Bible Society of South Africa
Benescke Janse van Rensburg

Hy kan … – Dag 18

Hy kan dit weer doen

Bybelteks(te)

15Moses het 'n altaar gebou en dit genoem: “Die Here gee my die oorwinning.”

EKSODUS 17:15AFR83Maak oop in die Bybelleser

26Bou dan 'n netjiese altaar vir die Here jou God bo-op daardie versterkte plek en vat die bul en offer dit as brandoffer. Jy moet die hout gebruik van die gewyde paal wat jy afgekap het.”

27Gideon het tien van sy slawe gevat en gedoen wat die Here hom beveel het. Hy het dit in die nag gedoen: hy was bang vir sy pa se familie en vir die stad se mense om dit oordag te doen.

RIGTERS 6:26-27AFR83Maak oop in die Bybelleser

25Die gebied was bosagtig en daar was veldheuning.

1 SAMUEL 14:25AFR83Maak oop in die Bybelleser

35Tot die dag van sy dood het Samuel nie weer vir Saul gesien nie. Samuel het oor Saul getreur, en die Here was bedroef daaroor dat Hy vir Saul koning oor Israel gemaak het.

1 SAMUEL 15:35AFR83Maak oop in die Bybelleser

18Gad het daardie dag na Dawid toe gekom en vir hom gesê: “Gaan op en bou vir die Here 'n altaar op die dorsvloer van Arauna die Jebusiet.”

19Dawid het toe opgegaan soos die Here hom deur die woord van Gad beveel het.

2 SAMUEL 24:18-19AFR83Maak oop in die Bybelleser

12Ek wil dink aan die dade van die Here,

ja, ek wil dink aan u wonderdade van vroeër.

PSALMS 77:12AFR83Maak oop in die Bybelleser

14Alles wat U doen, is heilig, o God.

Waar is 'n god so groot soos God?

PSALMS 77:14AFR83Maak oop in die Bybelleser

Navorsers by die Stirling Universiteit in Skotland het bevind dat stampe teen die kop met ʼn sokkerbal soos wat algemeen in dié sport voorkom, geheueverlies van tussen 41% en 67% tot 24 uur na die tyd kan veroorsaak.

In ons lewens beleef ons deurbrake en wonderwerke van God. Ons dank Hom selfs daarvoor. Tog, wanneer die lewe ons ʼn “stamp” gee in die vorm van ʼn nuwe uitdaging (finansies, gesondheid, verhoudings, werksgewys), begin ons meteens soos die sokkerspelers aan “geheueverlies” lei. Ons fokus soveel op die uitdaging dat ons vergeet wat God in die verlede vir ons gedoen het.

God het besef dat ons mense maklik aan “geheueverlies” kan lei. Juis hierom het Hy die Israeliete keer op keer beveel om ná ʼn deurbraak ʼn altaar of monument op te rig. Buiten dat dit hulle herinner het aan wat Hy gedoen het, het dit verseker ook hulle geloof versterk wanneer ʼn nuwe uitdaging voor hulle kom lê het.

In Eksodus 17 lees ons van die Israeliete se veldslag teen die Amalekiete. Moses moes sy arms in die lug hou vir die Israeliete om die veldslag te kon wen. Hulle het. In Eksodus 17:15 lees ons: “Moses het ʼn altaar gebou en dit genoem: ‘Die Here gee my die oorwinning.’” Noag het ʼn altaar gebou nadat hulle uit die ark op droë grond gestap het. Josua het ook ʼn altaar gebou nadat hulle die beloofde land binnegegaan het. Gideon het ʼn altaar gebou (Rigters 6:26-27). Ook Samuel (1 Samuel 14:25), Saul (1 Samuel 15:35), Dawid (2 Samuel 24:18-19) en Elia (1 Konings 18:31-32). Elke keer is ʼn altaar opgerig om die volk te herinner aan ʼn wonderwerk wat God vir hulle gedoen het.

In Psalm 77:12,14 lees ons: “Ek dink aan wat die Here gedoen het, die wonderlike dinge wat U gedoen het, lank gelede … O God, U het gedoen wat net U kan doen. Daar is nie ʼn ander God wat so groot is soos U nie, o God.”

Watter “stamp” het jy onlangs beleef? Lei jy aan “geheueverlies” of kyk jy terug en onthou van al die vorige deurbrake? Van die vorige finansiële deurbraak wat God vir jou bewerkstellig het; die verhoudings wat Hy bonatuurlik herstel het; die siekte waarvan Hy jou genees het of daardie deurbraak wat net Hy jou mee kon kom verras? Kom ons kyk verby die uitdaging en fokus weereens op God. Hy verander nooit nie. As die uitdaging kom, weet ons die antwoord sal ook. Sterkte.

Opdrag vir die dag: Kry ʼn pen en papier en maak ʼn lys van deurbrake of wonderwerke wat jy en jou familie al beleef het. Wanneer jy weer ʼn “stamp” kry, kan jy gerus die lys uithaal en jouself herinner aan wie God is. Hy verander nooit nie.

Bible Society of South Africav.4.19.0
VOLG ONS