Bible Society of South Africa

Jesus – Dag 4

Jesus: Die lig van die wêreld.

Bybelteks(te)

21Die Here het bedags met 'n wolkkolom voor hulle uit gegaan om vir hulle die pad te wys en snags met 'n vuurkolom om vir hulle lig te verskaf, sodat hulle dag en nag kon trek.

EKSODUS 13:21AFR83Maak oop in die Bybelleser

Die Vader getuig ook oor Jesus

12Op 'n ander keer het Jesus vir die mense gesê: “Ek is die lig vir die wêreld. Wie My volg, sal nooit in die duisternis lewe nie, maar sal die lig hê wat lewe gee.”

JOHANNES 8:12AFR83Maak oop in die Bybelleser

3Toe het God gesê: “Laat daar lig wees!”

En daar was lig.

2U is met 'n kleed van lig omhul.

Dit is U wat die hemelkoepel soos 'n tentdoek gespan

PSALMS 104:2AFR83Maak oop in die Bybelleser

God is lig

5Dít is nou die boodskap wat ons by Hom gehoor het en aan julle verkondig: God is lig, en daar is geen duisternis in Hom nie.

1 JOHANNES 1:5AFR83Maak oop in die Bybelleser

27Van wat gelyk het na sy heupe, daarvandaan boontoe, het dit vir my gelyk na die glans van gloeiende wit metaal, na iets soos vuur met 'n rand rondom, en van wat gelyk het na sy heupe, daarvandaan ondertoe, het dit vir my gelyk na vuur met 'n helder glans rondom.

ESEGIËL 1:27AFR83Maak oop in die Bybelleser

16Hy alleen besit onsterflikheid; Hy woon in ontoeganklike lig. Geen mens het Hom gesien of kan Hom sien nie. Aan Hom kom toe eer en ewige mag! Amen.

1 TIMOTEUS 6:16AFR83Maak oop in die Bybelleser

44Toe het Jesus uitgeroep: “Wie in My glo, glo nie net in My nie maar ook in Hom wat My gestuur het. 45En wie My sien, sien ook Hom wat My gestuur het. 46Ek het as die lig na die wêreld toe gekom, sodat dié wat in My glo, nie in die duisternis sou bly nie.

JOHANNES 12:44-46AFR83Maak oop in die Bybelleser

Wanneer ons die twee Skrifgedeeltes met mekaar vergelyk is dit duidelik dat beide te make het met God se voorsiening vir en leiding van sy kinders. Die verskil is dat in die Eksodus vers uit die Ou Testament voorsien God letterlik lig, die sigbare simbool van sy teenwoordigheid vir die Israeliete om te volg vandat hulle Egipte verlaat het op pad na die Beloofde Land, teenoor die vers uit Johannes in die Nuwe Testament waar Jesus figuurlik beloof om lig te voorsien. Wat bedoel Jesus wanneer Hy sê dat sy volgelinge sal “die lig hê wat lewe gee”?

Behalwe wanneer ons slaap, leef ons gewoonlik in die lig, en lig word bo die donkerte verkies. Selfs gewone dinge is moeilik om in die donkerte te doen. Hoe sal jy dit byvoorbeeld ervaar as jy in die donkerte by ‘n stel trappe moet af stap, ‘n toneelstuk moet bywoon, ‘n deur oopsluit of as die chirurg ‘n operasie op jou in die donkerte moet uitvoer? En wat kan ons sonder die son aan die groei kry? Afwesigheid van lig voorspel in baie gevalle ‘n ramp. Kinders (en sommige volwassenes) is dikwels bang vir die donker en verkies om te gaan slaap met die lig aan. Ander weer is ontsteld wanneer daar ‘n kragonderbreking is. Die waarheid is dat mense floreer in die lig en dit nodig het om te kan leef. In Genesis lees ons dat lig, die belangrikste bron van lewe, die eerste ding was wat God gemaak het nadat Hy die aarde gemaak het (Genesis 1:3).

Lig simboliseer soveel meer as net ‘n verligting van die donkerte. Lig vertel van geregtigheid, wysheid en insig. In Psalm 19 lees ons: “Die gebod van die Here is helder: dit gee insig.” Wanneer ons in gehoorsaamheid leef, straal ons God se goedheid, insig en wysheid uit en weerspieël sy heerlikheid.

As gevolg van sy goedheid, alwetendheid, heiligheid en heerlikheid straal God lig uit en soos ons lees: “U is met ‘n kleed van lig omhul”. (Psalm 104:2) En daar “is geen duisternis in Hom nie.” (1 Johannes 1:5) In Esegiël se visioen verskyn God in ‘n lig met ‘n helder glans. “Van wat gelyk het na sy heupe, daarvandaan boontoe, het dit vir my gelyk na die glans van gloeiende wit metaal, na iets soos vuur met ‘n rand rondom, en van wat gelyk het na sy heupe, daarvandaan ondertoe, het dit vir my gelyk na vuur met ‘n helder glans rondom.” (Esegiël 1:27) Paulus praat met Timoteus oor God en sê “Hy alleen besit onsterflikheid; Hy woon in ontoeganklike lig.” (1 Timoteus 6:16) Maar toe Jesus uitgeroep het: “Wie in My glo, glo nie net in My nie maar ook in Hom wat My gestuur het. En wie My sien, sien ook Hom wat My gestuur het. Ek het as die lig na die wêreld toe gekom, sodat dié wat in My glo, nie in die duisternis sou bly nie” (Johannes 12:44-46), sê Hy dat Hy die weg is om God te ken. Hy sê dat Hy die lig van geestelike kennis en insig wat lewe gee aan gelowiges bring.

En jy? Het jy die lig van lewe wat Jesus gee? Of is jy steeds in die duisternis?

Bible Society of South Africav.4.18.14
VOLG ONS