Bible Society of South Africa

‘n Nuwe begin – Dag 10

Verering.

Bybelteks(te)

7Gee dus aan almal wat hulle toekom: belasting as dit belasting is, aksyns as dit aksyns is, ontsag as dit ontsag is, eer as dit eer is.

ROMEINE 13:7AFR83Maak oop in die Bybelleser

9Vereer die Here met offerandes uit al wat jy besit

en met die beste uit jou oes,

10dan sal jou skure oorvol wees

en jou parskuipe oorloop van die wyn.

SPREUKE 3:9-10AFR83Maak oop in die Bybelleser

18Melgisedek, koning van Salem en priester van God die Allerhoogste, het vir Abram kos en wyn gebring 19en hom geseën:

“Mag Abram geseën word deur God die Allerhoogste,

Skepper van hemel en aarde.

20Geloof sy God die Allerhoogste!

Hy het jou vyand in jou mag oorgegee.”

Toe het Abram vir Melgisedek 'n tiende van alles gegee.

GENESIS 14:18-20AFR83Maak oop in die Bybelleser

Abraham moet vir Isak offer

1'n Ruk na die vorige gebeurtenisse het God vir Abraham op die proef gestel en vir hom gesê: “Abraham!”

Hy het geantwoord: “Hier is ek!”

2God het vir hom gesê: “Vat jou seun, jou enigste seun, Isak wat jy liefhet, en gaan na die landstreek Moria toe en offer jou seun as brandoffer daar op een van die berge wat Ek vir jou sal aanwys.”

3Vroeg die volgende môre het Abraham 'n donkie opgesaal en hout gekap vir die brandoffer. Hy het twee slawe saamgevat en ook sy seun Isak. Toe het hy vertrek na die plek toe wat God vir hom aangewys het. 4Op die derde dag het Abraham die plek uit die verte gesien. 5Toe sê hy vir sy slawe: “Wag hier met die donkie. Ek en die seun gaan daar aanbid, dan kom ons terug na julle toe.”

6Abraham het die hout vir die brandoffer op sy seun Isak se rug getel en self vuur en 'n mes saamgevat. Terwyl hulle twee so saamloop, 7sê Isak vir sy pa: “Pa?” en Abraham antwoord: “Ja, my seun?”

Toe vra Isak: “Hier is vuur en hout, maar waar is die lam om te offer?”

8Abraham het geantwoord: “My seun, God sal sy eie offerlam voorsien.”

Daarna het hulle twee saam verder gestap. 9Toe hulle aankom by die plek wat God vir Abraham aangewys het, het Abraham daar 'n altaar gebou. Hy het die hout reggesit en sy seun Isak vasgebind en op die altaar neergesit, bo-op die hout. 10Net toe Abraham die mes vat om sy seun te slag, 11roep die Engel van die Here uit die hemel na hom:

“Abraham, Abraham!”

Hy het geantwoord: “Hier is ek!”

12Toe sê God: “Los jou seun! Moenie iets aan hom doen nie. Nou weet Ek dat jy My dien: jy het nie geweier om jou seun, jou enigste seun, aan My te offer nie.”

13Toe Abraham weer kyk, sien hy agter hom 'n skaapram wat aan sy horings in 'n bos vasgevang is. Hy het die ram gaan vat en hom in die plek van sy seun as brandoffer geoffer. 14Toe noem Abraham die plek: “Die Here voorsien.” Daar word nou nog gesê: “Op die berg van die Here word voorsien.”

15Die Engel van die Here het weer uit die hemel na Abraham geroep 16-17en gesê: “Dit is Ek, die Here, wat praat. Ek lê 'n eed af by Myself dat Ek jou baie sal seën oor wat jy gedoen het: jy het nie geweier om jou seun, jou enigste seun, aan My te offer nie. Ek sal jou vrugbaar maak en jou nageslag so baie maak soos die sterre aan die hemel en soos die sand van die see. Jou nageslag sal die stede van sy vyande in besit neem. 18In jou nageslag sal al die nasies van die aarde geseën wees, want jy het My gehoorsaam.”

19Daarna is Abraham terug tot by sy slawe, en hulle het almal saam na Berseba toe gegaan. Abraham het daar gewoon.

Nahor se seuns

20'n Rukkie na hierdie gebeurtenis is aan Abraham vertel dat Milka, sy broer Nahor se vrou, kinders vir sy broer in die wêreld gebring het. 21Hulle was: Us die oudste, sy broer Bus, Kemuel die voorvader van die Arameërs, 22en ook nog Kesed, Gaso, Pildas, Jidlaf en Betuel. 23Betuel was die pa van Rebekka. Milka het hierdie ag seuns in die wêreld gebring vir Abraham se broer Nahor. 24Nahor het 'n byvrou gehad. Haar naam was Reüma en sy het ook kinders gehad: Tebag, Gagam, Tagas en Maäka.

