Lydenstyd, opstanding en Christelike liefde – dag 14
Om lief te hê, is om God se liefde uit te deel
Bybelteks(te)
HANDELINGE 9
Die opwekking van Tabita
Ons lees van die Joodse Tabita, in Grieks was haar naam Dorkas. Sy het moontlik die twee name gehad omdat sy onder die Jode sowel as die Grieke bekend was vir haar goeie dade. By haar was daar nie ʼn bo- en onderdorpmens nie. By haar was daar nie taal- en kultuurverskille nie. Sy was bemind by almal. Haar liefdeswerk was ʼn universele taal wat oral weerklink het. Haar boodskap was ʼn evangelie wat nie grense geken het nie. Wat ook merkwaardig is – Lukas skryf dat almal geweet het sy is gelowig en dat sy die liefde van Jesus uitleef. Ons kan dus aflei dat sy alombekend was, selfs onder niegelowiges. As jy in daardie tyd gepraat het van hulp aan armes, weeskinders en mense wat swaarkry, het haar naam onmiddellik in mense se gedagtes opgekom, want almal het haar geken vanweë haar dade. Dit is seker ook die rede waarom Lukas haar uitgekies het om vir die kerk van alle tye te wys hoe ʼn Christen nou eintlik lyk en lewe!
Die Here gee vir ons ʼn duidelike opdrag dat ons moet omsien na arm mense. Daar is baie voorbeelde in die Bybel wat getuig dat die versorging van en omsien na die armes en hulpeloses ʼn kenmerk van ʼn ware gelowige is.
Die evangelie van Jesus word aan arm mense gebring deur hulle te versorg en aan hulle die verlossingsboodskap te bring. Die Bybelgenootskap het ʼn spesiale projek om duisende Bybels gratis aan die armstes van die armes te voorsien. Oudiobybels word ook gratis aan ongeletterdes voorsien. Hierdie projekte word saam met ander hulpmiddels soos geletterdheidsprogramme ingespan om die Bybelse boodskap aan arm mense voorsien. Jy kan ook die evangelie aan hulle bring deur tot die spesiale Bybel vir armes-projek by te dra.