Jesus – Dag 13
Jesus: Die verteller van gelykenisse.
Bybelteks(te)
LUKAS 10
LUKAS 10
LUKAS 10
Die opdrag om God lief te hê met jou hele hart en jou hele siel, om volkome toegewy te wees aan Hom en om Hom te dien bo almal en alles, is oorweldigend en blyk ook onmoontlik te wees om uit te voer, maar tog is dit iets waarna baie mense streef. Om jou naaste lief te hê soos jouself, is omtrent net so ‘ngroot uitdaging. In die teks hier bo wou die wetsgeleerde Jesus toets, maar op die ou end toets Jesus hom. Die wetsgeleerde besef dat hy te kort skiet en probeer toe om homself te regverdig. Jesus, in sy wysheid, vertel toe vir hom ‘n gelykenis en laat homself besluit wie sy naaste is. Hier volg die gelykenis:
“Toe ‘n man eenmaal op pad was van Jerusalem af na Jerigo toe, het rowers hom aangeval. Hulle het hom kaal uitgetrek en hom geslaan dat hy halfdood bly lê, en toe padgegee. Dit gebeur toe dat daar ‘n priester met daardie pad langs kom, en toe hy hom sien, gaan hy ver langs verby. Net so het daar ook ‘n Leviet by die plek gekom, en toe hy hom sien, gaan hy ook ver langs verby. Maar ‘n Samaritaan wat op reis was, het op hom afgekom, en toe hy hom sien, het hy hom innig jammer gekry. Hy het na hom toe gegaan, sy wonde met olie en wyn behandel en hulle verbind.
Toe het hy hom op sy rydier gehelp en hom na ‘n herberg toe geneem en hom daar verder versorg. Die volgende dag haal hy twee muntstukke uit en gee dit aan die eienaar van die herberg en sê: ‘Sorg vir hom, en as jy meer onkoste met hom het, sal ek jou betaal wanneer ek hierlangs terugkom.’ “Wie van hierdie drie is volgens jou die naaste van hom wat onder die rowers verval het?” Die wetgeleerde antwoord: “Die man wat aan hom medelye bewys het.” Toe sê Jesus vir hom: “Gaan maak jy ook so.” (Lukas 10:30-37)
Jesus het dikwels tydens sy bediening op aarde mense teëgekom wat van Hom wou leer of wat Hom wou toets, en hierdie wetsgeleerde was een van hulle. Soms is dit vir die geleerdes in die samelewing die moeilikste om God te volg, want hulle sien hulleself nie as sondige mense wat Hom nodig het nie. Soms verblind hulle geleerdheid en kennis hulle visie van wie God is. Soms lees ‘n mens van ‘n briljante skrywer, filosoof of wetenskaplike wat op ‘n stadium in sy lewe wegdraai van God want sy gawe, wat hy van God ontvang het, laat hom so grootkop kry dat hy begin glo dat hy God nie langer nodig het nie. Sy eie intelligensie of talent het sy afgod geword in die plek van God.
Hoe vergelyk ons met hierdie wetsgeleerde? Is dit altyd vir ons duidelik wie ons naaste is? Of identifiseer ons met die menslike toestand wat ons altyd laat voel dat ons onsself moet regverdig, want diep binne weet ons ons kry dit selde reg? Kom ons vra onsself of ons werklik omgee vir die mens wat op koerante op die sypaadjie slaap of vir die gesin in ons straat wat soms honger ly, vir die persoon wat die deurklokkie lui om vir kos of klere te vra, of vir die kinders wie se ouers nie hulle skool- of universiteitsgeld kan bekostig nie? En wat van die vlugtelinge wat probeer om ‘n nuwe lewe in vrede uit te kerf? Die lys word langer. Wat doen ons om te help?
Weet jy wie jou naaste is?