Bible Society of South Africa
Benescke Janse van Rensburg

Hy kan … – Dag 19

Hy kan ons as instrumente gebruik

Bybelteks(te)

5Laat jou lewe aan die Here oor

en vertrou op Hom; Hy sal sorg.

Een oggend tydens die ontbytprogram by Tygerberg 104FM, het ons oor ʼn foto van ʼn bejaarde paartjie (beide in hul 70’s) gepraat. Die foto het daardie oggend in Die Burger verskyn. In die foto staan die paartjie verslae voor hulle afgebrande motorhuis. ʼn Inbreker het hulle motor probeer steel. ʼn Kortsluiting het ʼn brand veroorsaak. Binne minute het hulle motorhuis, met onder meer al die tannie se wintersklere, afgebrand. Die brandweer het betyds opgedaag om te verhoed dat die brand na hulle huis versprei.

In die ateljee het ons op die ingewing van die oomblik besluit om ons luisteraars se hulp te vra om die paartjie in hulle nood by te staan. Ons was verbaas oor die vinnige, ruimhartige bydraes van die luisteraars. Die volgende dag kon ons hulle gaan verras.

By ons aankoms by die paartjie se huis in Plumstead was hulle verras. Met die aankondiging dat ons luisteraars, wat hulle van geen kant af ken nie, bereid was om ʼn bedrag van R21 000 by te dra het hulle in trane gelaat. Deur die vrou se snikke deur, het sy ons vertel dat sy daardie oggend haar lot by God bekla het. Omdat hulle nie versekering op die motor gehad het nie, het sy gewonder hoe hulle voortaan oor die weg sou kom.

Terwyl die vrou gebid het, het die woorde in Psalm 37:5 in haar hart kom lê: “Laat jou lewe aan die Here oor en vertrou op Hom; Hy sal sorg.” Sy het nie geweet wat op pad was nie, maar God het. Dit was Hy wat ons aandag na die artikel getrek het. Dit was ook Hy wat die luisteraars se harte aangeraak het om geld te skenk. Alles was sy inisiatief. Ons was bloot die instrumente wat Hy gekies het om te gebruik.

God kan dieselfde in jou lewe doen wanneer daar ʼn dringende behoefte is. Hy gebruik mense om sy hande en voete te wees. Net so is daar daagliks vir ons elkeen hordes geleenthede waarin ons ʼn verskil in ander se lewens te maak. Soms is die behoefte fisies van aard. Ander kere, emosioneel. God weet wat nodig is en Hy kan en wil ons deur sy Heilige Gees lei om sy liefde aan ʼn gebroke wêreld te demonstreer. Sal jy vandag aan sy roepstem gehoorsaam wees? Sterkte.

Opdrag vir die dag: Vra God spesifiek om jou oë oop te maak vir ʼn nood vandag. Vra Hom ook om deur sy Heilige Gees vir jou wysheid te gee hoe jy die nood moet verlig. Jy mag dalk die antwoord op iemand anders se gebed wees.

Bible Society of South Africav.4.18.14
VOLG ONS