Bible Society of South Africa

Jesus – Dag 10

Jesus: Die ingang vir die skape.

Bybelteks(te)

7Toe het Jesus verder gesê: “Dít verseker Ek julle: Ek is die ingang vir die skape. 8Almal wat voor My gekom het, is diewe en rowers; maar die skape het nie na hulle geluister nie. 9Ek is die ingang; as iemand deur My ingaan, sal hy gered word. Hy sal in en uit gaan en weiding kry. 10'n Dief kom net steel en slag en uitroei; Ek het gekom sodat hulle die lewe kan hê, en dit in oorvloed.

JOHANNES 10:7-10AFR83Maak oop in die Bybelleser

2Maar hy wat deur die hek ingaan, is die skape se herder; 3vir hom maak die hekwagter oop. Die skape luister na die herder se stem. Hy roep sy skape op hulle name en lei hulle uit.

JOHANNES 10:2-3AFR83Maak oop in die Bybelleser

Twee paaie

13“Gaan deur die nou poort in. Die poort wat na die verderf lei, is wyd en die pad daarheen breed, en dié wat daardeur ingaan, is baie. 14Maar die poort wat na die lewe lei, is nou en die pad daarheen smal, en dié wat dit kry, is min.”

MATTEUS 7:13-14AFR83Maak oop in die Bybelleser

In die voorafgaande verse in hierdie hoofstuk verduidelik Jesus hoe belangrik die hek van die skaapkraal is. Dikwels is daar verskillende troppe skape in die kraal aangehou en die herder sou dan ingaan om sy trop uit te lei. Jesus het gesê: “Maar hy wat deur die hek ingaan, is die skape se herder; vir hom maak die hekwagter oop. Die skape luister na die herder se stem. Hy roep sy skape op hulle name en lei hulle uit.” (Johannes 10:2-3) As hy nie die herder was nie sou die hekwagter nie die hek vir hom oopgemaak het nie. Met ander woorde, enige iemand wat hom in die skaapkraal bevind en nie deur die hek ingegaan het nie, het op ‘n ander plek ingeklim en was dus ‘n dief of ‘n rower en kon nie vertrou word nie.

Wie is die rowers waarna Jesus hier verwys? In hierdie gedeelte verwys dit na die vals skaapwagters van Israel, diegene wat was soos dié waarvan ons in Jesaja lees (sien: Jesus die goeie herder) of die Fariseërs van sy tyd wat Israel op ‘n dwaalspoor gelei het, en nie mense soos Moses wat gehoorsaam was aan God en sy opdragte uitgevoer het nie. Die Fariseërs was nie opreg nie want hulle was skynheiliges wat bely het dat hulle God liefhet, maar wat die mense belas het met die interpretasie van sy wet. Hulle kon egter, ten spyte van al die groot dinge wat Hy gedoen het, Jesus nie erken as die Een wat deur God gestuur is nie. Baie van hulle was wel van mening dat Hy wonders gedoen het.

Die hek of ingang in hierdie gedeelte beklemtoon dus dat iemand wettig is, dit is ‘n toets vir waarheid of valsheid. Toe Jesus gesê het dat Hy die ingang is, het Hy bedoel dat Hy alleen die ware weg na die Vader is en dat die skape deur Hom na die Vader moes gaan. Hulle sal dan alles wat hulle in hierdie lewe benodig, asook vir die ewige lewe na die dood, ontvang. Dit word beklemtoon in Matteus 7:13-14 waar Jesus sê: “Gaan deur die nou poort in. Die poort wat na die verderf lei, is wyd en die pad daarheen breed, en dié wat daardeur ingaan, is baie. Maar die poort wat na die lewe lei, is nou en die pad daarheen smal, en dié wat dit kry, is min.”

Jesus se waarskuwing is steeds geldig. Nie almal is opreg op soek na die waarheid nie en, soos die Fariseërs, is baie mense meer daarop ingestel om hulle eie doelwitte te bereik en belonings te ontvang eerder as om God te dien. Hulle kom die skaapkraal onwettig binne en probeer om die skape op ‘n dwaalweg te lei. Maar die opregte skape sal nie deur die stem van verleiding bedrieg word nie. Hulle is in die sorg van die Een wat gekom het om die volle lewe aan hulle te gee.

Is jy in die sorg van die goeie Herder?

Bible Society of South Africav.4.18.14
VOLG ONS