Lydenstyd, opstanding en Christelike liefde – dag 15
Om lief te hê soos die eerste Christene
Bybelteks(te)
MATTEUS 25
MATTEUS 25
Praktiese, geloofwaardige liefde is al wat die wêreld gaan oortuig dat Jesus werklik ʼn verskil in ons lewens maak. In die vroeë kerk het die Christendom vinnig in ʼn heidense wêreld versprei omdat die volgelinge van Christus met ʼn grenslose liefde geleef het. Hulle het verstaan waaroor die liefde van Christus eintlik gaan. Dit was ʼn selfopofferende liefde wat geen grense geken het nie. Die heidense gemeenskappe het hulle erken as die mense wat anders geleef het, nie omdat hulle beter was nie maar omdat hulle ander gedien het. Dit was die beste evangelisasie-medium om die kerk te laat groei.
Die sosioloog Rodney Stark (Rodney Stark 1997, The Rise of Christianity) vertel van twee ernstige, hoogs aansteeklike plae wat die Romeinse Ryk onderskeidelik in 165 n.C. en 251 n.C. getref het. Elke keer het ongeveer een derde van die Romeinse Ryk se inwoners omgekom. Die praktyk van die Romeine was om hul siekes op straat uit te sit om die risiko van besmetting te verminder. Diegene wat dit enigsins kon bekostig, het die berge in gevlug om aan die plae te ontkom. “Dionusius, biskop van Aleksandrië, skryf dat die Romeine hul eie dooies soos vullis behandel het om die siekte te vermy” (Danie Mouton).
Die Christene se reaksie was anders. Dit is goed gedokumenteer dat Christene hul siekes, in die aangesig van die dood, bly versorg het. Hulle het selfs die uitgeworpe Romeine op straat opgetel, ingeneem en versorg. Dit het tot die dood van baie Christene gelei, maar hulle het met vreugde die leed van ander gedra, hulle versorg en gemaklik gemaak, al het dit hul eie lewens gekos. Die Christelike geloof het ʼn totaal nuwe konsep in die Romeinse wêreld ingedra – dat liefde grensloos is en nie net op jouself gerig is nie. Hulle het dit selfs verder geneem as slegs mede-Christene. Hierdie geloofwaardigheid het mense twee keer laat dink en die kerk het gegroei.