Daar kom 'n ramp oor jou
1Klim af, gaan sit in die stof, Babel!
Gaan sit op die grond
sonder jou troon,
stad van die Galdeërs!
Jy sal nie langer vergelyk word met 'n jong vrou
wat fyn is en altyd haar sin kry nie.
2Vat maalklippe en maal meel,
slaan jou sluier op, trek jou boklere uit,
maak jou onderlyf kaal en loop deur die rivier.
3Jou geslagsdele sal kaal wees,
mense sal jou bekyk en jou bespot.
Ek, die Here, gaan jou straf,
Ek sal niemand verskoon nie.
4Ons Verlosser is die Heilige van Israel,
sy Naam is die Here die Almagtige.
5Sit doodstil, kruip weg in die donker,
stad van die Galdeërs!
Jy sal nie langer bekend staan
as die een wat heers oor al die koninkryke nie.
6Ek was kwaad vir my volk,
Ek het hulle nie meer as my besitting beskou nie;
daarom het Ek hulle in jou mag oorgegee.
Maar jy het nie met hulle medelye gehad nie;
selfs op die oumense het jy 'n swaar juk gelê.
7Jy het gedink jy sal altyd bestaan, altyd heers.
Jy het nie aan die gevolge gedink nie,
jy het nie gedink aan wat sal gebeur nie.
8Luister dan nou hierna,
jy wat in wellus lewe,
jy wat so rustig woon,
jy wat dink:
daar is niemand soos ek nie,
ek sal nie sonder 'n sorg sit soos 'n weduwee nie,
en ek sal nie my inwoners verloor nie.
9Altwee hierdie dinge sal jou oorval,
in een oomblik, op dieselfde dag:
jy sal jou inwoners verloor
en niemand sal vir jou sorg nie.
Dit sal jou voluit tref
ondanks jou baie toordery,
ondanks jou magdom beswerings.
10Jy het op jou bose dade vertrou,
jy het gedink daar is niemand wat jou sien nie.
Jou wysheid en jou kennis het jou mislei,
en jy het gedink:
daar is niemand soos ek nie.
11Maar daar kom 'n ramp oor jou
wat jy nie kan besweer nie,
onheil oorval jou,
en jy kan dit nie met 'n losprys keer nie.
Jou ondergang kom skielik,
jy het dit nie verwag nie.
12Gaan maar aan met jou beswerings
en jou baie toordery
waarmee jy jou van jongs af al ophou.
Dalk bereik jy iets daarmee,
dalk skrik jy jou vyande daarmee af!
13Jy het jou moeg gemaak met jou baie voortekens.
Laat jou voorspellers nou optree,
laat hulle jou help,
hulle wat die hemel opdeel
en die sterre bekyk,
hulle wat elke maand bekend maak
wat oor jou gaan kom.
14Maar hulle het soos stoppels geword,
hulle gaan verbrand.
Hulle kan hulleself nie red van die vlamme nie.
Daar bly nie eens kole oor om jou by warm te maak nie,
'n vuur om by te sit nie.
15Dit is wat jy het aan dié met wie jy jou ophou,
met wie jy jou van jongs af inlaat.
Hulle het almal gedwaal,
daar is niemand wat jou kan red nie.