Lydenstyd, opstanding en Christelike liefde – dag 13
Die opstanding lei tot tevredenheid
Bybelteks(te)
PSALMS 131
Willem Nicol vertel die volgende pragtige storie uit die Joodse Hasidiese tradisie.
Isak, ʼn arm Jood, het in ʼn klein pondokkie ver van die groot stad geleef. Een nag droom hy dat hy ʼn lang reis na die stad onderneem waar hy ʼn sak goud onder die brug van die hoofingang van die stad vind. Hy het die droom geïgnoreer, maar elke nag het die droom teruggekeer. Isak was so arm dat hy gevind het hy het niks om te verloor nie. Hy besluit om die droom te toets en pak die lang reis na die stad aan. Ná dae se reis kom hy daar aan, net om te sien dat die stadspoort en brug baie streng bewaak word. Toe die kaptein van die wagte sien dat hy onder die brug wil inloop, skree hy op hom: “Wat maak jy hier, ou man?” In sy eenvoud vertel hy toe van die droom. Die kaptein lag hom uit en roep uit: “Jou dwaas, wat sou van ons word as ons drome begin glo? Laas nag het ek gedroom dat ek na ʼn ou huisie van ʼn ou Jood ver hiervandaan moet gaan. Daar agter sy vuurherd is ʼn skat. Dis mos simpel! Ek sal dit mos nie doen nie.” Net daar draai Isak om en haas hom na sy huis. By sy eie huis kyk hy agter sy vuurherd en daar vind hy toe die skat.
Jesus se opstanding lei daartoe dat ons nie meer die vervulling van ons geestelike lewe op ander plekke hoef te soek as net by God nie. Ons hoef nie meer soekend te leef nie, ons kan met rustigheid elke dag tevredenheid vind. Jesus het die skat van die lewe in ons eie harte geplaas. Ons moet dit daar soek en nie op ander plekke nie.
Dit is ook waarvan Dawid in Psalm 131 praat. Hy sê hy wil graag by God wees soos ʼn babatjie wat tevrede is. Jy het dit seker al ervaar of gesien dat niks die woordjie tevredenheid só beskryf soos ʼn babatjie se gesigsuitdrukking as sy by haar ma is nie! As sy in haar ma se arms is, is sy volkome tevrede! In die persoon wat haar vashou, word alles uitgebeeld wat sy in haar lewe nodig het. Daar voel sy veilig, want sy weet sy word versorg. As jy in God se teenwoordigheid leef, sal jou lewensingesteldheid ook tevredenheid uitstraal.