Lydenstyd, opstanding en Christelike liefde – dag 12
Die opstanding maak jou ʼn mens van die lig
Bybelteks(te)
EFESIËRS 5
Sowat 400 jaar gelede het daar in Oostenryk ʼn koning in ʼn pragtige paleis gewoon. Omdat sy onderdane so lojaal aan hom was, wou hy graag aan hulle iets nalaat. Uiteindelik het hy besluit om hulle vervalle kerkgebou met ʼn nuwe gebou te vervang. Hy het gevoel dat dit ʼn slegte beeld van sy Christenskap skep dat hy in so ʼn pragtige kasteel woon, maar dat dit so vervalle lyk waar die gelowiges bymekaarkom om die hemelse Koning te aanbid.
Die eindproduk was ʼn pragtige klipkerk. Die houtsneewerk aan die binnekant is met allerhande Christelike simbole versier. Die brandglasvensters het die hele verhaal van Jesus vertel. Die reusekerktoring het soos ʼn vinger vir almal na God gewys. Dit was voorwaar ʼn voorreg om in so ʼn pragtige kerk te aanbid. Daar binne het ʼn mens regtig naby aan God gevoel en kon ʼn mens sy teenwoordigheid ervaar.
Toe die mense bymekaarkom vir die inwyding van hierdie kerkgebou, het hulle beker oorgeloop van vreugde en dankbaarheid. Die koning se dogter het egter in sy oor gefluister en gesê: “Maar, Pa, daar is dan geen lampe in die kerk nie.” Toe wys die koning na die netjiese lamphouers teen die mure van die kerk. Hy het opgestaan en gesê: “Vriende, die kerk het geen lampe nie. Elkeen sal sy eie lig saambring. Terwyl die diens aan die gang is, sal al die lampe op die rakke teen die mure staan. Op hierdie manier sal julle die kerk verlig net soos julle die pad waarlangs julle na die kerk gekom het, verlig. Wanneer iemand nie kerk toe kom nie, sal sy deel van die kerk nie verlig word nie en so ook nie die pad waarlangs hy gewoonlik kom nie. Onthou julle wat Jesus ons geleer het?” het die koning ter verduideliking afgesluit. “Julle is die lig vir die wêreld.”
En so het dit gekom dat hierdie kerk in die volksmond bekend gestaan het as die “Kerk van die Lampe”.
Jesus se opstanding het die bande van die duisternis verbreek om vir ons die ewige lig te gee. As ons saam met Christus opgestaan het, moet ons ook Jesus se lig elke dag deur ons lewenswyse laat skyn.
Wat gaan jy vandag doen om Jesus se lig te laat skyn vir die mense wat jou pad kruis?