Lydenstyd, opstanding en Christelike liefde – dag 4
Lydenstyd: Jesus in die tuin van Getsemane (deel 4)
Bybelteks(te)
LUKAS 22
In Lukas 22:39 word die gedeelte in die tuin van Getsemane begin met Jesus se opdrag aan die dissipels dat hulle moet bid. Aan die einde van Jesus se tyd in die tuin (Lukas 22:46) gee Hy hulle weer die opdrag om te bid. Die dissipels moet bid dat hulle nie in die versoeking kom nie. Jesus het geweet wat op hulle wag . Hy het geweet dat dit net gebed sou wees wat hulle staande sou hou. Al was Jesus volmaak, was ʼn spiritualiteit van gebed vir Hom noodsaaklik.
Ek het my al in tye van groot krisis spesiaal afgesonder om te bid en die wysheid van die Here te soek, en uiteindelik geweldige geloofversterking ontvang. Ek dink as mense meer bid, sal hulle beter die versoekings van die wêreld en die krisisse wat oor hul pad kom, kan hanteer. Gebed is ʼn lewenshouding van afhanklikheid van God. Gebed is om ons afhanklikheid aan Hom te erken. Hoe meer ons bid, hoe groter is ons erkenning dat ons nie self iets kan bereik nie, maar dat ons van God afhanklik is. As ons voortdurend in afhanklikheid van God leef en bewus is van sy teenwoordigheid, sal ons die versoekings en krisisse wat oor ons lewenspad kom, dalk beter kan hanteer. Jesus waarborg nie dat ons vrygespreek sal word van al die hartseer en sonde van die wêreld nie, maar Hy gee aan ons die opdrag om te bid dat ons die versoekings wat oor ons pad gaan kom, asook die hartseer en die vreugdes, in afhanklikheid van God sal kan hanteer.
Goeie Vrydag – dit is die dag waarop Jesus vir al ons sondes gekruisig is. Dit is ʼn dag van stilte en gebed. Dit is ʼn dag in die jaar waarop ek en my gesin weer vir mekaar die verhaal van Jesus ons Verlosser vertel. Jesus het drie dae daarna opgestaan en die bande van die dood finaal verbreek. Daarom vier ons Christene die Sondag ná Goeie Vrydag Opstandingsdag, want dit is die herdenking van ons nuwe lewe in Christus.