Bible Society of South Africa

Jesus – Dag 8

Jesus: Leermeester van die goue reël.

Bybelteks(te)

Moenie oor ander oordeel nie

1“Moenie oordeel nie, sodat oor julle nie geoordeel word nie; 2met dieselfde oordeel waarmee julle oor ander oordeel, sal oor julle geoordeel word, en met dieselfde maat waarmee julle vir ander meet, sal vir julle gemeet word.

3“Waarom sien jy die splinter raak wat in jou broer se oog is, maar die balk in jou eie oog merk jy nie op nie? 4Of hoe kan jy vir jou broer sê: ‘Wag, laat ek die splinter uit jou oog uithaal,’ en intussen is daar 'n balk in jou eie oog? 5Huigelaar! Haal eers die balk uit jou eie oog uit, dan sal jy goed kan sien om die splinter uit jou broer se oog uit te haal.

MATTEUS 7:1-5AFR83Maak oop in die Bybelleser

39Hy het ook met beeldspraak vir hulle gesê: “Kan 'n blinde miskien 'n ander blinde lei? Sal hulle nie altwee in 'n sloot val nie?

7Maar Hy sê vir Samuel: “Moenie na sy voorkoms of sy buitengewone lengte kyk nie, want Ek het hom nie gekies nie. Die Here kyk nie na dieselfde dinge as die mens nie. Die mens kyk na die uiterlike, maar die Here na die innerlike.”

1 SAMUEL 16:7AFR83Maak oop in die Bybelleser

12“Alles wat julle wil hê dat die mense aan julle moet doen, moet julle ook aan hulle doen. Dit is tog waarop dit neerkom in die wet en die profete.”

MATTEUS 7:12AFR83Maak oop in die Bybelleser

Skynheiligheid is ‘n baie subtiele ding en wat dit so afstootlik maak is dat dit onregverdig is. Skynheiligheid beteken maar net dat iemand ‘n ander persoon se gedrag veroordeel, terwyl sy eie gedrag miskien slegter is as dié van die persoon wat hy veroordeel. In Matteus 7:1-2 lees ons: “Moenie oordeel nie, sodat oor julle nie geoordeel word nie; met dieselfde oordeel waarmee julle oor ander oordeel, sal oor julle geoordeel word, en met dieselfde maat waarmee julle vir ander meet, sal vir julle gemeet word.” Dit is so maklik om iemand anders se foute te veroordeel en dan blind te wees vir jou eie.

Sulke gedrag is al duidelik in kinders van ‘n vroeë ouderdom. Een kind sal byvoorbeeld by ma nuus aandra dat boetie of sussie ‘n kersie van die koek gesteel het, en as ma gaan kyk, sien sy dat die nuusaandraer homself met ‘n hele snytjie van die koek gehelp het! Maar net die boetie of sussie het verkeerd gedoen … die nuusaandraer was honger! Indien hierdie kind nie effektief berispe word nie, word hy dalk die volwasse bestuurder wat baie krities is oor ander padgebruikers terwyl hy glad nie besef dat hy die spoedgrens oorskry nie, of nie by ‘n stopstraat stilhou nie.

Wat tref jou die meeste van die woordprentjie wat Jesus in dié teks vir ons skets? Dit is baie duidelik. In sy leringe praat Hy baie duidelik teen sonde. Nie net gee Hy hier ‘n baie grafiese beskrywing van ‘n skynheilige persoon se gedrag nie, maar in die Lukas Evangelie vertel Hy selfs ‘n gelykenis hieroor. In die gelykenis oordryf Hy doelbewus en dit kom soms selfs belaglik voor, maar dit is baie duidelik ontwerp om ‘n waarheid oor te dra. In Lukas 6:39 vra Hy “Kan ‘n blinde miskien ‘n ander blinde lei? Sal hulle nie altwee in ‘n sloot val nie?  Sowaar, wat laat ‘n blinde man dink dat hy ‘n ander blinde kan lei? Geen wonder dat Jesus Hom so sterk uitspreek teen mense wat ander veroordeel nie. Dit wat ons aan ander doen is wat ons moet verwag dat mense aan ons sal doen. En ons moet onthou: “Die Here kyk nie na dieselfde dinge as die mens nie. Die mens kyk na die uiterlike, maar die Here na die innerlike.” (1 Samuel 16:7)

Jy kan jouself soms in ‘n situasie bevind waar jy gelei word deur ‘n persoon wat na jou mening nie veel meer insig as jyself het nie, maar dit is nie ‘n rede om op daardie persoon neer te kyk nie. Dit is nie ons plek om ander te veroordeel nie en as ons net ‘n bietjie tyd neem om eerlike selfondersoek te doen, mag ons dalk ‘n groot aantal swakhede raaksien asook ‘n behoefte aan nederigheid. In Matteus 7:12 sê Jesus met groot wysheid: “Alles wat julle wil hê dat die mense aan julle moet doen, moet julle ook aan hulle doen. Dit is tog waarop dit neerkom in die wet en die profete.”

Is dit wat jy doen? Het jy dalk ‘n balk in jou oog?

Bible Society of South Africav.4.18.14
VOLG ONS