Bible Society of South Africa

Na die Woord – Dag 102

JESAJA 40–43, MATTEUS 10–11

Bybelteks(te)

Soos 'n herder versorg Hy sy kudde

1Die uitkoms is hier!

Die uitkoms is hier!

Dit, sê julle God, moet julle vir my volk sê.

2Bring vir Jerusalem die goeie tyding,

sê vir hom

sy swaarkry is verby,

hy het geboet vir sy sonde,

hy het van die Here die volle straf ontvang

vir al sy sondes.

3Iemand roep:

“Maak vir die Here 'n pad in die woestyn,

maak in die barre wêreld 'n grootpad vir ons God!

4Elke laagte moet opgevul word,

elke berg en rant moet gelykgrond word.

Elke bult moet 'n gelykte word

en elke koppie 'n vlakte.

5Dan sal die mag van die Here geopenbaar word;

al wat leef, sal dit sien.

Die Here self het dit gesê.”

6Iemand sê: “Roep!”

En ek vra:

“Wat kan ek roep?

Alle mense is soos gras,

alles waarop hulle staatmaak, is soos 'n veldblom:

7gras verdor en blomme verwelk

as die Here sy wind daaroor laat waai.”

Dit ís so, die volk is soos gras.

8Gras verdor en blomme verwelk,

maar die woord van ons God bly vir ewig.

9Klim op 'n hoë berg en roep hard, Sion,

jy wat die goeie tyding moet bring;

roep hard, Jerusalem,

jy wat die goeie tyding moet bring,

moenie bang wees nie.

Sê vir die stede van Juda:

“Julle God is hier!”

10Die Here God kom,

Hy is die Magtige, Hy regeer.

Hy bring die volk saam wat Hy Syne gemaak het,

dié wat aan Hom behoort, is by Hom.

11Soos 'n herder versorg Hy sy kudde:

die lammers maak Hy bymekaar in sy arms

en Hy dra hulle teen sy bors,

Hy sorg vir die lammerooie.

Met wie kan julle God vergelyk?

12Wie het die waters in die holte van sy hand afgemeet,

met die breedte van sy hand die maat van die hemel bepaal,

met 'n maatemmer die grond van die aarde afgemeet,

met 'n skaal die berge en die heuwels geweeg?

13Wie kan die Gees van die Here peil,

wie kan sy raadgewer wees?

14Vir wie raadpleeg Hy

dat dié Hom tot insig sou bring

en Hom sou leer wat om te doen?

Wie leer Hom en onderrig Hom

dat Hy met insig kan optree?

15Die nasies is vir Hom soos 'n druppel aan 'n emmer,

soos 'n stoffie op 'n skaal.

As Hy die eilande op 'n skaal sit,

is hulle soos stofdeeltjies.

16Al die hout op die Libanon

is nie genoeg vir vuur op die altaar nie

en al die wild nie genoeg vir 'n offer aan die Here nie.

17Al die nasies is soos niks teenoor Hom,

hulle is vir Hom minder as niks, asof hulle nie bestaan nie.

18Met wie kan julle God dan vergelyk?

Met watter beeld kan julle Hom gelykstel?

19'n Beeld word deur 'n ambagsman gegiet

en deur 'n smid met goud oorgetrek

en met silwerkettinkies versier.

20Wie te arm is vir so 'n offer aan sy god,

kies hout wat nie vrot nie

en soek vir hom 'n bedrewe ambagsman

om vir hom 'n beeld te maak wat nie omval nie!

21Weet julle dan nie,

het julle nie gehoor nie,

is dit nie van die begin af aan julle bekend gemaak nie,

het julle nie 'n begrip van hoe die aarde ontstaan het nie?

22God het sy troon bokant die hemelkoepel,

die aardbewoners is vir Hom soos sprinkane.

Hy span die hemel oop soos 'n tentdoek,

oop soos 'n tent vir die mense om onder te woon.

23Hy maak die vername mense tot niks,

die heersers van die wêreld asof hulle nie bestaan nie.

