Bible Society of South Africa
Benescke Janse van Rensburg

Hy kan … – Dag 16

Hy wil die beste vir ons hê

Bybelteks(te)

16U het my al gesien toe ek nog ongebore was,

al my lewensdae was in u boek opgeskrywe

nog voordat ek gebore is.

17Hoe wonderlik is u gedagtes vir my, o God,

hoe magtig hulle almal!

18As ek hulle sou wou opnoem –

hulle is meer as wat daar sand is,

en as ek daarmee klaar is,

sou ek nog steeds met U te doen hê.

PSALMS 139:16-18AFR83Maak oop in die Bybelleser

Tien jaar lank het ʼn naamlose Filippynse visserman ʼn tamaai pêrel van 34 kilogram onder sy bed versteek. Hy het geglo dat dit vir hom ʼn gelukbringer is. Eers toe sy houthut afbrand, het hy dit aan toerismebeamptes gewys wat bepaal het dat dit sowat R1,3 miljard werd is.

Omdat die visserman nie die waarde van die pêrel besef het nie, het hy vir ʼn dekade lank ʼn sukkelaarsbestaan gevoer en in sy vervalle houthutjie gebly. Eers toe sy huis afbrand en hy alles “verloor” het, het hy besef wat hy eintlik gehad het.

Dít is dieselfde vir ons lewens. Uit vrees vir verwerping of uit onkunde of selfs omdat ons aanvaar dat ʼn “sukkelbestaan” die kaart is wat ons ontvang het, mis ons God se lewe in oorvloed wat Hy vir ons beplan.

Dawid het dit verstaan. In Psalm 139:16-18 skryf hy: “U het my al gesien toe ek nog ongebore was, al my lewensdae was in u boek opgeskrywe nog voordat ek gebore is. Hoe wonderlik is u gedagtes vir my, o God, hoe magtig hulle almal! As ek hulle sou wou opnoem – hulle is meer as wat daar sand is, en as ek daarmee klaar is, sou ek nog steeds met U te doen hê.”

Vrees kan egter veroorsaak dat ons soos die naamlose visserman passief raak. Ons dink dit is veiliger om die geskenk (of droom) wat God vir ons gegee het onder die bed te bêre. Ons oorleef eerder as om werklik te leef. Seerkry verhoed ons byvoorbeeld om soms weer te waag om lief te hê. ʼn Vrees vir verwerping weerhou ons byvoorbeeld om ʼn besigheidsplan ʼn werklikheid te maak terwyl ons eerder in ʼn beroep bly waarvoor ons reeds lankal ons passie verloor het.

Wat is daardie droom vir jou soos die visserman se pêrel onder die bed? Kom ons neem vandag die stap van geloof en gesels met God daaroor. Kom ons vra Hom om ons met wysheid en kreatiwiteit te lei om dit ʼn werklikheid te maak. Die waarde daarvan mag ons dalk ook verstom laat! Sterkte.

Bible Society of South Africav.4.19.0
VOLG ONS