Bible Society of South Africa

Na die Woord – Dag 104

JESAJA 48–51, MATTEUS 14–15

Bybelteks(te)

Ek het dit bekend gemaak

1Luister, nageslag van Jakob,

julle wat julleself Israel noem

en wat uit Juda voortkom,

julle wat in die Naam van die Here 'n eed aflê

en die God van Israel aanbid,

maar nie eerlik en opreg nie;

2julle noem julleself na die heilige stad

en julle maak staat op die God van Israel,

op Hom wie se Naam die Here die Almagtige is.

Luister hierna:

3Ek het wat vroeër gebeur het,

lank tevore reeds aangekondig,

uit my mond is dit gehoor,

Ek het dit bekend gemaak.

Toe het Ek dit skielik laat gebeur.

4Omdat Ek weet dat julle hardkoppig is,

dat julle so weerbarstig soos 'n stuk yster is

en dat julle kop so hard soos brons is,

5daarom het Ek dit lank tevore vir julle aangekondig,

en dit aan julle bekend gemaak voordat dit gebeur het

sodat julle nie kon sê: “Ons afgode het dit gedoen,

ons afgodsbeelde het beveel dat dit moet gebeur” nie.

6Julle het dit alles gehoor, julle kon dit alles self sien,

sal julle dan nie daarvan getuig nie?

Van nou af laat Ek julle nuwe dinge hoor,

dinge wat verborge was, waarvan julle niks geweet het nie.

7Ek gaan dit nou doen, dit was nie voorheen daar nie.

Voor vandag het julle nie daarvan gehoor nie,

julle kan nie sê:

“Ons het dit al geweet” nie.

8Julle het nog niks daarvan gehoor nie

en julle weet nog niks daarvan nie.

Julle kon dit nie vantevore hoor nie,

want Ek het geweet dat julle nie vertrou kan word nie,

dat julle van julle geboorte af al as oortreders bekend is.

9Ter wille van my Naam bedwing Ek my toorn,

ter wille van my eer tree Ek nie op teen julle nie

dat julle nie vernietig word nie.

10Ek het jou gelouter,

maar nie soos silwer gelouter word nie,

Ek het jou gelouter in die smeltkroes van ellende.

11Ter wille van Myself en daarom alleen, doen Ek dit,

Ek laat my Naam nie oneer aandoen nie.

Ek gee die eer wat My toekom, aan niemand anders nie.

Die Here het sy dienaar Jakob verlos

12Luister na My, Jakob,

luister, Israel, vir wie Ek geroep het:

Ek is die Here,

Ek is die eerste, en Ek is die laaste.

13Met my eie hand het Ek die aarde se fondamente gelê,

deur my mag het Ek die hemelkoepel oopgesprei:

Ek het hulle te voorskyn geroep

en hulle het tot stand gekom.

14Kom almal bymekaar, luister.

Wie van die gode het aangekondig wat nou gaan gebeur?

Die Here het iemand lief,

en dié sal aan Babel doen wat hy wil

en sy mag teen die Galdeërs laat geld.

15Ek, Ek het dit gesê, Ek het hom geroep,

Ek het hom laat kom,

en hy sal voorspoedig wees in wat hy moet doen.

16Kom nader na My toe

en luister hierna:

Van die begin af al het Ek niks geheim gehou nie,

vandat iets begin gebeur het, is Ek nog altyd daar.

En nou, die Here God het my en sy Gees gestuur.

17So sê die Here, jou Verlosser,

die Heilige van Israel:

Ek is die Here jou God

wat jou onderrig tot jou beswil,

wat jou lei op die pad waarop jy moet gaan.

18As jy maar aan my gebooie gehoorsaam was,

sou daar voorspoed en redding vir jou gekom het,

so onkeerbaar soos 'n rivier, soos die golwe van die see.

19Jou nageslag sou so baie gewees het soos sand,

jou afstammelinge so volop soos sandkorrels,

en Ek sou toegesien het dat hulle nie vernietig

en uitgeroei word nie.

20Gaan uit Babel uit,

vlug weg van die Galdeërs af!