24Skaars is hulle geplant, skaars is hulle gesaai,

skaars het hulle wortelgeskiet,

of Hy blaas sy asem oor hulle, en hulle verdor,

die stormwind vat hulle weg soos stoppels.

25Met wie kan julle My dan vergelyk,

wie is soos Ek? vra die Heilige.

26Kyk op na die hemel:

wie het die sterre geskep?

Hy wat die hemelse leër laat uittrek in hulle volle getal,

dit is Hy wat hulle elkeen gemaak het.

Met sy groot krag, sy groot mag,

sorg Hy dat geeneen van hulle ontbreek nie.

27Waarom sê jy dan, Jakob,

waarom kla jy, Israel:

“Die Here sien nie raak wat van my word nie,

my reg gaan by my God verby”?

28Weet jy dan nie,

het jy nog nie gehoor nie?

Die Here is die ewige God,

Skepper van die hele aarde.

Hy word nie moeg nie,

Hy raak nie afgemat nie

en sy insig is ondeurgrondelik.

29Hy gee die vermoeides krag,

Hy versterk dié wat nie meer kan nie.

30Selfs jongmanne word moeg en raak afgemat,

selfs manne in hulle fleur struikel en val,

31maar dié wat op die Here vertrou, kry nuwe krag.

Hulle vlieg met arendsvlerke,

hulle hardloop en word nie moeg nie,

hulle loop en raak nie afgemat nie.

Wie het vir Kores laat opstaan?

1Bly stil en luister na My, eilande,

maak julle gereed, volke,

staan nader en stel julle saak,

laat ons die saak uitmaak.

2Wie is dit wat hom uit die ooste laat opstaan het

vir wie elke voetstap oorwinning bring?

Wie gee nasies aan hom oor,

onderwerp konings aan hom?

Sy swaard en sy pyl en boog

laat hulle verdwyn soos stof voor die wind,

soos dwarrelende stoppels.

3Hy agtervolg hulle en trek ongehinderd voort,

sy voete raak nie eens grond nie.

4Wie het dit bewerkstellig, dit gedoen?

Wie het die verloop van dinge van die begin af bepaal?

Dit is Ek, die Here! Ek is die eerste,

en wanneer die laaste dinge gebeur,

sal Ek nog die Here wees.

5Die eilande het gesien wat gebeur en het bang geword,

die hele aarde het gebewe.

Die mense kom bymekaar,

6hulle help mekaar en praat mekaar moed in.

7Die ambagsman praat die goudsmid moed in,

die een wat die metaal uitklop,

praat hom wat dit aanmekaar smee, moed in.

Hulle sê: “Die smeewerk is goed!”

Dan slaan hulle die beeld met spykers

vas dat hy nie omval nie!

Ek hou jou vas

8Maar jy, my dienaar, Israel,

Jakob vir wie Ek uitverkies het,

afstammeling van Abraham vir wie Ek liefhet,

9jy, vir wie Ek van die uiteindes van die aarde af gegryp het,

van sy uithoeke af geroep het,

vir jou het Ek gesê: Jy is my dienaar,

Ek het jou uitverkies, Ek het jou nie verwerp nie.

10Moenie bang wees nie, Ek is by jou,

moenie bekommerd wees nie, Ek is jou God.

Ek versterk jou, Ek help jou, Ek hou jou vas,

met my eie hand red Ek jou.

11Almal wat teen jou te kere gaan,

sal teleurgesteld staan en die aftog blaas.

Jou teëparty sal soos niks word, hulle sal omkom.

12Jy sal dié soek wat teen jou veg,

maar hulle sal nêrens te vinde wees nie;

dié wat teen jou oorlog maak,

sal word soos niks, soos iets wat nie bestaan nie.

13Ek is die Here jou God,

Ek vat jou hand,

Ek sê vir jou: Moenie bang wees nie,

Ék help jou.

14Moenie bang wees nie,

al is jy niks meer as 'n wurm nie, Jakob,

al is jy klein, Israel.

Ék help jou, sê die Here jou Verlosser,

die Heilige van Israel.

