Bible Society of South Africa
Benescke Janse van Rensburg

Hy kan … – Dag 14

Hy kan rouklere, feesklere maak

Bybelteks(te)

13Dan sal die jong meisies dans van blydskap

saam met die jong mans en die ou mans.

Ek sal hulle droefheid in vreugde verander,

Ek sal vir hulle uitkoms gee:

Ek sal hulle bly maak,

hulle sal geen kommer meer hê nie.

JEREMIA 31:13AFR83Maak oop in die Bybelleser

6Waarlik, sy toorn duur net 'n oomblik,

maar sy goedheid lewenslank.

Gisteraand was daar nog trane

en vanmôre lag ek al weer.

12Ek was in die rou,

maar U het my van vreugde laat dans.

U het my rouklere uitgetrek

en vir my feesklere aangetrek.

13Daarom sal ek sing tot u eer;

ek sal nie stilbly nie.

Here my God, vir altyd sal ek U loof!

PSALMS 30:12-13AFR83Maak oop in die Bybelleser

Wat gebeur as jy ʼn rok in die Dooie See los? Dít is wat die Israelse kunstenaar, Sigalit Landau, wou weet. Sy het ʼn swart rok vir 3 maande in die soutwater gesit. Die resultaat? Soutkristalle het die rok getransformeer van ʼn “rourok” tot ʼn “trourok”.

Gedurende situasies van verlies, ontnugtering en teleurstelling voel ons met tye asof ons ons klere en hare wil afskeer en met pikswart rouklere vervang. Die intense emosies van skok en hartseer laat ons passief en selfs depressief.

By God is daar egter hoop. Hy kan ons situasie verander. In Jeremia 31:13 lees ons: “Ek sal hulle droefheid in vreugde verander, Ek sal vir hulle uitkoms gee: Ek sal hulle bly maak, hulle sal geen kommer meer hê nie.” Ook in Psalm 30:6 staan geskryf: “Waarlik, sy toorn duur net ʼn oomblik, maar sy goedheid lewenslank. Gisteraand was daar nog trane en vanmôre lag ek al weer.” En in Psalm 30:12-13 skryf die Psalmdigter: “Ek was in die rou, maar U het my van vreugde laat dans. U het my rouklere uitgetrek en vir my feesklere aangetrek. Daarom sal ek sing tot u eer; ek sal nie stilbly nie. Here my God, vir altyd sal ek U loof!”

Die proses om rouklere in feesklere te verander, neem tyd. In die seisoen waarin dit voel asof ons nie asem kry nie, is dit dalk omdat ons juis “onder die water” is, waar God sy sout gebruik om ons wonde te genees. Hy vou ons toe in sy genade en liefde terwyl soutkristalle die “rourok” tot ʼn spierwit “trourok” verander.

Wat is die seersituasie wat jy diep weggebêre het? Jou egskeiding, die dood van ʼn geliefde, onregverdige behandeling in die werksplek, iemand wat jou vertroue verbreek het of selfs ʼn familielid of vriend(in) wat jou seergemaak het? Kom ons vertrou God om die genesing te bring. Hy wil ons rouklere uittrek en vir ons feesklere aantrek sodat ons soos die Psalmdigter kan sê: “Here my God, vir altyd sal ek U loof.” Sterkte.

Opdrag vir die dag: Dink vir ʼn oomblik aan ʼn situasie wat jou intens seergemaak het in die verlede. Neem vrymoedigheid om met God daaroor te gesels. Vra Hom om jou te genees sodat jy die rouklere kan uittrek en Hy sy feesklere vir jou kan aantrek.

Bible Society of South Africav.4.19.0
VOLG ONS