit nie verstaan nie, en vat dan weg wat in sy hart gesaai is. Dit is hy by wie daar op die pad gesaai is. 20Die man weer by wie daar op die klipbanke gesaai is, is hy wat die woord hoor en dit dadelik met blydskap aanneem. 21Hy laat dit egter nie by hom wortel skiet nie, en hy hou nie lank uit nie. As hy ter wille van die woord verdruk en vervolg word, word hy gou afvallig. 22Die man by wie daar tussen die onkruid gesaai is, is hy wat die woord hoor, maar die bekommernis van die lewe en die verleidelikheid van rykdom verstik die woord, en dit bly sonder vrug. 23Die man by wie daar op goeie grond gesaai is, is hy wat die woord hoor en dit verstaan. Hy dra inderdaad vrug en lewer 'n oes: soms honderdvoudig, soms sestigvoudig, soms dertigvoudig.”

Die gelykenis van die onkruid tussen die koring

24Hy het nog 'n gelykenis aan hulle voorgehou en gesê: “Die koninkryk van die hemel kan vergelyk word met 'n man wat goeie saad op sy land gesaai het. 25Een nag, toe die mense slaap, het sy vyand gekom en onkruid tussen die koring gesaai en verdwyn. 26Toe die groen koring opskiet en in die aar begin kom, het die onkruid ook sigbaar geword. 27Die slawe van die boer kom sê toe vir hom: ‘Meneer, het u nie goeie saad op u land gesaai nie? Waar kom die onkruid dan vandaan?’ 28Hy antwoord hulle: ‘Dit is 'n vyand se werk.’ Die slawe sê toe vir hom: ‘Wil u hê ons moet dit gaan uittrek?’ 29‘Nee,’ sê hy, ‘as julle die onkruid nou bymekaarmaak, sal julle die koring saam uittrek. 30Laat altwee saam groei tot met die oes. In die oestyd sal ek vir dié wat oes, sê: Maak eers die onkruid bymekaar en bind dit in bondels om dit te verbrand, maar bring die koring na my skuur toe.’ ”

Die gelykenisse van die mosterdsaadjie en die suurdeeg

(Mark. 4:30-32; Luk. 13:18-21)

31Hy het nog 'n gelykenis aan hulle voorgehou en gesê: “Die koninkryk van die hemel is soos 'n mosterdsaadjie wat iemand gevat en in sy land geplant het. 32Dit is die kleinste van al die soorte saad, maar as dit uitgegroei het, is dit groter as die tuinplante en word dit 'n boom, sodat die voëls in sy takke kom nes maak.”

33Hy het hulle nog 'n gelykenis vertel: “Die koninkryk van die hemel is soos suurdeeg wat 'n vrou gevat en in 'n groot skottel meel ingewerk het totdat dit heeltemal deursuur was.”

Die gebruik van gelykenisse

(Mark. 4:33-34)

34Al hierdie dinge het Jesus vir die mense in gelykenisse geleer, en sonder 'n gelykenis het Hy hulle niks geleer nie. 35So moes vervul word wat die Here deur 'n profeet gesê het:

“Ek sal gelykenisse gebruik as Ek praat;

Ek sal bekend maak wat geheim gebly het van die skepping af.”

Verklaring van die gelykenis van die onkruid

36Daarna het Jesus van die mense af weggegaan huis toe. Sy dissipels kom toe by Hom en vra: “Verduidelik tog vir ons die gelykenis van die onkruid in die land.”

37Jesus antwoord: “Hy wat die goeie saad saai, is die Seun van die mens. 38Die saailand is die wêreld. Die goeie saad, dit is die mense van die koninkryk; die onkruid is die aanhangers van die Bose; 39die vyand wat die onkruid saai, is die duiwel. Die oes is die voleinding van die wêreld; dié wat oes, is die engele.

40“Soos die onkruid bymekaargemaak en met vuur verbrand word, so sal dit by die voleinding van die wêreld wees. 41Die Seun van die mens sal sy engele stuur, en hulle sal uit sy koninkryk verwyder almal wat ander mense in sonde laat val, en almal wat die wet van God oortree, 42en sal hulle in die brandende oond gooi. Daar sal hulle huil en op hulle tande kners. 43Dan sal die gelowiges in die koninkryk van hulle Vader skitter soos die son.

“Wie ore het, moet luister.”

Drie kort gelykenisse

44“Met die koninkryk van die hemel gaan dit soos met 'n skat wat in 'n saailand onder die grond lê. Wanneer iemand dit kry, maak hy dit weer toe; en omdat hy baie in sy skik is, gaan verkoop hy alles wat hy het, en hy koop daardie land.

45“Met die koninkryk van die hemel gaan dit soos met 'n handelaar wat op soek is na goeie pêrels. 46As hy 'n baie waardevolle pêrel raakloop, gaan verkoop hy alles wat hy het, en koop die pêrel.

47“Verder gaan dit met die koninkryk van die hemel soos met 'n treknet wat in die see gegooi is en allerhande soorte vis vang. 48As dit vol geword het, sleep hulle dit op die strand uit en gaan sit om die goeie vis in mandjies bymekaar te maak, maar die onbruikbares gooi hulle weg. 49So sal dit by die voleinding van die wêreld wees. Die engele sal uitgaan en die slegtes skei van die goeies 50en hulle in die brandende oond gooi. Daar sal hulle huil en op hulle tande kners.”

Ou en nuwe skatte

51“Verstaan julle al hierdie dinge?”

“Ja,” antwoord hulle Hom.

52Hy sê toe vir hulle: “So is elke skrifgeleerde wat 'n leerling word in die koninkryk van die hemel, soos 'n huiseienaar wat uit sy voorraad nuwe en ou dinge te voorskyn bring.”

Jesus word in Nasaret misken

(Mark. 6:1-6; Luk. 4:16-30)

53Toe Jesus hierdie gelykenisse klaar vertel het, het Hy daarvandaan weggegaan. 54Hy het in die dorp gekom waar Hy grootgeword het, en Hy het die mense in hulle sinagoge so geleer dat hulle verstom was en gesê het: “Waar kry hy hierdie wysheid vandaan en die vermoë om die kragtige dade te doen? 55Is hy dan nie die timmerman se seun nie? Is sy ma nie Maria en sy broers Jakobus, Josef, Simon en Judas nie? 56En sy susters, is hulle nie almal hier by ons nie? Waar kry hy dan al hierdie dinge vandaan?”

57En hulle wou niks van Hom weet nie.

Jesus sê toe vir hulle: “'n Profeet word oral erken behalwe in die plek waar hy grootgeword het, en in sy familiekring.”

58Vanweë hulle ongeloof het Hy daar nie baie wonderwerke gedoen nie.

Bible Society of South Africav.4.18.14
VOLG ONS