15Ek maak jou 'n skerp dorsslee, 'n nuwe met baie tande;

jy sal berge dors en fynmaal,

jy sal van rante kaf maak.

16Jy sal hulle uitwan, en die wind sal hulle wegwaai,

die stormwind sal hulle verstrooi;

dan sal jy jubel in die Here,

jy sal roem in die Heilige van Israel.

17Die hulpeloses en die armes soek water, maar daar is nie;

hulle versmag van dors.

Maar Ek, die Here, sal hulle gebede verhoor,

Ek, die God van Israel, sal hulle nie verlaat nie.

18Ek sal op die kaal bergtoppe riviere laat ontspring,

en in die laagtes fonteine laat uitborrel.

Ek sal woestyngebied in rietvlei verander,

dor land in fonteinwêreld.

19Ek sal in die woestyn seders laat groei,

doringbome, mirte en olyfbome.

Ek sal in die barre wêreld sipresse laat groei

saam met platane en denne.

20Dan sal die mense sien en erken,

almal sal begryp en insien

dat die Here dit gedoen het,

dat die Heilige van Israel dit geskep het.

Julle kan niks doen nie

21Stel julle saak, gode, sê die Here,

bring julle bewyse, sê die Koning van Jakob.

22Kom, sê vir ons wat gaan gebeur,

sê vir ons wat beteken dit wat verby is

sodat ons daaroor kan nadink

en kan weet waarop dit uitloop.

23Of laat ons hoor wat gaan gebeur,

sê vir ons wat in die toekoms gaan plaasvind

dat ons kan weet of julle gode is.

Doen iets, doen goed of kwaad,

dan sal ons almal verbaas staan en skrik.

24Maar julle is niks,

julle kan niks doen nie.

Wie vir julle as sy gode kies, is self afskuwelik.

25Ek het iemand uit die noorde te voorskyn laat kom,

van sonsopgang se kant af het hy gekom

en my Naam aangeroep.

Hy het regeerders in die modder in getrap

soos 'n pottebakker die klei trap.

26Wie het voor die tyd al gesê dat dit sal gebeur

sodat ons daarvan kennis kon neem,

vantevore al, sodat ons sou kan sê dit het uitgekom?

Nee, niemand het dit gesê nie,

niemand het iets daaroor laat hoor nie,

niemand het julle 'n woord daaroor hoor sê nie.

27Ek is die eerste wat vir Sion gesê het:

Kyk, jou mense kom terug!

Ek laat Jerusalem 'n goeie tyding hoor.

28Ek het gewag op 'n antwoord,

maar nie een van die afgode het gereageer nie,

nie een van hulle het 'n woord te sê gehad nie.

Ek het hulle ondervra,

maar niemand kon antwoord nie.

29Hulle is almal vals,

hulle kan niks doen nie,

hulle beelde beteken niks,

hulle kon net so wel nie daar gewees het nie.

Hier is my dienaar

1Hier is my dienaar, Ek stel hom aan.

Ek het hom uitverkies, hy geniet my guns.

Ek laat my Gees op hom kom,

hy sal my wil aan die nasies bekend maak.

2Hy sal nie roep nie, hy sal nie hard skree nie,

hy sal nie sy stem op straat laat hoor nie.

3'n Geknakte riet sal hy nie afbreek nie,

'n lamppit wat dof brand, sal hy nie uitdoof nie.

Hy sal my wil bekend maak soos dit is.

4Self sal hy ook nie uitgedoof of geknak word nie

totdat hy my wil op aarde gevestig het.

Die eilande wag op wat hy hulle sal leer.

5So sê God, die Here,

Hy wat die hemelkoepel geskep en dit oopgespan het,

Hy wat die aarde gevorm het en alles wat dit oplewer,

Hy wat aan al die mense op aarde die asem gee,

die lewe aan alles wat op die aarde beweeg:

6Ek is die Here.

Omdat Ek getrou is aan my verbond, het Ek jou geroep.

