Bible Society of South Africa
Benescke Janse van Rensburg

Hy kan … – Dag 13

Hy wil met jou praat

Bybelteks(te)

14en my volk oor wie my Naam uitgeroep is, toon berou en bid en vra na my wil en draai terug van hulle bose weë af, sal Ek luister uit die hemel en hulle sonde vergewe en hulle land laat herstel. 15Ek sal hierdie plek nou onder my sorg neem en ontvanklik wees vir elke gebed hiervandaan.

2 KRONIEKE 7:14-15AFR83Maak oop in die Bybelleser

3Roep My aan, Ek sal jou antwoord en jou vertel van groot en onverstaanbare dinge waarvan jy nie weet nie.

JEREMIA 33:3AFR83Maak oop in die Bybelleser

9Die Here het sy oë oral op die aarde sodat Hy dié kan help wat met hulle hele hart op Hom vertrou. Maar nou het jy dwaas opgetree en daarom sal jy van nou af oorlog hê.”

2 KRONIEKE 16:9AFR83Maak oop in die Bybelleser

In reaksie op gister se dagstuk, het ʼn leser die volgende vraag gevra: “Ek verstaan die belangrikheid om die Bybel te lees, maar wat as ek sukkel om te bid? Dit voel kompleet asof daar ʼn blokkasie is. Kan jy help asseblief?”

Dink vir ʼn oomblik aan ʼn rivier. Alhoewel die water aanvanklik vinnig vloei, gebeur dit dat takke, blare, grond en selfs klippe meegesleur kan word. Sodra die water ʼn nouer gedeelte in die rivierbedding bereik, veroorsaak die opgehoopte puin ʼn blokkasie wat die water nie net stadiger laat vloei nie; dit kan die water selfs heeltemal tot stilstand bring.

In ons lewens kan die vloei van die Heilige Gees met die water in die rivierbedding vergelyk word. Soms hoor ons God se stem duidelik. Ander kere sukkel ons — weens blokkasies in ons lewens. Blokkasies kom in die vorm van bitterheid, ʼn onvergewensgesindheid, trots, doelbewuste sonde wat ons nie bely nie, ongehoorsaamheid aan ʼn opdrag van God of selfs rebellie teenoor God. Hierdie blokkasies beroof ons van ons vrymoedigheid om met God te praat — ook om die Heilige Gees se stem te hoor.

Daar is egter genade en vergifnis wanneer ons hierdie blokkasies identifiseer, bely en daarvan wegdraai. In 2 Kronieke 7:14-15 sê God: “ … en my volk, oor wie my Naam uitgeroep is, hulle verootmoedig en bid en my aangesig soek en hulle bekeer van hul verkeerde weë, dan sal Ék uit die hemel hoor en hulle sonde vergewe en hulle land genees. Nou sal my oë oop wees en my ore luister na die gebed van hierdie plek.” Ook in Jeremia 33:3 sê God: “Roep My aan, Ek sal jou antwoord.” En in 2 Kronieke 16:9: “Die Here het sy oë oral op die aarde sodat Hy dié kan help wat met hulle hele hart op Hom vertrou.”

God wil met ons praat — en Hy wil ons lei om die “takke, blare, grond en klippe” in ons lewens te identifiseer wat tussen ons en Hom staan sodat ons sy stem duidelik kan hoor. Kom ons gee Hom ʼn kans. Ons mag dalk selfs verstom staan oor hoe helder en duidelik sy stem wel kan wees sodra ons die puin verwyder. Sterkte.

Opdrag vir die dag: Vat ʼn pen en papier en gaan sit met ʼn oop hart voor God. Vra Hom om jou te wys of daar iets is wat ʼn blokkasie tussen jou en Hom veroorsaak. Skryf dit neer. Bely dit en kies om daarvan weg te draai.

Bible Society of South Africav.4.19.0
VOLG ONS