Bible Society of South Africa
Quintus Heine

Lydenstyd, opstanding en Christelike liefde – dag 16

Die Here is lief vir jou!

Bybelteks(te)

1 JOHANNES 4

9Hiérin is God se liefde vir ons geopenbaar: sy enigste Seun het Hy na die wêreld toe gestuur sodat ons deur Hom die lewe kan hê. 10Werklike liefde is dít: nie die liefde wat ons vir God het nie, maar die liefde wat Hy aan ons bewys het deur sy Seun te stuur as versoening vir ons sondes.

1 JOHANNES 4:9-10AFR83Maak oop in die Bybelleser

JOHANNES 10

29Dié wat my Vader vir My gegee het, is die belangrikste van almal, en niemand kan hulle uit die hand van die Vader ruk nie.

JOHANNES 10:29AFR83Maak oop in die Bybelleser

MATTEUS 11

28“Kom na My toe, almal wat uitgeput en oorlaai is, en Ek sal julle rus gee.

MATTEUS 11:28AFR83Maak oop in die Bybelleser

JOHANNES 3

17God het nie sy Seun na die wêreld toe gestuur om die wêreld te veroordeel nie, maar sodat die wêreld deur Hom gered kan word.

JOHANNES 3:17AFR83Maak oop in die Bybelleser

ʼn Onlangse opname in Amerika het getoon dat soveel as 8 miljoen Amerikaners vir hulself Valentynsgeskenke en
-kaartjies koop. Die wêreld waarin ons leef is vol eensame mense wat ʼn behoefte aan liefde het. Die mens se grootste gemene deler is die hunkering na liefde. Almal wil deur iemand liefgehê word. Die goeie nuus van die evangelie is dat God die mens nie alleen laat nie. Hy is besorg oor die mens en Hy het ons lief – so lief dat Hy sy Seun gestuur het om aan dié wat in Hom glo, versoening vir tekortkominge en sondes te bring.

God het jou lief, ongeag wat jou omstandighede vandag is. Dit maak nie saak watter verkeerde ding jy gedoen het of waarvan jy wegvlug nie. Dit maak nie saak watter seerkry of las jy vandag saamdra nie – God het jou lief!

As jy voel dat jy ander mense in die steek gelaat of teleurgestel het – dink aan ʼn goeie pa wat jy ken wat, ten spyte van ʼn baba se gehuil en knieserigheid, steeds sy baba teen hom sal vasdruk. God sal jou altyd vashou. “Dié wat my Vader vir My gegee het, is die belangrikste van almal, en niemand kan hulle uit die hand van die Vader ruk nie” (Johannes 10:29).

As jy eensaam voel en ervaar dat niemand werklik na jou wil luister nie – dink aan Jesus se uitnodiging: “Kom na My toe, almal wat uitgeput en oorlaai is, en Ek sal julle rus gee” (Matteus 11:28).

As jy nutteloos voel, dink aan God wat sy Seun, Jesus Christus, gestuur het om sy lewe vir jou te gee! “God het nie sy Seun na die wêreld toe gestuur om die wêreld te veroordeel nie, maar sodat die wêreld deur Hom gered kan word” (Johannes 3:17).

Jy hoef nie vandag vir jouself ʼn kaartjie te koop nie, want God doen dit met sy onvoorwaardelike liefde. Wees vandag daarvan bewus dat Hy lief is vir jou, jou hand vashou en altyddeur by jou is.

Bible Society of South Africav.4.26.9
VOLG ONS