Ek hou jou vas,

Ek beskerm jou

en Ek maak jou my verbond met my volk,

my lig vir die nasies.

7Jy sal blindes laat sien,

jy sal gevangenes uit die tronk bevry;

wie in die donkerte van die gevangenis sit,

sal jy laat uitgaan.

8Ek is die Here, dit is my Naam,

die eer wat My toekom, gee Ek aan geen ander nie,

die lof wat My toekom, gee Ek nie aan gesnede beelde nie.

9Wat Ek vroeër aangekondig het, het plaasgevind.

Ek kondig nuwe dinge aan.

Voor dit begin gebeur, laat Ek julle al daarvan hoor.

Ek verander donker in lig

10Sing tot eer van die Here 'n nuwe lied,

sing sy lof oor die hele aarde,

almal wat op die see vaar, alles wat in die see is,

al die eilande en dié wat daarop woon.

11Laat die woestyn en sy stede die lof van die Here uitroep,

die dorpe in die omgewing van Kedar,

laat die inwoners van Sela jubel,

laat hulle van die toppe van die berge af juig.

12Laat hulle aan die Here eer bewys

en op die eilande sy lof verkondig.

13Die Here ruk op soos 'n soldaat,

strydlustig soos 'n krygsman.

Hy skree en roep die oorlogskreet uit.

Hy oorwin sy vyande.

14Ek het lank stilgebly,

Ek het geswyg, My bedwing.

Nou skree Ek soos 'n vrou wat 'n kind in die wêreld bring.

Ek hyg, Ek snak na asem.

15Ek laat die berge en rante verdor,

Ek laat al die plante daarop verdroog.

Ek laat die riviere opdroog,

Ek laat die rietvleie droog word.

16Ek laat die blindes loop op 'n pad wat hulle nie ken nie,

Ek laat hulle op paaie gaan wat vir hulle onbekend is.

Ek verander die donker voor hulle in lig

en Ek maak die ongelyk plekke gelyk.

Dit is wat Ek gaan doen,

Ek gaan daar nie van afsien nie.

17Dié wat op afgode vertrou,

wat vir beelde sê: “Julle is ons gode,”

sal op die vlug moet slaan, teleurgestel in hulle verwagting.

Israel is doof en blind

18Luister, julle dowes,

kyk, julle blindes, dat julle kan sien.

19Is daar iemand so blind soos my dienaar,

so doof soos my boodskapper wat Ek stuur?

Is daar iemand so blind soos die een

wat vir sy sonde gestraf is,

so blind soos die dienaar van die Here?

20Julle het baie gesien, maar julle slaan nie ag daarop nie,

julle het gehoor, maar julle luister nie.

21Die Here het vreugde daaraan om getrou te wees,

Hy laat sy woord roem en eer ontvang.

22Maar sy volk is as 'n stuk buit weggevoer,

hulle word almal in gate gevange gehou,

hulle is in gevangenisse opgesluit.

Hulle het buit geword, en niemand red hulle nie,

hulle het gevangenes geword,

en niemand sê: “Laat hulle teruggaan!” nie.

23Wie van julle neem dit waar?

Wie van julle gee aandag

en luister met die oog op wat voorlê?

24Wie het van Jakob 'n gevangene gemaak,

wie het vir Israel oorgegee aan dié wat buit gemaak het?

Is dit nie die Here nie, Hy teen wie ons gesondig het?

Ons wou nie sy wil doen nie,

ons wou nie na sy woord luister nie.

25Daarom het Hy sy toorn teen hulle laat ontvlam:

die geweld van oorlog.

Daar was vlamme rondom hulle,

maar hulle wou nie verstaan nie;

dit het hulle gebrand,

maar hulle wou dit nie ter harte neem nie.

Jy is Myne

1Luister, so sê die Here

wat jou geskep het, Jakob,

wat jou gevorm het, Israel:

Moenie bang wees nie, Ek verlos jou,

Ek het jou op jou naam geroep,

jy is Myne.

