Bible Society of South Africa

Jesus – Dag 2

Jesus Immanuel – van Kersfees tot die kruis.

Bybelteks(te)

4Maar toe die tyd wat God daarvoor bepaal het, aangebreek het, het Hy sy Seun gestuur. Hy is uit 'n vrou gebore en van sy geboorte af was Hy aan die wet onderworpe 5om ons, wat aan die wet onderworpe was, los te koop sodat ons as kinders van God aangeneem kon word.

GALASIËRS 4:4-5AFR83Maak oop in die Bybelleser

16“God het die wêreld so liefgehad dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat dié wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie maar die ewige lewe sal hê.

JOHANNES 3:16AFR83Maak oop in die Bybelleser

23“Die maagd sal swanger word

en 'n Seun in die wêreld bring,

en hulle sal Hom Immanuel noem.”

Die naam beteken God by ons.

MATTEUS 1:23AFR83Maak oop in die Bybelleser

God se tydsberekening is volmaak. Presies op die regte tyd in die geskiedenis het God sy Seun na die aarde gestuur. Hoekom? Want God het ons so liefgehad. In Johannes 3:16 lees ons: “God het die wêreld so liefgehad dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat dié wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie maar die ewige lewe sal hê.” Deur die opoffering van Jesus wil Hy ons van ons sonde verlos, en die ewige lewe aan ons skenk, sodat die dood nie ons einde sal beteken nie. Hy het ons losgekoop sodat “ons as kinders van God aangeneem kon word.”

Kersfees is die baie belangrike viering van God se koms na die aarde in die vorm van ‘n hulpelose baba. In Matteus 1:23 lees ons: “Die maagd sal swanger word en ‘n Seun in die wêreld bring, en hulle sal Hom Immanuel noem. Die naam beteken God by ons.” Maar Paasfees is ‘n tyd met selfs ‘n dieper betekenis, want dit beklemtoon dat dit God in Christus is wat na die kruis gaan om te sterf, om geestelike vernuwing te bring aan almal wat in Jesus as Here glo.

Wat van die skaduwees van die kruis wat ons reeds in die geboorte toneel van Christus opmerk? Een van die wyse manne gee ‘n geskenk van mirre, ‘n salf wat vir die balsem van liggame gebruik is, aan Jesus. Is dit nie ‘n heenwysing na sy dood en begrafnis nie?

Het jy al opgemerk dat daar soms liedere in die Kerstyd gesing word wat beter by die Pase sal pas? Een so ‘n voorbeeld is die Engelse lied, “O come, O come Immanuel and ransom captive Israel” wat dikwels in die Kerstyd gesing word. Dit is logies dat ons verby Jesus die baba na Jesus die volwassene moet kyk na dit wat Hy vir ons aan die kruis behaal het. Ons verlossing is is te danke aan sy dood en opstanding.

Paasfees voltooi die Kersverhaal, want God se doel was van die begin af die verlossing van die mensdom wat behaal word deur Christus wat deur sy dood aan die kruis die prys vir die lewe van die mensdom betaal het. Hy het ons letterlik teruggekoop want sonder Hom is ons verlore in die sonde en sonder hoop op verlossing! Daarom is Paasfees die viering van die heerlikheid van die opgestane Verlosser en die triomf van God se genade.

Ons is aan die begin van die belangrike vieringe van Christus se triomf van lewe oor dood vir elkeen van ons deur die persoon van Jesus Christus. Terwyl ons saam met Hom stap op pad na die kruis, vra jouself wie Hy vir jou is en wat Hy vir jou beteken.

Is jy verlos? Is jy as kind van God aangeneem?

Bible Society of South Africav.4.18.14
VOLG ONS