Bible Society of South Africa

Jesus – Dag 14

Jesus: ‘n Nuwe Gebod.

Bybelteks(te)

34Ek gee julle 'n nuwe gebod: julle moet mekaar liefhê. Soos Ek julle liefhet, moet julle mekaar ook liefhê. 35As julle mekaar liefhet, sal almal weet dat julle dissipels van My is.”

JOHANNES 13:34-35AFR83Maak oop in die Bybelleser

37Toe sê Petrus vir Hom: “Here, hoekom kan ek U nie nou volg nie? Ek sal my lewe vir U aflê.”

38“Sal jy jou lewe vir My aflê?” vra Jesus. “Dít verseker Ek jou: Nog voor die haan kraai, sal jy My drie keer verloën.”

JOHANNES 13:37-38AFR83Maak oop in die Bybelleser

13Niemand het groter liefde as dit nie: dat hy sy lewe vir sy vriende aflê.

JOHANNES 15:13AFR83Maak oop in die Bybelleser

34Maar Jesus het vir hulle gesê: “My voedsel is om die wil te doen van Hom wat My gestuur het, en om sy werk te voltooi.

JOHANNES 4:34AFR83Maak oop in die Bybelleser

‘n Mens kan nie anders as om getref te word deur die eenvoudigheid van die gebod wat Jesus aan sy dissipels gegee het nie. ‘n Mens kan ook nie kwalik geneem word as jy dink dat hierdie gebod ongemerk by die dissipels verbygegaan het nie, veral as Petrus nie hierop reageer nie, maar wel op dit wat Jesus net voor dit gesê het. Lees ons die voorafgaande besef ons hoekom. Petrus se gedagtes was gefokus op die feit dat Jesus gesê het dat Hy nie meer baie langer by hulle sal wees nie en dat hulle nie saam met Hom kan gaan nie.

Ironies egter, toe hy vir Jesus vra: “Here, hoekom kan ek U nie nou volg nie? Ek sal my lewe vir U aflê” (Johannes 13:37) bewys Petrus deur sy woorde dat waar dit Jesus aangaan hy reeds met hart en siel gereed is om die nuwe gebod te aanvaar en te gehoorsaam ‑ om lief te hê op die manier wat Jesus verlang. Hy het saam met Jesus geleef, gesien hoe Hy wonderwerke verrig, hy is deur Hom geleer: hy weet hoe belangrik Jesus vir hom is. Maar Jesus weet dat Petrus se gees nog nie heeltemal gereed is om dit wat hy gesê het hy sal doen, te doen nie, en Hy sê: “Sal jy jou lewe vir My aflê?” vra Jesus. “Dít verseker Ek jou: Nog voor die haan kraai, sal jy My drie keer verloën.”

(Johannes 13:38) En ons weet dat Petrus tydens Jesus se verhoor bang was om as een van sy volgelinge geïdentifiseer te word. Maar nadat hy vir 40 jaar die evangelie getrou verkondig het, bewys hy sy liefde vir sy Here verder deur vir Hom te sterf, volgens oorlewering onderstebo aan ‘n kruis.

En miskien is dit waar alles vir ons menslike swakkelinge begin. Miskien verloën ons Jesus ook en is ons bang vir die gevolge. Die soort liefde waarna Jesus verwys, is voortdurend vol opofferings. Niemand het groter liefde as dit nie: dat hy sy lewe vir sy vriende aflê. (Johannes 15:13) Jesus se hele lewe was ‘n opoffering. Ons lees nêrens dat Jesus aangedryf is deur belonings wat Hom ryk en beroemd sou maak nie. Inteendeel, “Jesus het vir hulle gesê: “My voedsel is om die wil te doen van Hom wat My gestuur het, en om sy werk te voltooi.” (Johannes 4:34) Hy het ‘n voorbeeld gestel deur vir die wêreld te sterf en verwag van sy volgelinge om dieselfde te doen. Jesus roep sy volgelinge om die wêreld met ‘n onselfsugtige liefde vol opofferings lief te hê.

Dit moet begin by ons liefde vir Jesus. Dan sal ons verstaan en krag van Hom ontvang om mekaar waarlik lief te hê. Dit sal dan ook vir ander duidelik wees dat ons sy dissiples is. Kan ons soos Petrus sê: “Ek sal my lewe vir U aflê?” Hoe toegewyd is ons aan Jesus?

Hoe toegewyd is jy?

Bible Society of South Africav.4.18.14
VOLG ONS