Bible Society of South Africa
Quintus Heine

Lydenstyd, opstanding en Christelike liefde – dag 3

Lydenstyd: Jesus in die tuin van Getsemane (deel 3)

Bybelteks(te)

LUKAS 22

43'n Engel uit die hemel het aan Hom verskyn en Hom versterk. 44Hy het in doodsangs geraak en het nog ernstiger gebid. Sy sweet het soos bloeddruppels geword wat op die grond val.

LUKAS 22:43-44AFR83Maak oop in die Bybelleser

JOHANNES 3

16“God het die wêreld so liefgehad dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat dié wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie maar die ewige lewe sal hê.

JOHANNES 3:16AFR83Maak oop in die Bybelleser

Hierdie vers laat elke Christen stil word van ontsteltenis. Kan dit wees dat Jesus soveel angs en worsteling vir my en jou moes verduur? Jesus was bang. So bang dat sy sweet soos bloeddruppels geword het. Dit wat Lukas hier beskryf, staan in die mediese wetenskap bekend as “hematidrosis”. Dit is ʼn rare verskynsel waar iemand bloed sweet as hulle doodsangs beleef. Daar is voorbeelde opgeteken van mense wat op die doodsvonnis wag wat ook die toestand beleef het. Naby die sweetkliere is daar klein bloedvaatjies wat soos ʼn netwerk onder die vel span. Onder baie hoë angstoestande kan hierdie aartjies bars. Die bloed wat dan met die sweet meng, het tot gevolg dat iemand bloed sweet. Die angs wat Jesus beleef het, moes onuithoudbaar gewees net. Hy het die sondelas van die mensdom gedra. Sy hele gemoed en wese sou daaroor in spanning wees. Dit was só erg dat God ʼn engel gestuur het omdat Hy geweet het dat Jesus bystand nodig het.

Dink net hoeveel seer en wroeging moes God ervaar het om sy kind so te sien swaarkry. God het die mensdom so liefgehad dat Hy sy seun die straf van die sonde laat dra het sodat ek en jy deel kan hê aan die ewige lewe!

Dit is in hierdie omstandighede wat Johannes 3:16 vir ons elkeen ʼn werklikheid word. Kan dit wees dat ek en jy nie hierdie wonderlike uitnodiging ernstig opneem nie?

Waar jy jou ook al nou bevind, word stil voor God, dink daaraan dat Hy dit vir jou gedoen het!

Bible Society of South Africav.4.26.9
VOLG ONS