Bible Society of South Africa
Quintus Heine

Lydenstyd, opstanding en Christelike liefde – dag 2

Lydenstyd: Jesus in die tuin van Getsemane (deel 2)

Bybelteks(te)

LUKAS 22

41Hy het Hom toe van hulle afgesonder omtrent so ver as 'n mens met 'n klip kan gooi. Daar het Hy gekniel en gebid: 42“Vader, as U wil, neem tog hierdie lydensbeker van My af weg. Laat nogtans nie my wil nie maar u wil geskied!”

LUKAS 22:41-42AFR83Maak oop in die Bybelleser

FILIPPENSE 2

7maar Hy het Homself verneder

deur die gestalte van 'n slaaf aan te neem

en aan mense gelyk te word.

En toe Hy as mens verskyn het,

FILIPPENSE 2:7AFR83Maak oop in die Bybelleser

Ons almal het al in ʼn fliek of televisiereeks gesien hoedat ʼn onskuldige persoon soms moet boet vir die skuld van ʼn ander. Gewoonlik is dit vanweë ʼn tegniese regsfout of vals getuienis dat ʼn onskuldige persoon die skuld ontvang vir ʼn ander se dade. In so ʼn geval raak jy as kyker baie ontsteld oor die onreg wat die onskuldige aangedoen word. As ons op so ʼn manier daarna kyk, maak dit ons opnuut skaam oor Jesus se onskuldige lyding in ons plek. Hy het onreg gely sodat ons vry kan leef. Hy het gewillig in ons plek die lydensbeker gedrink. Ons wat soms so vies is vir onreg in die wêreld, is die skuldiges, maar Hy het gewillig die skuld op Hom geneem. Jesus het hierdie lydensbeker gedrink sodat ons lyding draagliker kon wees.

Met hierdie gebed van Jesus is sy menslikheid en nederigheid beklemtoon. Filippense 2:7 help ons om te verstaan dat Jesus mens was en nederig was. Hy het nie aan sy Godheid vasgeklou nie, maar het Homself verneder deur aan mense gelyk te word. Hy het nie sy Godheid gebruik om Hom van die lyding te verskoon nie. Toe Jesus hierdie gebed gebid het, moes Hy besef het: Hy doen dit sodat ons lyding draagliker sou wees en sodat ons lyding nie die einde is nie, maar dat ons hoop kan hê.

Dit is met huiwerige dankbaarheid dat ons vandag vir God loof dat ons lyding aan die sonde betaal is, dat Jesus die lydensbeker gedrink het en dat ons lyding en krisisse nie ons einde beteken nie. Jesus het reeds daarvoor gely. Dit is ironies dat sy lyding vir ons hoop gee. In die lydenstyd is dit vir ons as Christene pynlik om daaraan te dink!

Bible Society of South Africav.4.26.9
VOLG ONS