Bible Society of South Africa

Nuwejaar – Dag 4

Reël 4: Vat elke dag soos dit kom.

Bybelteks(te)

Petrus verloën Jesus

54Hulle het Jesus toe gevange geneem en Hom weggelei en in die huis van die hoëpriester gebring. Petrus het op 'n afstand agterna gekom. 55In die middel van die binneplaas was daar 'n vuur, en daar het mense bymekaar gesit. Petrus het tussen hulle gaan sit. 56'n Diensmeisie wat hom in die skynsel van die vuur sien sit het, het hom goed bekyk en gesê: “Dié een was ook saam met daardie man.”

57Maar Petrus het dit ontken deur te sê: “Juffrou, ek ken Hom nie!”

58'n Rukkie later sien iemand anders hom en sê: “Jy is mos ook een van hulle.”

Maar Petrus antwoord: “Man, ek is nie!”

59Na verloop van sowat 'n uur het nog een met beslistheid beweer: “Sowaar, dié een was ook saam met daardie man. Hy is mos ook 'n Galileër!”

60Maar Petrus sê: “Man, ek weet nie waarvan jy praat nie!”

En onmiddellik, terwyl hy nog praat, het daar 'n haan gekraai. 61Die Here het omgedraai en Petrus aangekyk. Toe val dit Petrus by wat die Here vir hom gesê het: “Voordat die haan vannag kraai, sal jy My drie maal verloën.” 62En Petrus het buitentoe gegaan en bitterlik gehuil.

LUKAS 22:54-62AFR83Maak oop in die Bybelleser

Verwag dat daar tye van vertwyfeling sal wees want geloof is nie ʼn eenvoudige optelsom of ʼn eksakte wetenskap nie. Soms is die lewe saai en vervelig en sommer net sêd. Vat elke dag soos dit kom. Troos jou daaraan dat Jesus gehuil het, soos jy, dat heiliges ook gesondig het, dat die liewe Petrus ontrou was en dat die dissipels ʼn klomp bangbroeke was toe hulle moes staan waarvoor hulle geglo het.

Bible Society of South Africav.4.18.14
VOLG ONS