Bible Society of South Africa
Benescke Janse van Rensburg

Hy kan … – Dag 3

Hy kan jou vyande verwar

Bybelteks(te)

17Julle hoef nie te veg nie, neem net posisie in en staan en kyk na die oorwinning van die Here vir julle. Moenie vrees nie, Juda en Jerusalem, moenie bang wees nie. Trek hulle môre tegemoet. Die Here sal by julle wees.”

2 KRONIEKE 20:17AFR83Maak oop in die Bybelleser

17Geen wapen wat gesmee word om jou aan te val,

sal iets uitrig nie;

elkeen wat vals teen jou getuig,

sal gestraf word.

Dit is hoe Ek, die Here,

vir my dienaars sorg.

Ek laat geregtigheid aan hulle geskied, sê die Here.

JESAJA 54:17AFR83Maak oop in die Bybelleser

7“Die Here sal jou vyande wat jou aanval, vir jou laat vlug. Hulle sal uit een rigting teen jou opruk, maar in talle rigtings voor jou uit vlug.

DEUTERONOMIUM 28:7AFR83Maak oop in die Bybelleser

In ʼn videogreep op die aanlyn nuusblad The Telegraph se webtuiste kan gesien word hoe ʼn trop leeus in die MalaMala Wildreservaat in Suid-Afrika ʼn buffel omsingel. Hulle was gereed om die buffel te verskeur, toe ʼn onverwagse geveg tussen twee leeus uitbreek. Die uiteinde is dat al die leeus betrek is en dat die buffel skotvry kon weghardloop sonder dat die leeus dit agterkom.

Dieselfde gebeur in 2 Kronieke 20 wanneer drie weermagte op pad is om koning Josafat en die Israeliete aan te val. Josafat se weermag sou dit nie oorleef nie. Hy het dit geweet. In angs het hy ʼn vasdag uitgeroep waartydens die hele volk voor God gaan staan het. Hulle het sy aangesig gesoek en Hom om hulp gevra. In 2 Kronieke 20:17 ontvang hulle hierdie belofte van God: “Julle hoef nie te veg nie, neem net posisie in en staan en kyk na die oorwinning van die Here vir julle. Moenie vrees nie, Juda en Jerusalem, moenie bang wees nie.”

Met dié belofte het Josafat en sy weermag die volgende dag die veldslag tegemoet gestap. Die uiteinde? God het onverwagse aanvalle op die Ammoniete, die Moabiete en die mense van die Seïrberge bewerkstellig en Josafat en sy weermag het skotvry van hierdie gebeurtenis afgekom.

In Jesaja 54:17 lees ons: “Geen wapen wat gesmee word om jou aan te val, sal iets uitrig nie; elkeen wat vals teen jou getuig, sal gestraf word. Dit is hoe Ek, die Here, vir my dienaars sorg. Ek laat geregtigheid aan hulle geskied, sê die Here.”Ook in Deuteronomium 28:7 lees ons: “Die Here sal jou vyande wat jou aanval, vir jou laat vlug. Hulle sal uit een rigting teen jou opruk, maar in talle rigtings voor jou uit vlug.”

Omdat God weet van elke aanval wat die vyand (sigbare of onsigbare) teen jou beplan, kan Hy ons beskerm — en die vyand se planne verwar. In stede daarvan om vreesagtig te raak wanneer dit voel asof ons soos die buffel deur ʼn trop leeus omring word, moet ons soos Josafat en die volk na God uitroep en Hom vertrou vir ʼn deurbraak. Niks is immers vir Hom onmoontlik nie. Sterkte.

Opdrag vir die dag: Dink vir ʼn oomblik aan iemand of situasies wat vir jou soos ʼn vyand voel. Vra vir God vir wysheid om die situasie reg te hanteer.

Bible Society of South Africav.4.18.14
VOLG ONS