Jubel dit uit,

maak hierdie aankondiging

en laat dit weerklink tot in die uithoeke van die aarde;

sê: “Die Here het sy dienaar Jakob verlos!”

21Sy volk het nie dors gekry

toe Hy hulle deur 'n droë wêreld gelei het nie.

Hy het vir hulle water uit 'n rots laat stroom,

Hy het die rots gekloof

en daar het water uitgestroom.

22Maar vir die goddeloses

is daar geen vrede nie, sê die Here.

Ek maak jou 'n lig van die nasies

1Luister na my, eilande,

gee aandag, nasies wat ver is!

Die Here het my voor my geboorte al geroep;

toe ek nog in my moeder se liggaam was,

het Hy my op my naam genoem.

2Hy het my mond soos 'n skerp swaard gemaak,

my in die skaduwee van sy hand verberg,

Hy het my 'n skerp pyl gemaak

en my in sy pylkoker weggesteek.

3Hy het vir my gesê: Jy is my dienaar,

jy is Israel, deur jou maak Ek my mag bekend.

4Ek het gedink: ek het my tevergeefs vermoei,

ek het my heeltemal verniet afgesloof.

Maar die Here sál aan my reg laat geskied,

my God sál my beloon.

5En nou maak die Here 'n aankondiging,

Hy wat my in die moederskoot al sy dienaar gemaak het

om Jakob na Hom toe terug te bring

sodat Israel nie meer verstrooi sal wees nie.

Die Here het my 'n belangrike opdrag gegee

en my God gee my die krag om dit te doen.

6Hy het gesê: Dit is nie genoeg dat jy my dienaar is

om die stamme van Jakob te herstel

en om die Israeliete wat gered is,

terug te bring nie;

Ek maak jou 'n lig vir die nasies

sodat die redding wat Ek bewerk,

die uithoeke van die aarde sal bereik.

7So sê die Here,

die Heilige van Israel, sy Verlosser,

vir dié een wat diep verag is,

wat deur die nasies verafsku word

en wat 'n dienaar van regeerders is:

Konings sal sien wat gebeur en sal opstaan,

leiers sal buig

tot eer van die Here wat getrou is,

die Heilige van Israel wat jou uitverkies het.

Hulle sal nie honger of dors kry nie

8So sê die Here:

Op 'n tyd wat Ek goeddink, sal Ek jou gebede verhoor,

op die dag wanneer Ek wil red, sal Ek jou help.

Ek sal jou beskerm

en jou my verbond met my volk maak

om sy land te herstel,

om sy verlate eiendom weer in besit te neem,

9om aan dié wat gevange gehou word, te sê: “Gaan uit!”

aan dié wat in die donker opgesluit sit: “Kom uit!”

Hulle sal versorg word terwyl hulle op pad is,

selfs op kaal heuwels sal daar vir hulle genoeg wees.

10Hulle sal nie honger of dors kry nie,

die woestynhitte en die son sal hulle nie brand nie,

want Hy wat Hom oor hulle ontferm het,

sal hulle onder sy sorg neem.

Hy sal hulle by fonteine langs lei.

11Ek sal al my berge paaie maak,

my grootpaaie sal sonder opdraandes wees.

12Daar kom my volk van ver af!

Party kom uit die noorde en uit die weste,

party kom uit die land van die Siniete.

13Jubel, hemel! Juig, aarde!

Sing vrolik, berge!

Die Here het vir sy volk uitkoms gegee,

Hy het Hom ontferm oor sy volk wat in nood was.

14Sion sê: “Die Here het my verlaat,

die Here het my vergeet.”

15Kan 'n vrou haar eie baba vergeet,

haar nie ontferm oor die kind

wat sy in die wêreld gebring het nie?

Selfs al sou so iets kon gebeur,

Ek sal jou nie vergeet nie.

16Ek het jou naam in my handpalms gegraveer,

Ek sien jou mure altyd voor my.

17Jou kinders kom binnekort,

en dié wat jou verwoes en verniel het, sal uit jou uit padgee.

18Kyk rondom jou en sien wat gebeur,

al jou kinders kom bymekaar en hulle kom na jou toe.

