Bible Society of South Africa
Benescke Janse van Rensburg

Hy kan … – Dag 17

Hy kan ons ʼn nuwe visie gee

Bybelteks(te)

5As een van julle wysheid kortkom, moet hy dit van God bid, en Hy sal dit aan hom gee, want God gee aan almal sonder voorbehoud en sonder verwyt.

21Wanneer jy die regte koers verlaat,

sal jy agter jou 'n stem hoor sê:

“Hier is die pad, loop hierlangs.”

JESAJA 30:21AFR83Maak oop in die Bybelleser

9'n Mens beplan sy pad,

maar die Here bepaal hoe hy loop.

SPREUKE 16:9AFR83Maak oop in die Bybelleser

Die “brug na nêrens” is een van die bekendste bakens wat motoriste sien wanneer hulle via die N1-snelweg Kaapstad se middestad binnery. Bouwerk aan dié onvoltooide pad, wat hoog in die lug op pilare staan, is in die 1940’s begin om verkeer in die middestad te verlig. Die bouprojek is egter in die 1970’s weens ʼn geldtekort gestaak. Sedertdien staan die onvoltooide brug net so.

ʼn Halfeeu later, met die viering van Kaapstad as Wêreldontwerphoofstad, het die stadsraad in Kaapstad besluit om die publiek te nooi om idees in te dien oor wat moontlik met dié brug moet gebeur. Indien hulle van een van die idees hou sal hulle oorweeg om dit te implementeer.

In ons lewens moet ons ook soms besluite neem wat ons met vrees vul omdat ons bang is dat ons nie die regte besluit neem nie. Vrees veroorsaak dat ons passief raak en selfs ons visie begin verloor. As ons dit nie betyds aanspreek nie, word ons lewens soos die “brug na nêrens”. Ons begin stagneer.

Wat is die besluit wat jy vandag moet neem? Trou of die verhouding verbreek? Trek of bly? In jou huidige posisie by die werk bly of aansoek doen om ʼn ander werk? Met ʼn gesin begin of dalk geen kinders hê nie?

God ken ons elkeen se toekoms. Hy kan ons dus help om met wysheid besluite te neem. In Jakobus 1:5 lees ons: “As een van julle wysheid kortkom, moet hy dit van God bid, en Hy sal dit aan hom gee, want God gee aan almal sonder voorbehoud en sonder verwyt.” Ook in Jesaja 30:21 lees ons: “Wanneer jy die regte koers verlaat, sal jy agter jou ʼn stem hoor sê: ‘Hier is die pad, loop hierlangs.’” En in Spreuke 16:9 staan geskryf: “ʼn Mens beplan sy pad, maar die Here bepaal hoe hy loop.” Hy is egter ook genadig om ons te help sou ons wel verkeerde besluit neem om weer op die regte pad te kom. Ons moet egter net begin om besluite te neem anders stagneer ons.

Is dit maklik om ʼn stap van geloof te neem en ʼn besluit te neem? Meestal nie. Tog, omdat God ons lei, kan ons die stem van die Heilige Gees vertrou omdat dit mettertyd sal sin maak. Waarheen is jou brug op pad? Ek weet nie, maar Hy weet. Kom ons los die vrees en vertrou Hom. Sterkte.

Opdrag vir die dag: Indien jy weer ʼn besluit moet neem, skryf die voordele en nadele van elke opsie neer. Oorweeg dit. Bid daaroor en vertrou die vrede in jou hart. Dit is baiekeer die rigtingaanwyser.

Bible Society of South Africav.4.18.14
VOLG ONS