Bible Society of South Africa

‘n Nuwe begin – Dag 9

Sy betrokkenheid – Loof Hom!

Bybelteks(te)

7Waarheen sou ek gaan om u Gees te ontvlug?

Waarheen sou ek vlug om aan u teenwoordigheid te ontkom?

PSALMS 139:7AFR83Maak oop in die Bybelleser

U omsluit my van alle kante

1Vir die koorleier. Van Dawid. 'n Psalm.

Here, U sien dwarsdeur my,

U ken my.

2Of ek sit en of ek opstaan, U weet dit,

U ken my gedagtes nog voordat hulle by my opkom.

3Of ek reis en of ek oorbly, U bepaal dit,

U is met al my paaie goed bekend.

4Daar is nog nie 'n woord op my tong nie

of U, Here, weet wat dit gaan wees.

PSALMS 139:1-4AFR83Maak oop in die Bybelleser

16U het my al gesien toe ek nog ongebore was,

al my lewensdae was in u boek opgeskrywe

nog voordat ek gebore is.

PSALMS 139:16AFR83Maak oop in die Bybelleser

8Klim ek op na die hemel, is U daar,

gaan lê ek in die doderyk, is U ook daar.

9Vlieg ek na die ooste,

of gaan woon ek in die verre weste,

10ook daar lei u hand my,

hou u regterhand my vas.

11Ek sou die duisternis kon vra om my weg te steek,

of die lig rondom my om in nag te verander,

12maar vir U is selfs die duisternis nie donker nie

en die nag so lig soos die dag,

duisternis so goed soos lig.

PSALMS 139:8-12AFR83Maak oop in die Bybelleser

10Wat 'n mens is, word reeds met die naam mens gesê, dit is bekend wat hy is: hy is mens. Hy kan nie 'n regstryd voer met die Een wat sterker as hy is nie.

PREDIKER 6:10AFR83Maak oop in die Bybelleser

Dawid dink nuut en vanuit ‘n ander perspektief as hy hom tot God rig en hierdie twee vrae vra. Hy soek nie antwoorde nie; hy ken die antwoord reeds: wegkruip, weghardloop of wegvlug van die teenwoordigheid van die Here is geen opsie nie. Hy weet alles en Hy is oral teenwoordig!

Hierdie wete bring vir Dawid sekuriteit, want hy weet: niks wat oor sy pad kom, of nêrens waar hy heengaan, gebeur sonder die medewete en teenwoordigheid van die Here nie. Hy is diep onder die indruk van sy kennis oor die kleinste besonderheid van die mens se lewe, selfs voordat dit nog gebeur. Hy weet van ons sit en opstaan, ons ry of bly, ons elke gedagte en selfs ons ongesproke woorde. Ja, hy sien dwarsdeur ons, Hy ken ons deur en deur. Reeds voor ons geboorte was elke dag van ons lewe reeds in sy boek opgeskryf (Psalm 139:1-4,16). Hy was daar, is daar en sal altyd daar wees!

Maar meer nog, Hy beskerm ons: Hy omsluit ons van alle kante, of dit oos, wes, hemel of doderyk is. Hy vat ons hand in Syne en lei ons deur sy Gees. Selfs donkerte hardloop weg as Hy dit betree …want Hy is die Lig (Psalm 139:8-12). Enige poging van die mens se kant om sonde weg te steek of om van Hom weg te kruip, is dus sinneloos. Hy is oral teenwoordig – op ons dwaalpaaie en in ons donkerte en uiteindelik word dit ook aan die Lig blootgestel!

Hy het ons gemaak en weet presies hoe ons dink, redeneer, waarom ons op sekere maniere optree en so dikwels nie onder sy gesag wil buig nie. Maar dit maak Hom nie minder betrokke by ons lewens nie, want sy empatie, aangevuur deur liefde, laat Hom nie toe om sy rug op ons te draai nie. As die Predikerskrywer ons vertoning teenoor die Almagtige so raak beskryf, hoeveel te meer weet Hy nie wie ons is nie: Wat ‘n mens is, word reeds met die naam mens gesê, dit is bekend wat hy is: hy is mens. Hy kan nie ‘n regstryd voer met die Een wat sterker as hy is nie” (Prediker 6:10).

Hy is teenwoordig … ook in ons gewaande grootheid en wil ons verander!

Bible Society of South Africav.4.18.14
VOLG ONS