2As jy deur water moet gaan, is Ek by jou,

deur riviere, hulle sal jou nie wegspoel nie;

as jy deur vuur moet gaan, sal dit jou nie skroei nie,

die vlamme sal jou nie brand nie,

3want Ek is die Here jou God,

die Heilige van Israel, jou Redder.

Ek gee Egipte as losprys vir jou,

Kus en Seba in jou plek.

4Omdat jy vir My kosbaar is,

omdat Ek jou hoog ag en jou liefhet,

gee Ek mense in jou plek,

volke in ruil vir jou lewe.

5Moenie bang wees nie,

Ek is by jou.

Ek bring jou kinders van die ooste af,

Ek maak hulle bymekaar van die weste af,

6Ek sê vir die noorde: Gee!

vir die suide: Moet hulle nie terughou nie!

Bring my seuns van ver af,

my dogters van die uithoeke van die aarde af,

7elkeen wat na my Naam genoem word,

elkeen wat Ek geskep het tot my eer,

wat Ek gevorm het, wat Ek gemaak het.

8Laat my volk hierheen kom,

die volk wat blind is, al het hulle oë,

wat doof is, al het hulle ore.

9Laat al die nasies bymekaarkom.

Al die volke moet teenwoordig wees.

Watter afgod kan hierdie dinge so aankondig?

Wie kon vooraf sê wat gebeur het?

Laat hulle hulle getuies bring

dat dié hulle saak bewys,

en dié wat luister, kan sê: Dit is waar.

10Israel, julle is my getuies, sê die Here,

en ook my dienaar wat Ek uitverkies het

sodat julle My kan ken en in My kan glo

en kan besef dat Ek die Here is.

Voor My was daar geen god nie,

en na My sal daar ook nie een wees nie,

11Ek, Ek is die Here,

buiten My is daar geen redder nie.

12Ék het die redding aangekondig,

Ék het gered en dit laat verkondig,

Ek, nie 'n ander god onder julle nie.

Julle is my getuies, sê die Here,

en Ek is God.

13Ook hierná is Ek nog God.

Uit my mag kan niemand gered word nie.

Wat Ek doen, kan niemand ongedaan maak nie.

Kyk, Ek gaan iets nuuts doen

14So sê die Here, julle Verlosser, die Heilige van Israel:

Om julle ontwil stuur Ek iemand teen Babel

en laat Ek al sy inwoners, die Galdeërs, vlug

met dieselfde skepe waarop hulle hulle vroeër beroem het.

15Ek is die Here, julle heilige God,

die Skepper van Israel, julle Koning.

16So sê die Here,

Hy wat 'n pad gemaak het deur die see,

'n deurgang deur die magtige waters,

17Hy wat strydwaens en perde laat optrek het,

'n leër op volle sterkte na sy ondergang toe.

Hulle kon nie weer opstaan nie,

dit was klaar met hulle,

hulle is soos 'n lamppit uitgedoof.

18Maar moenie net aan die vroeëre dinge dink

en by die verlede stilstaan nie.

19Kyk, Ek gaan iets nuuts doen,

dit staan op die punt om te gebeur,

julle kan dit al sien kom;

Ek maak in die woestyn 'n pad,

Ek laat in die droë wêreld riviere ontspring.

20Die wilde diere sal My vereer,

die jakkalse en die volstruise,

omdat Ek water gee in die woestyn,

riviere in die droë wêreld

om my volk, my uitverkore volk, se dors te les.

21Dit is die volk wat Ek vir My geskep het,

en wat my lof sal verkondig.

Ek het jou nie belas met offers nie

22Maar jy het My nie aangeroep nie, Jakob,

jy het nie moeite gedoen om My te dien nie, Israel.

23Jy het nie vir My kleinvee as brandoffers gebring,

My nie met offers vereer nie;

Ek het jou nie belas met graanoffers nie,

jou nie die moeite aangedoen

om vir My wierookoffers te bring nie.

24Jy het nie geld uitgegee

om vir My wierookoffers te koop nie,

en jy het My nie met die vet van offers verkwik nie.

