Bible Society of South Africa
Benescke Janse van Rensburg

Hy kan … – Dag 7

Hy kan ons hoor as ons bid

Bybelteks(te)

8Nader tot God en Hy sal tot julle nader. Was julle hande, sondaars, en reinig julle harte, huigelaars.

Voorbidding

14En nou kan ons met vrymoedigheid na God gaan, omdat Hy ons gebede verhoor as ons enigiets volgens sy wil vra.

1 JOHANNES 5:14AFR83Maak oop in die Bybelleser

6Moet oor niks besorg wees nie, maar maak in alles julle begeertes deur gebed en smeking en met danksegging aan God bekend. 7En die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan, sal oor julle harte en gedagtes die wag hou in Christus Jesus.

FILIPPENSE 4:6-7AFR83Maak oop in die Bybelleser

ʼn Negentienjarige man, Stephen Rogata, is in New York, Amerika, in hegtenis geneem nadat hy met suigdoppe en toue die Trump Towers-gebou probeer uitklim het. Hy was desperaat om by Donald Trump uit te kom. Rogata het tot op die 21ste verdieping gevorder voordat die polisie hom aangekeer het. Hy was krimineel vir hierdie oortrede aangekla.

Ek kan nie help om te wonder wat hierdie jongman op die hart gehad wat só belangrik was dat hy bereid was om sy lewe te waag om by Donald Trump uit te kom nie? Waarmee kon nét Trump hom help?

Wanneer uitdagings ons lewenspad kruis wat dreig om ons te oorweldig, trap ons maklik in dieselfde strik as hierdie jongman. Omdat vrees ons oorweldig en ons magteloos voel, raak ons maklik desperaat. Desperaatheid veroorsaak dat ons maklik perspektief verloor en soos hierdie jongman in ons eie krag veg — in ons gebroke huwelik, in ons rol as ouer, in ʼn vyandige werksomgewing of selfs wanneer ons ons drome probeer verwesenlik. Sonder dat ons dit besef, plaas ons dan maklik in hierdie desperaatheid ons geloof en vertroue in mense, eerder as die Een wat alle mense geskep het.

God wil hê dat ons Hom moet aanroep en met Hom moet gesels oor die dinge wat ons vreesagtig en magteloos laat voel. In Jakobus 4:8 lees ons: “Nader tot God en Hy sal tot julle nader.” In 1 Johannes 5:14 lees ons: “En nou kan ons met vrymoedigheid na God gaan, omdat Hy ons gebede verhoor as ons enigiets volgens sy wil vra.” En in Filippense 4:6-7: “Moet oor niks besorg wees nie, maar maak in alles julle begeertes deur gebed en smeking en met danksegging aan God bekend. En die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan, sal oor julle harte en gedagtes die wag hou in Christus Jesus.”

Watter omstandighede in jou lewe vul jou met vrees en laat voel jou magteloos? God ken dit reeds. Hy wil jou lei en met vrede vul. Kom ons sit dus die toue en suigdoppe neer en gaan in geloof en vertroue na Hom. Kom ons gee Hom ʼn kans om namens ons die situasie uit te sorteer. Hy kan enige storm laat bedaar en ons bring tot op ʼn plek met hernude perspektief. Sterkte.

Opdrag vir die dag: Maak ʼn lys van alles in jou lewe wat jou laat stres. Sit elkeen doelbewus voor God neer en vra Hom daarom om dit namens jou uit te sorteer.

Bible Society of South Africav.4.19.0
VOLG ONS