Bible Society of South Africa

Jesus – Dag 7

Jesus: Leermeester oor seëninge.

Bybelteks(te)

Die bergrede

1Toe Jesus die menigte mense sien, het Hy teen die berg opgegaan. Nadat Hy gaan sit het, het sy dissipels na Hom toe gekom, 2en Hy het hulle geleer en gesê:

Die werklik gelukkiges

3“Geseënd is dié wat weet hoe afhanklik hulle van God is, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemel.

MATTEUS 5:1-3AFR83Maak oop in die Bybelleser

Die Here lei die regverdiges

1Dit gaan goed met die mens

wat nie die raad van goddeloses volg nie,

nie met sondaars omgaan

en met ligsinniges saamspan nie,

2maar wat in die woord van die Here sy vreugde vind,

dit dag en nag oordink.

PSALMS 1:1-2AFR83Maak oop in die Bybelleser

Het jy al saam met jou gesin vir ‘n piekniek strand toe of na ‘n dam toe gegaan, net om met jou aankoms uit te vind omtrent jou hele dorp het dieselfde idee gehad? Daar is mense net waar jy kyk, dit lag en gesels en gillende kinders hardloop tussen die mense deur en veroorsaak totale chaos. Kan jy jou so ‘n toneel voorstel?

Jesus het baie gehad om sy dissipels te leer en het ‘n stil plek nodig gehad. Maar met die menigte mense wat oral saamdrom, was daar skaars plek vir ‘n mens om te loop sonder om rondgestamp te word. Jesus het toe teen ‘n berg opgegaan en daar saam met sy dissipels gaan sit sodat hulle onverstoord kon gesels. Dit was hier waar Hy hulle dinge geleer het wat hulle lewens en begrip radikaal en vir altyd sou verander. En ons moet dit ook hoor!

Deur die Saligsprekinge, die woorde wat begin met “Geseënd is dié …” leer Hy sy dissipels oor ware geluk en vrede wat van geestelike waardes kom en vir ewig geldig is. Hy leer hulle oor kwaliteite wat nie juis altyd in die samelewing na waarde geag word of iets is waarna mense soek nie: afhanklikheid, sagmoedigheid, nederigheid, genade en geregtigheid, reinheid, vervolging en vrede is noodsaaklik in die oë van God en lei tot ‘n groot beloning. In Psalm 1:1-2 (1933/1953-vertaling) lees ons: “Welgeluksalig is die man wat nie wandel in die raad van die goddelose en nie staan op die weg van die sondaars en nie sit in die kring van die spotters nie; maar sy behae is in die wet van die HERE, en hy oordink sy wet dag en nag.”

Kan jy hiermee identifiseer?

Jesus begin sy onderrig met dié wat weet hoe “afhanklik hulle van God is”, want die houding van ons harte staan sentraal waar dit die koninkryk van die hemel aangaan, en dit begin reeds hier op aarde. In Matteus 6:33 sê Jesus: “beywer julle allereers vir die koninkryk van God en vir die wil van God, dan sal Hy julle ook al hierdie dinge gee.” Jesus leer ons dat ons ryklik geseën word en tot in ewigheid gelukkig kan wees. Geluk is iets waarna elke persoon op aarde soek, maar baie min vind dit. Dikwels glo ons dit wat ons in boeke en tydskrifte lees of in films sien oor wat geluk is. Maar nadat ons daardie plek waaroor ons gelees het besoek het, of daardie ding wat ons so begeer, gekry het, of onsself oorgegee het aan die luukses in die lewe, vind ons dat ons steeds leeg voel en begin weer soek. Die geluk was nie blywend nie.

Jesus alleen is die houer van die sleutel tot ewigdurende geluk.

Het jy dit al gevind?

Bible Society of South Africav.4.18.14
VOLG ONS