Inteendeel, jý het Mý belas met jou sondes,

jy het My moeite aangedoen met jou oortredinge.

25En tog is dit Ek wat jou opstandigheid vergewe.

Ek is getrou aan Myself,

Ek dink nie meer aan jou sondes nie.

26Kla My aan,

laat ons die saak tussen ons uitmaak,

praat jy en bewys jou onskuld.

27Jou eerste voorouer het gesondig

en jou woordvoerders het teen My oortree.

28Daarom het Ek dié in beheer van die tempeldiens

ongeskik vir tempeldiens laat word.

Ek het Jakob iets gemaak wat uitgeroei moet word,

Israel iets wat bespot moet word.

Jesus stuur die twaalf uit

(Mark. 3:13-19; Luk. 6:12-16)

1Jesus het sy twaalf dissipels nader geroep en hulle mag gegee om onrein geeste uit te dryf en om elke soort siekte en kwaal gesond te maak.

2Die name van die twaalf apostels was: in die eerste plek Simon, wat ook Petrus genoem word, en sy broer Andreas; 3Jakobus seun van Sebedeus, en sy broer Johannes; Filippus en Bartolomeus; Tomas en Matteus die tollenaar; Jakobus seun van Alfeus, en Taddeus; 4Simon die Kananeër, en Judas Iskariot wat vir Jesus verraai het.

Jesus gee opdragte aan die twaalf

(Mark. 6:7-13; Luk. 9:1-6)

5Jesus het hierdie twaalf uitgestuur en die volgende opdragte aan hulle gegee:

“Moenie met 'n pad na die heidennasies toe afdraai nie en moenie in 'n dorp van die Samaritane ingaan nie. 6Gaan liewer na die verlore skape van die volk Israel toe. 7Gaan verkondig: ‘Die koninkryk van die hemel het naby gekom.’ 8Maak siekes gesond, wek dooies op, reinig melaatses en dryf bose geeste uit. Julle het dit verniet ontvang, gee dit ook verniet.

9“Moenie vir goud of silwer of koper in julle beursies sorg nie 10en moenie vir die pad 'n reissak aanskaf of nog 'n kledingstuk of skoene of 'n stok nie. 'n Arbeider is tog geregtig op onderhoud.

11“As julle in 'n stad of dorp kom, stel dan vas by wie julle daar kan tuis gaan en bly by hom totdat julle die reis voortsit. 12As julle in die huis kom, wens die mense vrede toe. 13As die huismense se gesindheid goed is, handhaaf julle vredewens vir die huis. Maar as hulle nie goedgesind is nie, trek julle vredewens dan terug. 14As iemand julle nie ontvang nie en nie na julle woorde luister nie, gaan uit sy huis of uit daardie dorp uit en skud die stof van julle voete af. 15Dit verseker Ek julle: Dit sal in die oordeelsdag vir die gebied Sodom en Gomorra draagliker wees as vir daardie dorp.”

Vervolginge wat voorlê

(Mark. 13:9-13; Luk. 10:3; 21:12-17)

16“Onthou: Ek stuur julle soos skape tussen wolwe in. Wees dus versigtig soos slange en opreg soos duiwe. 17Pas op vir die mense. Hulle sal julle aan die geregshowe uitlewer, en in hulle sinagoges sal hulle julle gesel. 18Ook voor goewerneurs en konings sal julle gebring word ter wille van My. Dit sal julle geleentheid wees om voor hulle en voor die heidennasies van My te getuig. 19Wanneer hulle julle uitlewer, moet julle julle nie bekommer oor hoe of wat julle moet sê nie, want op daardie oomblik sal God aan julle gee wat julle moet sê. 20Dan is dit nie julle wat praat nie, maar die Gees van julle Vader wat deur julle praat.

21“Die een broer sal die ander uitlewer om doodgemaak te word, en selfs 'n pa sy kind; kinders sal teen hulle ouers in opstand kom en hulle doodmaak. 22Julle sal ter wille van my Naam deur almal gehaat word. Maar wie tot die einde toe volhard, sal gered word. 23As hulle julle in een dorp vervolg, vlug na 'n ander een toe. Dit verseker Ek julle: Julle sal sekerlik nie klaar wees met die dorpe van Israel voordat die Seun van die mens kom nie.