So seker as Ek lewe, sê die Here,

jy sal oor hulle so bly wees soos 'n vrou oor halssnoere,

soos 'n bruid oor haar juwele.

19Jy is nou nog net puinhoop en ruïne,

'n verwoeste plek,

maar jy sal te klein word vir al jou inwoners,

en dié wat jou afgebreek het, sal verdwyn.

20Kinders wat jy nou nie het nie,

sal nog in jou ore kom kerm en sê:

“Dié plek is te klein vir ons!

Maak vir ons plek om in te woon!”

21Dan sal jy dink:

wie het hierdie kinders vir my in die wêreld gebring?

Ek was kinderloos en onvrugbaar,

'n balling, 'n verstoteling.

Wie het hierdie kinders grootgemaak?

Ek het alleen oorgebly.

Waar kom hulle vandaan?

22So sê die Here God:

Ek sal my hand uitstrek na die nasies toe,

onder die volke sal Ek my vaandel opsteek.

Dan sal hulle jou seuns op die arm na jou toe bring,

en jou dogters sal op die skouer aangedra word.

23Konings sal jou kinders oppas,

koninginne sal hulle pleegmoeders wees.

Hulle sal diep voor jou buig

en die stof van jou skoene aflek.

Dan sal jy besef dat Ek die Here is;

wie op My vertrou, word nie teleurgestel nie.

24Kan 'n soldaat se buit afgeneem word?

Sal 'n gevangene sommer vrygelaat word

as hy onder bewaking van 'n betroubare persoon is?

25So sê die Here:

'n Soldaat se gevangene kan ontset word,

selfs 'n man met baie mag se buit kan afgeneem word.

Ek is 'n vyand van jou vyand

en Ek sal jou kinders red.

26Ek sal jou verdrukkers hulle eie vleis laat eet,

hulle sal van hulle eie bloed so dronk word soos van wyn.

Dan sal al wat leef, besef dat Ek die Here is,

jou Redder en jou Verlosser, die magtige God van Jakob.

Julle is oor julle sondes verkoop

1So sê die Here:

Waar is die skeibrief wat Ek vir jou moeder gegee het

toe Ek van haar geskei het?

Of aan wie het Ek geld geskuld

dat Ek julle daarvoor aan hom gegee het?

Nee, dit is oor julle sondes dat julle verkoop is,

oor julle oortredings dat Ek van julle geskei het.

2Waarom was daar niemand toe Ek gekom het nie?

Waarom het niemand geantwoord toe Ek geroep het nie?

Is Ek nie in staat om te verlos nie,

het Ek nie die krag om te red nie?

Wanneer Ek die see aanspreek, droog hy op.

Ek laat riviere opdroog:

die visse stink, daar is nie water nie,

hulle vrek sonder water.

3Ek maak die hemel donker,

Ek trek vir hom rouklere aan.

Wie wil my aankla?

4Die Here my God het my geleer

om die regte woorde te gebruik

sodat ek dié wat moeg is, kan moed inpraat.

Elke môre laat Hy my opnuut weer luister,

Hy laat my luister soos 'n leerling moet luister.

5Die Here my God het my geleer om te luister:

ek was nie teen Hom opstandig nie,

ek was nie ontrou aan Hom nie.

6Ek het my rug gehou vir dié wat my slaan,

my wang vir dié wat my baard uittrek.

Ek het my gesig nie weggedraai

toe ek bespot en bespoeg is nie.

7Die Here my God help my,

ek sal nie teleurgestel staan nie;

ek sal my nie ontstel nie,

ek weet ek sal nie in verleentheid kom nie.

8Hy wat my onskuldig sal verklaar, is naby;

wie wil 'n aanklag teen my inbring?

Laat ons elkeen sy saak stel.

Wie wil my aankla?

Laat hom vorentoe kom.

9Die Here my God help my;

wie sal my dan skuldig verklaar?

Dit is verby met almal wat my beskuldig,

soos met 'n lap wat deur motte gevreet word.

10Wie van julle dien die Here

en luister na sy dienaar?

Wie in die donker loop

en geen lig sien nie,

moet op die Here vertrou,

moet op sy God steun.

