Bible Society of South Africa
Benescke Janse van Rensburg

Hy kan … – Dag 6

Hy kan ons oorvloedig laat leef in die storm

Bybelteks(te)

18Wees in alle omstandighede dankbaar, want dit is wat God in Christus Jesus van julle verwag.

1 TESSALONISENSE 5:18AFR83Maak oop in die Bybelleser

11Ek weet wat Ek vir julle beplan, sê die Here: voorspoed en nie teenspoed nie; Ek wil vir julle 'n toekoms gee, 'n verwagting!

JEREMIA 29:11AFR83Maak oop in die Bybelleser

10'n Dief kom net steel en slag en uitroei; Ek het gekom sodat hulle die lewe kan hê, en dit in oorvloed.

JOHANNES 10:10AFR83Maak oop in die Bybelleser

Twee dae nadat Norma Jean Bauerschmidt, oftewel “Miss Norma”, van Michigan in Amerika se man Leo gesterf het, het sy die skoknuus gekry dat ʼn kankergewas by haar gediagnoseer is. Haar seun en skoondogter was saam met haar in die dokter se spreekkamer. Hy het chirurgie, bestraling en chemoterapie voorgestel. Op die vraag wat sy daarvan dink, het Miss Norma geantwoord: “Dokter, ek is 90 jaar oud. Al wat ek wil doen, is om in die pad te val en die wêreld te sien.” Dit is presies wat sy, haar seun en skoondogter met hul kampeerwa gedoen het.

Die afgelope jaar het hulle 21,000 km afgelê en op 75 verskillende plekke in 32 Amerikaanse state oornag. Gedurende hierdie tyd het hulle verskeie ongelooflike ervarings vir die eerste keer beleef — insluitende ʼn warmlugballonvlug, oesters eet, ukulele leer speel, perdry en selfs walvisse sien en ʼn laventelplaas (haar gunstelingblom) besoek. Hulle avonture, getiteld “Driving Miss Norma”, is aanlyn deur ʼn halfmiljoen mense gevolg wat deur haar blymoedige gees, te midde van kwynende gesondheid, geïnspireer is. Een van die gunstelingfoto’s van die piepklein Miss Norma, is waar sy in ʼn rooi sportsmotor sit met Ringo, hul geliefde poedel, reg langs haar. Wat nie sigbaar op die foto was nie, is die suurstoftenk by haar voete aangesien sy toe reeds baie swak was. Dit was een van haar laaste avonture.

Miss Norma is toe oorlede ʼn klomp mense het haar vol lewe by Friday-hawe in die staat Washington gevier.

In 1 Tessalonisense 5:18 lees ons: “Wees in alle omstandighede dankbaar, want dit is wat God in Christus Jesus van julle verwag.” In Jeremia 29:11: “Ek weet wat Ek vir julle beplan, sê die Here: voorspoed en nie teenspoed nie; Ek wil vir julle ʼn toekoms gee, ʼn verwagting!” En in Johannes 10:10 sê Jesus: “Ek het gekom sodat hulle die lewe kan hê, en dit in oorvloed.”

God kan ons help om blymoedig, ʼn lewe van oorvloed te beleef, ten spyte van storms in ons lewens. Ons moet egter doelbewus kies om weg van die storm te kyk en op die Een te fokus wat die storm met een woord kan stilmaak.

Op die vraag aan Miss Norma wat haar gunstelingbestemming tot dusver was, het sy elke keer geantwoord: “Net hier.” Sy was dankbaar vir elke dag en elke ervaring. Juis hierom het sy tot aan die einde ʼn oorvloedige lewe gelei. Kom ons volg haar voorbeeld en leef dankbaar. Só kan ons ook ʼn lewe in oorvloed smaak al is daar soms storms in ons lewens. Sterkte.

Opdrag vir die dag: Trek ʼn pen en papier nader as ʼn storm weer in jou lewe woed en skryf minstens drie dinge neer waarvoor jy steeds dankbaar kan wees. Dank God dan daarvoor. Dit mag dalk net jou perspektief op jou situasie baie vinnig verander.

Bible Society of South Africav.4.18.14
VOLG ONS