Lydenstyd, opstanding en Christelike liefde – dag 11
Die opstanding maak jou van jou spesifieke roeping bewus
Bybelteks(te)
RIGTERS 18
Dalk moet jy ook van tyd tot tyd hierdie vrae van Rigters 18:3 beantwoord: Wie het jou hierheen gebring? Wat doen jy hier? Hoekom is jy hier?
Jy is nie maar net waar jy is sonder ʼn rede nie. Die Here het jou tot op hierdie punt gebring. Die vraag is, besef jy en ek dit, en weet ons wat die Here met ons lewens wil bereik?
Vir alle gelowiges het die Here ʼn algemene roeping : Ons moet die Here loof en dien, ons uiterste bes doen, ons naaste diensbaar wees, getuig, ensovoorts.
Die Here het egter ook vir elke gelowige as ʼn individu ʼn spesifieke roeping, wat net vir jou bedoel is.
Hoe weet jy wat jou spesifieke roeping is? Jy moet dit werklik by die Here gaan soek. As ons na die voorbeelde in die Bybel kyk, sien ons dat daar riglyne is hoe om die spesifieke roeping te ontdek:
- 1.ʼn Mens se geestelike roeping is gewoonlik op ander mense gerig. Nêrens in Bybel is die mens se roeping op homself en sy eie behoeftes gerig nie.
- 2.Elke mens het ʼn spesifieke en unieke roeping wat van dié van ander verskil.
- 3.Jou roeping is nie onveranderlik nie. Dit kan verander soos jou omstandighede verander.
- 4.Jou roeping ontdek jy dikwels eers as jy deur ʼn swaarkryproses gegaan het. Dit is asof die Here deur swaarkry soms baie hard met ons praat. Romeine 5 help ons hiermee.
- 5.ʼn Mens se persoonlike roeping word al hoe duideliker as jy nader aan God leef!
- 6.Jy hoor die Here se stem duideliker as jy ʼn lewenstyl van gebed het en tyd spandeer om jou Bybel te lees.
Soek vandag jou roeping voor die Here: Wie het jou hierheen gebring? Wat doen jy hier? Hoekom is jy hier?
(Coenie Burger se boek, Ontmoetings met die lewende God, handel oor jou spesifieke roeping.)