11Maar julle wat vure aansteek,

wat brandpyle gereed maak,

julle sal in julle eie vuur brand,

deur julle eie brandpyle sal julle doodbrand.

Dit is my mag wat dit oor julle bring,

julle sal beland in die plek waar die pyn nooit ophou nie.

Die redding wat Ek bring, sal altyd bly

1Luister na My, julle wat wil reg doen,

julle wat na die wil van die Here vra:

Dink aan die rots waaruit julle gekap is,

aan die klipgroef waaruit julle gegrawe is.

2Dink aan Abraham, julle voorvader,

aan Sara wat vir julle in die wêreld gebring het.

Ek het Abraham geroep toe hy kinderloos was

en Ek het hom geseën en hom 'n groot nageslag gegee.

3Nou gaan die Here Hom oor Sion ontferm,

Hy gaan Hom oor al die puinhope daar ontferm.

Hy gaan die woestyngedeeltes maak soos Eden,

die barre wêreld soos die tuin van die Here.

Daar sal vreugde en blydskap in Sion wees,

daar sal gedank en gesing word.

4Luister na My, my volk,

my volk, gee aandag aan wat Ek sê:

My onderrig sal uitgaan na die volke toe,

my wil sal vir die nasies die koers aanwys.

5Die redding wat Ek bring, kom baie gou,

die verlossing wat Ek bewerk, is op pad,

Ek self regeer oor die nasies.

Die eilande wag op My,

hulle wag dat Ek My laat geld.

6Kyk op na die hemel,

kyk na die aarde hier onder:

die hemel sal soos rook verdwyn,

die aarde sal word soos ou klere,

en almal wat daarop woon, sal doodgaan soos muggies,

maar die verlossing wat Ek bewerk, sal vir altyd wees,

die redding wat Ek bring, sal altyd bly.

7Luister na My, julle wat doen wat reg is,

volk in wie se hart my wet is,

moenie bang wees vir die spot van mense nie,

moenie skrik as hulle julle beledig nie.

8Hulle is soos lap wat deur motte gevreet word,

soos wol wat deur vismotte verniel word.

Maar die redding wat Ek bring, sal vir altyd wees,

die verlossing wat Ek bewerk, sal daar wees vir elke geslag.

9Gryp in, Here, gryp in!

Toon u mag, u krag!

Gryp in soos in die ou tyd,

soos in tye lank gelede.

Is dit dan nie U wat vir Rahab verslaan het nie,

wat die seemonster deurboor het nie?

10Is dit nie U wat die see,

die groot diep waters laat opdroog het nie,

U wat op die seebodem 'n pad gemaak het

sodat dié wat verlos is, kon deurgaan nie?

11Dié wat deur die Here verlos is, sal terugkeer,

hulle sal juigend in Sion aankom,

hulle sal altyd straal van blydskap,

hulle sal vol vreugde en blydskap wees,

ellende en smart sal verdwyn.

12Ek is die Here, Ek bring uitkoms vir julle.

Hoe is dit dan dat jy bang is vir 'n sterflike mens,

vir 'n mens wat so maklik vergaan soos gras?

13Jy vergeet die Here wat jou gemaak het,

wat die hemel oopgespan het,

wat die aarde se fondamente gelê het.

Jy was altyddeur bang vir die woede van die verdrukker,

vir hom wat daarop uit was om jou te vernietig,

maar waar is die woede van jou verdrukker nou?

14Binnekort sal dié wat nog gevange gehou word,

vrygelaat word,

die ballingskap sal nie hulle graf word nie,

en hulle sal nie honger ly nie.

15Ek is die Here jou God,

Ek laat die see onstuimig word,

Ek laat sy golwe druis.

Sy Naam is die Here die Almagtige!

16Ek het vir jou gesê wat jy moet sê,

en jou beskerm in die skaduwee van my hand,

want Ek het die hemel oopgespan

en die aarde se fondamente gelê

en vir Sion gesê: Jy is my volk.

Jerusalem hoef nie langer die oordeelsbeker te drink nie

17Word wakker, word wakker!

Staan op, Jerusalem!

Jy wat die oordeelsbeker

uit die hand van die Here gedrink het,

wat die beker gedrink het wat jou laat steier het,

dit leeggedrink het!

