Bible Society of South Africa
Benescke Janse van Rensburg

Hy kan … – Dag 2

Hy kan ons meer tyd gee

Bybelteks(te)

6Ken Hom in alles wat jy doen

en Hy sal jou die regte pad laat loop.

5As een van julle wysheid kortkom, moet hy dit van God bid, en Hy sal dit aan hom gee, want God gee aan almal sonder voorbehoud en sonder verwyt.

Het jy al ooit ʼn oggend opgestaan en gewonder hoe op dees aarde jy deur jou “doenlysie” vir die dag gaan kom? Dalk is dit hoe jy vanoggend voel?

ʼn Tydjie gelede het ek só gevoel. In my gesprek met God oor alles wat ek moet doen, het ek ervaar hoe Hy my aan die gebeurtenis in Josua 10:13 herinner. In Josua 10 is daar ʼn veldslag met Josua en die Israeliete aan die een kant en die Amoriete aan die ander kant. Josua het besef dat hulle meer daglig benodig om die oorwinning te behaal en Hy vra God daarom om die son en maan te laat stilstaan. God het sy gebede gehoor en dit só laat gebeur. Die Israeliete het daardie dag die oorwinning behaal.

Soms wil ons ook vir God vra om die son en maan te laat stilstaan sodat ons alles afgehandel kan kry in ons dag. Alhoewel Hy dit kán doen, doen Hy dit meestal nie fisies nie. Hy vul ons eerder met wysheid, kreatiwiteit en kennis. Omdat Hy die dag vooruit ken en presies weet watter hindernisse en uitdagings in ons pad lê, stel hierdie wysheid, kreatiwiteit en kennis ons in staat om die hindernisse óf heeltemal vry te spring óf vinniger en meer effektief te hanteer. Dit gee ons meer tyd om alles afgehandel te kry.

In Spreuke 3:6 lees ons: “Ken Hom in al jou weë, dan sal Hý jou paaie gelykmaak.”Ook in Jakobus 1:5 lees ons: “As een van julle wysheid kortkom, moet hy dit van God bid, en Hy sal dit aan hom gee, want God gee aan almal sonder voorbehoud en sonder verwyt.”

Kom ons maak God ons eerste stop In stede daarvan om in die vyand se strik te trap deur te glo dat ons “te besig” is om tyd saam met God te spandeer. Dit is immers veel beter om Hom te vra om ons voetstappe te rig — eerder as om dinge uit te sorteer as die krisis opduik. Hy het die son en maan vir Josua laat stilstaan. Ons mag dalk net verstom staan oor wat mag volg wanneer Hy ons met wysheid, kreatiwiteit en kennis vul! Sterkte.

Opdrag vir die dag: Vra God spesifiek om jou met tydbeplanning te help — en wees sensitief as Hy jou deur sy Heilige Gees lei om aanpassings in jou lewe te maak.

Bible Society of South Africav.4.18.14
VOLG ONS