Lydenstyd, opstanding en Christelike liefde – dag 1
Lydenstyd: Jesus in die tuin van Getsemane (deel 1)
Bybelteks(te)
LUKAS 22
Jesus in Getsemane
In die aanloop tot Goeie Vrydag gaan ons terugdink aan hierdie aangrypende toneel wat hom in die tuin van Getsemane afspeel.
Die aand voor Jesus gevange geneem is, het Hy en sy dissipels na die tuin van Getsemane gegaan. Oorkant die Kedronspruit was daar ʼn olyftuin met ʼn olyfpers. Getsemane beteken dan ook ‘olyfpers’. Die eienaar het blykbaar vir Jesus toestemming gegee om die tuin te besoek, want hier word vermeld dat Jesus die gewoonte gehad het om daar te kom. In Johannes 18:2 word ook genoem dat Jesus en sy dissipels gereeld die tuin besoek het. Jesus was bewus wat daar sou gebeur. Hy was ʼn jong man van 33 jaar en bang wat op Hom sou wag. Dit is hier in die tuin van Getsemane waar Hy die laaste sielestryd met God sou stry om sy wil te probeer verstaan! Daar is min historiese gebeurtenisse wat die Christendom so aangryp soos die een in die tuin van Getsemane.
Dit is vir my aangrypend dat Jesus se eerste daad in die tuin van Getsemane dié van gebed is. Dit is in sulke oomblikke wat jy aan die belangrikste persoon in jou lewe dink. Vir Jesus was dit God. Toe Hy doodsbenoud was, was sy eerste gedagte om tot God te bid. Jesus, wat volmaakte mens was, het ʼn behoefte gehad om te bid. Hy wou met sy Vader praat, sy hart met Hom deel. Hy wou vir sy Vader vertel dat Hy bang is. Hy wou in die oomblik van angs God aanroep!
Die gedagte aan sy dissipels se swakheid moes die las vir Jesus dié nag nog swaarder gemaak het. Jesus moes bewus gewees het van die feit dat die woede van die Sanhedrin nie net vir Hom sou tref nie, maar ook sy dissipels. Daarom dink Hy aan hulle geestelike krag in die uur van sy eie nood en versoek Hy hulle om ook vir hul eie geestelike lewe te bid. Met Jesus se eie gebedsvoorbeeld en sy uitnodiging aan sy dissipels om vir hulself te bid, is dit ook die uitnodiging vandag aan ons: Ons moet nie huiwer om God deur gebed aan te roep in ons lewens nie. Dit moet ook die eerste ding wees wat ons elke dag doen, dit moet die eerste ding wees wat ons doen as ons bang is, en wat ons doen as ons opgewonde is.