Bible Society of South Africa
Benescke Janse van Rensburg

Hy kan … – Dag 5

Hy kan ons verras met goeie dinge

Bybelteks(te)

Gebedsverhoring

7“Vra, en vir julle sal gegee word; soek, en julle sal kry; klop, en vir julle sal oopgemaak word, 8want elkeen wat vra, ontvang; en elkeen wat soek, kry; en vir elkeen wat klop, sal oopgemaak word.

MATTEUS 7:7-8AFR83Maak oop in die Bybelleser

2Julle wil dinge hê, maar kry dit nie en wil dan moord pleeg; julle is jaloers op 'n ander man se goed en kan dit nie in die hande kry nie en dan maak julle rusie en baklei julle. Julle kry nie, omdat julle nie bid nie.

In aanloop tot die Gospel Skouspel glansgeleentheid in Kaapstad, het Tygerberg 104FM luisteraars die geleentheid gehad om hulle naam en werksadres na die ateljee se SMS-lyn te stuur om in aanmerking vir kaartjies te kom. Uit die hordes SMS’e is drie wenners se name getrek wat ons elk by hul werksplek verras het.

Ná afloop van ons oggendprogram by Tygerberg 104FM, het ek en my kollega, Anton Brink, een van die luisteraars gaan verras. Ons het die man laat roep. Hy het na die ontvangs gestap sonder om te weet wie op hom wag.

Toe die man besef wie ons is en waarom ons daar is, was hy totaal oorbluf. Hy moes later trane wegvee. Hy, sy vrou en twee dogtertjies wou baie graag die glansgeleentheid bywoon. Al werk hy ses dae ʼn week, het dit egter nie in hul begroting gepas nie. In sy stiltetyd het hy voor God gaan staan en Hom gevra om dit vir hulle moontlik te maak. God het. Hy het afgesluit met die volgende: “Net soos ek vroeër voor God gaan staan het, sal ek dit weer doen. Dié keer om vir Hom dankie te sê.”

In Matteus 7:7-8 lees ons: “Vra, en vir julle sal gegee word; soek, en julle sal kry; klop, en vir julle sal oopgemaak word, want elkeen wat vra, ontvang; en elkeen wat soek, kry; en vir elkeen wat klop, sal oopgemaak word.” Ook in Jakobus 4:2b lees ons: “ … julle het nie, omdat julle nie bid nie” (1953-hersiening).

Ons maak soms die fout om te voel dat ons God nie met “onbelangrike” dinge wil opsaal nie. Hy begeer egter ʼn verhouding met ons elkeen. Vir Hom is daar niks lekkerder as wanneer Hy sien dat ons selfs die “onbelangrike” dinge met Hom bespreek omdat dit vir ons belangrik is nie.

Die luisteraar se geloof in God om iets “onbelangrik” met Hom te bespreek omdat dit vir hom belangrik is, het veroorsaak dat God Hom kom verras het. Kom ons waag ʼn slag met die wete dat God goeie dinge vir ons kan en wil gee. Sterkte.

Opdrag vir die dag: Waag ʼn kans en gesels gerus vir ʼn slag oor die “onbelangrike” dinge wat vir jou belangrik is in hierdie stadium. Die huis, motor, werksgeleentheid, nuwe paar tekkies, od spesiale bottel parfuum. God ken in elk geval jou hartsbegeertes.

Bible Society of South Africav.4.19.0
VOLG ONS