18Onder al die seuns wat jy in die wêreld gebring het,

was daar nie een wat jou gelei het nie,

onder almal wat jy grootgemaak het,

was daar nie een wat jou aan die hand gevat het nie.

19Kyk wat het jou alles getref.

Wie het nog medelye met jou?

Daar is net verwoesting en vernietiging,

hongersnood en bloedvergieting.

Wie kan vir jou uitkoms gee?

20Soos wild wat in 'n vangnet gevang is,

lê jou seuns magteloos op die hoeke van die strate,

voluit getref deur die toorn van die Here,

deur die straf van jou God.

21Luister dan tog hierna,

jy wat in soveel ellende verkeer,

jy wat dronk is, maar nie van wyn nie.

22So sê die Here, jou Here en jou God

wat die saak van sy volk behartig:

Ek gaan die beker wat jou laat steier het,

uit jou hand wegvat,

die beker van my toorn.

Jy hoef nie verder daaruit te drink nie.

23Inteendeel, Ek sit dit in die hand van jou verdrukkers,

hulle wat vir jou gesê het:

“Gaan lê dat ons oor jou kan loop.”

Jy moes jou rug soos die grond maak,

soos 'n straat vir dié wat oor jou geloop het.

Die dood van Johannes die Doper

(Mark. 6:14-29; Luk. 9:7-9)

1Daardie tyd het Herodes, die heerser, gehoor wat van Jesus vertel word, 2en hy het vir sy paleispersoneel gesê: “Maar dit is mos Johannes die Doper! Hy is uit die dood opgewek, daarom werk die kragte in hom!”

3Vroeër het Herodes vir Johannes laat vang, laat boei en in die tronk laat opsluit. Dit het hy gedoen oor Herodias die vrou van sy broer Filippus, 4want Johannes het vir Herodes gesê: “U mag haar nie as vrou vat nie.” 5Herodes wou hom daaroor doodmaak maar was tog bang vir die mense, omdat hulle hom as 'n profeet beskou het.

6Met Herodes se verjaarsdagviering het die dogter van Herodias voor die gaste gedans. Herodes was so in sy skik met haar 7dat hy 'n eed afgelê het dat hy vir haar sal gee net wat sy vra. 8Haar ma het haar voorgesê en sy het gevra: “Gee vir my hier in 'n skottel die kop van Johannes die Doper.”

9Hieroor het die koning baie sleg gevoel, maar vanweë die eed wat hy voor die gaste afgelê het, het hy opdrag gegee dat aan haar versoek voldoen moet word. 10Hy het iemand gestuur en Johannes in die tronk laat onthoof. 11Hulle het sy kop in 'n skottel ingebring en aan die meisie gegee, wat dit na haar ma toe gevat het. 12Sy dissipels het sy liggaam kom haal en begrawe; en hulle het dit vir Jesus gaan vertel.

Die eerste vermeerdering van die brood

(Mark. 6:30-44; Luk. 9:10-17; Joh. 6:1-14)

13Toe Jesus dit hoor, het Hy met 'n skuit daarvandaan weggegaan na 'n stil plek om alleen te wees. Die mense het hiervan gehoor en Hom van die dorpe af te voet gevolg. 14Toe Hy uit die skuit klim, het Hy die groot menigte mense daar gesien. Hy het hulle innig jammer gekry en die siekes onder hulle gesond gemaak.

15Toe dit al aand begin word, het sy dissipels vir Hom kom sê: “Dit is 'n afgeleë plek en dit het al laat geword. Stuur die mense terug dat hulle vir hulle kan gaan kos koop in die dorpe.”

16Maar Jesus sê vir hulle: “Hulle hoef nie weg te gaan nie. Gee julle vir hulle iets om te eet.”

17Hulle sê toe vir Hom: “Ons het hier net vyf brode en twee visse.”

18“Bring dit vir My hier,” sê Hy.