24“'n Leerling is nie hoër as sy leermeester en 'n slaaf nie hoër as sy eienaar nie. 25'n Leerling moet tevrede wees as dit met hom gaan soos met sy leermeester, en 'n slaaf as dit met hom gaan soos met sy eienaar. As hulle die hoof van die huis die skeldnaam Beëlsebul gegee het, sal hulle dan nie sy huisgenote met baie erger name uitskel nie?”

Wie gevrees moet word

(Luk. 12:2-7)

26“Moet dus nie vir mense bang wees nie. Daar is niks bedek wat nie openbaar gemaak sal word nie, en niks geheim wat nie bekend sal word nie. 27Wat Ek vir julle in die donker sê, moet julle in die daglig sê, en wat in julle oor gefluister word, moet julle van die dakke af uitbasuin. 28Moenie bang wees vir dié wat die liggaam doodmaak, maar die siel nie kan doodmaak nie. Nee, vrees Hom eerder wat sowel die liggaam as die siel in die hel kan laat vergaan.

29“Is twee mossies nie vir 'n sent te koop nie? En tog sal nie een van hulle op die grond val sonder die wil van julle Vader nie. 30Van julle is selfs die hare op julle kop almal getel. 31Moet dan nie bang wees nie. Julle is meer werd as baie mossies.”

Aansporing om Christus te bely

(Luk. 12:8-9)

32“Elkeen wat hom voor die mense openlik vir My uitspreek, vir hom sal Ek My ook openlik uitspreek voor my Vader wat in die hemel is. 33Maar hom wat My voor die mense verloën, sal Ek ook verloën voor my Vader wat in die hemel is.”

Jesus bring nie vrede nie maar die swaard

(Luk. 12:51-53; 14:26-27)

34“Moenie dink dat Ek gekom het om vrede op die aarde te bring nie. Ek het nie gekom om vrede te bring nie maar die swaard. 35Ek het gekom om tweedrag te bring

“ ‘tussen 'n man en sy vader

en tussen 'n dogter en haar moeder,

tussen 'n skoondogter en haar skoonmoeder;

36ja, 'n man se huismense sal sy vyande wees.’

37“Hy wat sy vader of moeder liewer het as vir My, is nie werd om aan My te behoort nie; hy wat sy seun of dogter liewer het as vir My, is nie werd om aan My te behoort nie. 38Hy wat nie sy kruis opneem en My volg nie, is nie werd om aan My te behoort nie.

39“Hy wat sy lewe wil behou, sal dit verloor; en hy wat sy lewe ter wille van My verloor, sal dit vind.”

Beloning

(Mark. 9:41)

40“Wie julle ontvang, ontvang My; en wie My ontvang, ontvang Hom wat My gestuur het. 41Wie 'n profeet ontvang omdat hy 'n profeet is, sal 'n profeet se beloning ontvang; en wie 'n goeie mens ontvang omdat hy goed is, sal 'n goeie mens se beloning ontvang. 42Wie aan een van hierdie geringstes net 'n beker koue water gee omdat hy my dissipel is, sál sy beloning kry. Dit verseker Ek julle.”

1Toe Jesus klaar was met die opdragte aan sy twaalf dissipels, het Hy daarvandaan weggegaan om die mense in hulle dorpe te leer en vir hulle te preek.

Jesus en die vraag van Johannes die Doper

(Luk. 7:18-35)

2Johannes het in die tronk gehoor wat Christus alles gedoen het, en het toe deur sy volgelinge 'n boodskap aan Hom gestuur om te vra: 3“Is U die Een wat sou kom, of moet ons 'n ander een verwag?”

4Jesus antwoord hulle: “Gaan vertel vir Johannes wat julle hoor en sien: 5Blindes sien, lammes loop, melaatses word gereinig, dowes hoor, dooies word opgewek, en aan armes word die evangelie verkondig. 6En gelukkig is elkeen wat nie aan My begin twyfel nie.”