Die klein gawe van die arm weduwee

1Jesus het rondgekyk en die rykes hulle gawes in die offergawekis sien gooi. 2Hy sien toe ook 'n arm weduwee twee klein muntstukkies daar ingooi, 3en Hy sê: “Dit verseker Ek julle: Hierdie arm weduwee het meer ingegooi as al die ander. 4Hulle het almal iets uit hulle oorvloed in die offergawekis gegooi, maar sy het in haar gebrek alles ingegooi wat sy gehad het om van te lewe.”

LUKAS 21:1-4AFR83Maak oop in die Bybelleser

Jesus en Saggeus

1Jesus het in Jerigo gekom en was op pad deur die stad. 2Daar was 'n man met die naam Saggeus, die hooftollenaar, 'n ryk man. 3Hy het geprobeer om Jesus te sien, maar weens die skare kon hy nie, omdat hy te kort was. 4Hy hardloop toe vooruit en klim in 'n wildevyeboom om Jesus te kan sien, want Hy sou daar verbygaan. 5Toe Jesus by die plek kom, kyk Hy op en sê vir hom: “Saggeus, kom gou af, want Ek moet vandag in jou huis tuis gaan.”

6Hy het toe gou afgeklim en Jesus met blydskap ontvang.

7Almal wat dit gesien het, het beswaar gemaak en gesê: “Hy gaan by 'n sondige man tuis!”

8Maar Saggeus het opgestaan en vir die Here gesê: “Here, ek gaan die helfte van my goed vir die armes gee, en waar ek iets van iemand afgepers het, gee ek dit vierdubbel terug.”

9Daarop sê Jesus: “Vandag het daar redding vir hierdie huis gekom; ook hierdie man is 'n kind van Abraham. 10Die Seun van die mens het immers gekom om te soek en te red wat verlore is.”

LUKAS 19:1-10AFR83Maak oop in die Bybelleser

10Dit is die rede waarom ek nou die eerste opbrengs van die land wat deur die Here aan my gegee is, gebring het.’ Dan moet jy dit neersit in die teenwoordigheid van die Here jou God en Hom aanbid. 11Jy moet al die goeie dinge geniet wat die Here jou God aan jou en jou huisgenote gee, jy en die Leviete en die vreemdelinge wat by jou woon.”

DEUTERONOMIUM 26:10-11AFR83Maak oop in die Bybelleser

Die mens is baie kreatief in die uitdink van maniere om mense te vereer en kostes om dit te doen word nie ontsien nie. Oorkondes, standbeelde, hoekstene met gewaardeerdes se name daarin graveer, strate vernoem na bekendes en selfs die Nobel-prys vir vrede, is maar enkele maniere van hóé iemand vereer kan word.

En tog worstel ons om die onvergelykbare Presteerder, Vredemaker en Gewer – die enigste God – te vereer op die maklik uitvoerbare, eenvoudige en ekonomiese manier wat in die Woord uitgespel word. Spreuke 3:9-10 (1953 & 1983) leer: “Vereer die Here met offerandes uit al wat jy besit (jou goed) en met die beste uit jou oes (die eerstelinge van jou oes).”

Kain en Abel het offergawes aan God gebring, en tiendes kom ter sprake ná Abram se oorwinning om Lot te bevry. Na die oorwinnning stap Melgisédek, die koning van Salem en priester van God, Abram tegemoet, seën hom as en gee aan hom brood en wyn. Diep onder die besef dat hy hier met iemand te doen het veel groter as hyself, vereer Abram hom deur aan hom ‘n tiende van die teruggeneemde besittings te gee (Genesis 14:18-20). Hy het nie gegee omdat een of ander wet dit vereis het nie, maar in nederige erkentlikheid teenoor:”…die koning van Salem, wat ‘n priester van God, die Allerhoogste” was (Genesis 14:18).

Abraham se geloof in, en agting vir God, word ook die dryfkrag vir sy gewilligheid om sy belofte-kind aan Hom te offer (Genesis 22). ‘n Arm weduwee gee als wat sy besit om aan God eer te bewys (Lukas 21:1-4) en ‘n skatryk tollenaar se lewe word so verander deur sy ontmoeting met Jesus, dat hy uit dankbaarheid weggee en teruggee aan diegene wat hy verontreg het (Lukas 19:1-10).

Ek en jy het ook nodig om God te vereer vir wie Hy is. Hy is die God van lig, die God van liefde, die Gewer van goeie gawes, ons Voorsiener. Ons verering moet ‘n uitvloeisel wees van ons dankbaarheid dat Hy betrokke is by ons lewens. En as ons nie weet hoe nie, spel Deuteronomium 26:10-11 die hóé daarvan uit. Eerstens, “Hier het ek dan nou die eerstelinge gebring van die vrugte van die land wat U, Here, my gegee het“; Tweedens, “Dan moet jy dit neersit voor die aangesig van die Here jou God.” Derdens, “en jou neerbuig voor die aangesig van die Here jou God.” En dan word die gesindheid waarmee ons dit moet doen, uitgespel: “En jy moet vrolik wees oor al die goeie dinge wat die Here jou God jou en jou huis gegee het.”

Bible Society of South Africav.4.18.14
VOLG ONS