19Hy het die menigte beveel om op die groen gras te gaan sit om te eet. Toe neem Hy die vyf brode en die twee visse, kyk op na die hemel en vra die seën. Daarna het Hy die brood gebreek en dit aan sy dissipels gegee, en hulle het dit aan die mense gegee. 20Al die mense het geëet en genoeg gekry, en hulle het nog twaalf mandjies vol bymekaargemaak van die stukke brood wat oorgebly het. 21Daar was omtrent vyf duisend mans wat geëet het, afgesien van die vrouens en kinders.

Jesus loop op die see

(Mark. 6:45-52; Joh. 6:15-21)

22Net daarna het Jesus sy dissipels in die skuit laat klim om solank voor Hom uit te vaar na die oorkant toe terwyl Hy nog eers die mense huis toe laat gaan. 23Nadat Hy die mense weggestuur het, het Hy alleen na die berg toe gegaan om te bid. Toe dit aand word, was Hy daar alleen.

24Die skuit was reeds 'n paar kilometer van die kus af en is deur die golwe geteister, want die wind was van voor. 25Met dagbreek die volgende môre het Hy op die see na hulle toe aangeloop gekom. 26Toe sy dissipels Hom op die see sien loop, het hulle groot geskrik en gesê: “Dis 'n spook!” Van angs het hulle hard begin skreeu.

27Maar Jesus het dadelik met hulle gepraat en gesê: “Wees gerus, dit is Ek. Moenie bang wees nie.”

28Toe sê Petrus vir Hom: “Here, as dit regtig U is, beveel my om op die water na U toe te kom.”

29“Kom!” sê Hy.

Petrus het uit die skuit geklim, op die water begin loop en naby Jesus gekom. 30Maar toe Petrus sien hoe sterk is die wind, het hy bang geword en begin sink en uitgeroep: “Here, red my!”

31Dadelik het Jesus sy hand uitgesteek, hom gegryp en vir hom gesê: “Kleingelowige, waarom het jy begin twyfel?”

32Hulle het toe in die skuit geklim, en die wind het gaan lê. 33Die manne in die skuit het voor Jesus gekniel en gesê: “U is waarlik die Seun van God.”

Jesus genees mense in die landstreek Gennesaret

(Mark. 6:53-56)

34Hulle het toe land toe gevaar en by Gennesaret aan wal gegaan. 35Net toe die mense van daardie plek agterkom wie Hy is, het hulle boodskappers deur daardie hele omgewing gestuur, en die mense het almal wat ongesteld was, na Hom toe gebring. 36Hulle het Hom gevra dat die siekes tog maar net aan die soom van sy klere mag raak. En almal wat dit gedoen het, het gesond geword.

Die oorgelewerde gebruike van die voorgeslagte

(Mark. 7:1-13)

1In dié tyd het daar Fariseërs en skrifgeleerdes van Jerusalem af by Jesus gekom en Hom gevra: 2“Hoekom verontagsaam u dissipels die oorgelewerde gebruike van die voorgeslagte? As hulle gaan eet, was hulle nie hulle hande nie.”

3“Waarom verontagsaam julle self die gebod van God ter wille van julle oorgelewerde gebruike?” het Jesus geantwoord. 4“God het tog gesê: ‘Eer jou vader en jou moeder’ en: ‘Wie sy vader of sy moeder vloek, moet sekerlik doodgemaak word.’ 5Maar julle bepaal: ‘As iemand vir sy pa of sy ma sê: Die hulp wat u van my sou kon kry, maak ek 'n offergawe vir God, 6dan hoef hy nie meer sy plig teenoor sy pa na te kom nie.’ So ontneem julle die woord van God sy gesag ter wille van julle oorgelewerde gebruike. 7Huigelaars! Die profeet Jesaja het julle mooi opgesom toe hy gesê het:

8“Hierdie volk eer My met hulle mond,

maar hulle hart is ver van My af.

9Dit help niks dat hulle My probeer dien

deur leerstellings van mense

as gebooie van God voor te hou nie.

Wat 'n mens onrein maak

(Mark. 7:14-23)

10Toe het Jesus die menigte nader geroep en vir hulle gesê: “Julle moet nou luister en mooi verstaan! 11Dit is nie wat by die mond ingaan wat die mens onrein maak nie. Maar wat by die mond uitkom, dit maak 'n mens onrein.”