7Toe hulle weggaan, het Jesus met die mense oor Johannes begin praat en gesê: “Waarna het julle in die woestyn gaan kyk? Na 'n riet wat deur die wind heen en weer gewaai word? 8Nee? Maar wat het julle dan uitgegaan om te sien? 'n Man met deftige klere aan? Nee, kyk, dié wat deftig aantrek, kry 'n mens in koninklike paleise. 9Maar wat het julle dan uitgegaan om te sien? 'n Profeet? Ja, Ek verseker julle, nog meer as 'n profeet. 10Dit is hy van wie daar geskrywe staan:

“ ‘Kyk, Ek stuur my boodskapper voor jou uit;

hy sal die pad vir jou regmaak.’

11“Dit verseker Ek julle: Onder die mense op aarde is niemand gebore wat groter is as Johannes die Doper nie, en tog is die geringste in die koninkryk van die hemel groter as hy. 12Sedert die dae van Johannes die Doper tot nou toe breek die koninkryk van die hemel vir homself 'n pad oop, en mense wat hulle kragtig inspan, kry dit in besit. 13Al die profete en die wet het tot op Johannes geprofeteer, 14en as julle dit wil aanvaar: Johannes is die Elia wat sou kom. 15Wie ore het, moet luister.

16“Waarmee moet Ek hierdie geslag vergelyk? Hulle is net soos kinders wat op die markpleine vir mekaar sit en roep:

17“ ‘Ons het vir julle op die fluit gespeel,

en julle het nie gedans nie!

Ons het 'n treurlied gesing,

en julle het nie gehuil nie!’

18“Johannes het gekom en nie geëet of gedrink nie, en hulle sê: ‘Hy is van die duiwel besete.’ 19Die Seun van die mens het gekom en geëet en gedrink, en hulle sê: ‘Kyk daar, 'n vraat en 'n wynsuiper, 'n vriend van tollenaars en sondaars.’ Maar God tree met wysheid op, en sy werke bewys dit.”

Die onboetvaardige dorpe

(Luk. 10:13-15)

20Toe het Jesus die dorpe waarin Hy die meeste van sy wonderdade gedoen het, begin verwyt omdat hulle hulle nie bekeer het nie:

21“Ellende wag vir jou, Gorasin! Ellende wag vir jou, Betsaida! As in Tirus en Sidon die wonderdade plaasgevind het wat in julle plaasgevind het, sou hulle hulle lankal in sak en as bekeer het. 22Maar Ek sê vir julle: Vir Tirus en Sidon sal dit in die oordeelsdag draagliker wees as vir julle. 23En jy, Kapernaum, dink jy

“ ‘jy sal tot die hemel toe verhoog word?

Nee, jy sal tot in die doderyk afdaal.’

“As in Sodom die wonderdade plaasgevind het wat in jou plaasgevind het, sou hy tot vandag toe nog bly staan het. 24Maar Ek sê vir julle: Vir die land van Sodom sal dit in die oordeelsdag draagliker wees as vir jou.”

Die uitnodiging van Jesus

(Luk. 10:21-22)

25Daardie tyd het Jesus gesê: “Ek prys U, Vader, Here van hemel en aarde, dat U hierdie dinge vir slim en geleerde mense verberg het en dit aan eenvoudiges bekend gemaak het. 26Ja, Vader, so was dit u genadige bedoeling.

27“My Vader het alles aan My toevertrou, en niemand ken die Seun nie, behalwe die Vader; en ook ken niemand die Vader nie, behalwe die Seun en elkeen aan wie die Seun Hom wil bekend maak.

28“Kom na My toe, almal wat uitgeput en oorlaai is, en Ek sal julle rus gee. 29Neem my juk op julle en leer van My, want Ek is sagmoedig en nederig van hart, en julle sal rus kry vir julle gemoed. 30My juk is sag en my las is lig.”

Bible Society of South Africav.4.18.14
VOLG ONS