Bible Society of South Africa
Benescke Janse van Rensburg

Hy kan … – Dag 15

Hy kan wonderwerke doen

Bybelteks(te)

18Die Here is naby almal wat Hom aanroep,

almal wat Hom in opregtheid aanroep.

19Aan dié wat Hom dien, gee Hy wat hulle vra,

Hy hoor as hulle om hulp roep, en Hy red hulle.

PSALMS 145:18-19AFR83Maak oop in die Bybelleser

Leser 1, Claudia: “In ʼn stadium het my twee seuns elk ʼn paar Nike-tekkies begeer. Omdat ek geweet het dat ek dit nie kon bekostig nie, het ek vir hulle gesê: ‘Kom ons bid en vertrou op die Here daarvoor.’ Sy Woord leer ons immers dat ons Hom vir enigiets kan vra en as dit in sy wil is, sal Hy dit vir ons gee.

ʼn Paar dae voor Kersfees het ek egter benoud begin word omdat ek geweet het dat die teleurstelling groot sou wees vir die kinders as hulle nie die tekkies kry nie. Ek en my man en die seuns het opnuut God op sy Woord gevat en Hom vertrou. Sonder dat enigiemand van die tekkies geweet het, het my ouer suster geskenke vir my seuns by ons huis aangebring. Wat was dit? Twee pare Nike-tekkies — presies die soort wat hulle graag wou hê. God is betrokke in die detail van ons lewens en ons kan Hom vertrou selfs vir die dinge wat ‘onbelangrik’ vir ander mense lyk! Alle eer aan Hom.”

Leser 2, Trevor: “Op 14-jarige ouderdom het ek begin rook. Aanvanklik min, maar toenemend meer. In April 2010, het ek die oggend koffie gemaak. Ek kon nie wag om my eerste sigaret net daarna op te steek nie. My borskas het egter gepyn. Ek het geweet dat die 35 sigarette wat ek die vorige dag gerook het daartoe bygedra het.

In die verlede het ek baiekeer probeer ophou rook. Die onttrekkingsimptome het my egter ʼn bitter, onsmaaklike humeurige mens gemaak. Met tye het dit my balans aangetas en ek het gesukkel om die motor in die regte baan te hou.
Die versoeking het egter daardie oggend die oorhand gekry en ek het wel die sigaret opgesteek. Halfpad deur die sigaret het ek ʼn stem in my gees ervaar (wat ek glo die Heilige Gees was). Die stem het vir my gesê om op te hou rook. Ek wou nog een teug neem en dit dan dooddruk, maar toe ek dit na my mond bring, was die oortuiging weer daar. Ek het dit doodgedruk, my oë gesluit en gebid: ‘Here, ek wil graag ophou rook, maar kan dit nie alleen doen nie. Help my asseblief.’ In daardie oomblik het ʼn wonderwerk gebeur. Dit was asof God my aangeraak het.

Tot vandag het ek geen onttrekkingsimptome beleef nie en almal praat oor hoe maklik ek opgehou het. In eerlikheid weet ek dat dit God is wat my vrygemaak het van hierdie dwelm. Ons moet Hom net vra — Hy is almagtig!”

Leser 3, Marna: “In Maart 2013 is my broer se seuntjie, Hendry met elektrisiteit geskok. Hy was heeltemal bewusteloos. My broer, Werner, het met hom dokters toe gejaag — hulle plaas is 10 minute se ry uit die dorp. By die dokters aangekom, het Hendry se hart gaan staan. Vir 20 minute lank het die dokters probeer om hom te stabiliseer. Ons het baie gebid. Toe Hendry se hart eindelik begin klop is hy in die hospitaal opgeneem. Die dokters het gevrees dat hy dalk breinskade opgedoen het omdat hy so lank sonder suurstof was. Hulle het hom onder sedasie gesit vir 10 dae om swelling van die brein te verhoed. Ná 10 dae is Hendry wakker gemaak. Daar was geen breinskade nie en vandag speel hy steeds net soos enige ander kind! Niks is vir God onmoontlik nie!”

God kan en wil sy grootheid aan ons demonstreer. Hy kan voorsien, vrymaak en bewaar. In Psalm 145:18-19 lees ons immers: “Die Here is naby almal wat Hom aanroep, almal wat Hom in opregtheid aanroep. Aan dié wat Hom dien, gee Hy wat hulle vra, Hy hoor as hulle om hulp roep, en Hy red hulle.” Kom ons sê vandag vir Hom dankie vir wie Hy vir ons is. Sterkte.

Opdrag vir die dag: Dink vir ʼn oomblik na in jou eie lewe waar God vir jou ʼn wonderwerk gedoen het. Sê vir Hom dankie daarvoor — en vertel ten minste vir een persoon daarvan.

Bible Society of South Africav.4.19.0
VOLG ONS