12Daarna het die dissipels na Hom toe gekom en gesê: “Weet U dat die Fariseërs hulle vererg het toe hulle gehoor het wat U sê?”

13Maar Jesus antwoord: “Elke plant wat my hemelse Vader nie geplant het nie, sal uitgetrek word. 14Laat staan hulle maar; hulle is blinde leiers van blindes. As 'n blinde 'n blinde lei, val altwee in die sloot.”

15Petrus sê toe vir Hom: “Verduidelik tog vir ons die beeldspraak.”

16“Verstaan ook julle dit nog nie?” antwoord Jesus. 17“Begryp julle nie dat alles wat by die mond ingaan, na die maag toe gaan en daarna uit die liggaam uitgaan nie? 18Maar wat by die mond uitkom, kom uit die hart, en dít is die dinge wat die mense onrein maak. 19Uit die hart kom slegte gedagtes: moord, owerspel, onkuisheid, diefstal, vals getuienis, kwaadpratery. 20Dít is die dinge wat 'n mens onrein maak, maar om met ongewaste hande te eet, maak 'n mens nie onrein nie.”

Die Kanaänitiese vrou

(Mark. 7:24-30)

21Jesus het daarvandaan weggegaan en na die streke van Tirus en Sidon toe vertrek. 22'n Kanaänitiese vrou wat in daardie gebied gewoon het, het onverwags by Hom aangekom. Sy het aanhoudend geroep: “Ontferm U oor my, Here, Seun van Dawid! My dogter is in die mag van 'n bose gees, en dit gaan sleg.”

23Maar Hy het haar niks geantwoord nie.

Sy dissipels kom toe by Hom en vra: “Stuur haar weg, want sy hou aan met skreeu hier agter ons.”

24Jesus antwoord: “Ek is net na die verlore skape van die volk Israel toe gestuur.”

25Maar die vrou kom kniel voor Hom en sê: “Here, help my!”

26Hy sê vir haar: “Dit is nie mooi om die kinders se brood te vat en vir die hondjies te gooi nie.”

27“Dit is waar, Here,” sê sy, “maar die hondjies eet darem van die krummels wat van hulle base se tafels afval.”

28“Mevrou,” sê Jesus vir haar, “jou geloof is groot. Jou wens word vervul.”

Van daardie oomblik af was die dogter gesond.

Jesus maak baie siekes gesond

29Jesus het daarvandaan vertrek en by die See van Galilea gekom. Hy het teen die berg opgegaan en daar gaan sit. 30Baie mense het na Hom toe gekom met verlamdes, blindes, gebreklikes, dowes en nog baie ander, en hulle voor Hom neergesit. Hy het hulle gesond gemaak, 31sodat die menigte hulle verwonder het toe hulle sien dat stommes praat, gebreklikes herstel is, verlamdes loop en blindes sien. En hulle het die God van Israel geprys.

Die tweede vermeerdering van die brood

(Mark. 8:1-10)

32Jesus het sy dissipels nader geroep en vir hulle gesê: “Ek kry hierdie mense innig jammer, want hulle is nou al drie dae lank hier by My en hulle het niks om te eet nie. En Ek wil hulle ook nie sonder kos huis toe stuur nie, want hulle kan miskien op pad beswyk.”

33Sy dissipels sê vir Hom: “Waar sal ons in hierdie verlate plek genoeg brood kry om so baie mense kos te gee?”

34“Hoeveel brood het julle?” vra Hy vir hulle.

“Sewe,” antwoord hulle, “en 'n paar vissies.”

35Hy het gesê die mense moet op die grond gaan sit. 36Toe neem Hy die sewe brode en die visse en dank God daarvoor. Daarna het Hy die brood gebreek en dit aan die dissipels gegee, en hulle het dit aan die mense gegee. 37Almal het geëet en genoeg gekry. En die dissipels het nog sewe mandjies vol bymekaargemaak van die stukke wat oorgebly het. 38Daar was vier duisend mans wat geëet het, afgesien van die vrouens en kinders.

39Daarna het Hy die mense huis toe gestuur, in die skuit geklim en na die gebied van Magadan vertrek.

Bible Society of South Africav.4.18.14
VOLG ONS