Bible Society of South Africa
Benescke Janse van Rensburg

Hy kan … – Dag 12

Hy wil Homself aan jou openbaar

Bybelteks(te)

Die Woord het mens geword

1In die begin was die Woord daar, en die Woord was by God, en die Woord was self God.

JOHANNES 1:1AFR83Maak oop in die Bybelleser

16Die hele Skrif is deur God geïnspireer en het groot waarde om in die waarheid te onderrig, dwaling te bestry, verkeerdhede reg te stel en 'n regte lewenswyse te kweek, 17sodat die man wat in diens van God staan, volkome voorberei en toegerus sal wees vir elke goeie werk.

2 TIMOTEUS 3:16-17AFR83Maak oop in die Bybelleser

Die woord as swaard

12Die woord van God is lewend en kragtig. Dit is skerper as enige swaard met twee snykante en dring deur selfs tot die skeiding van siel en gees en van gewrigte en murg. Dit beoordeel die bedoelings en gedagtes van die hart.

HEBREËRS 4:12AFR83Maak oop in die Bybelleser

7“of: ‘Wie sal na die onderaardse diepte toe afdaal?’ nie,” dit is, om Christus uit die dood terug te bring.

ROMEINE 10:7AFR83Maak oop in die Bybelleser

ʼn Leser skryf op ʼn dag vir my: “Benescke, ek bid, maar ek kry nie antwoorde nie. Dit voel asof God my nie hoor nie. Ek begeer om nader aan Hom te leef, maar iets blok my. Ek lees Bybel en ek bid, maar my gedagtes dwaal en ek sukkel om die Bybel te verstaan. Kan jy my asseblief help?”

Die eintlike vraag moet wees: Hoekom lees ons Bybel? Om ʼn skuldgevoel te sus? Omdat dit die “regte ding” is om te doen? Omdat ons wysheid of leiding benodig? Of kan ons eerlik sê dat ons Bybel lees met die uitsluitlike doel om God beter te leer ken?

In Johannes 1:1 lees ons: “In die begin was die Woord, en die Woord was by God, en die Woord was God” (1933/1953-vertaling). En in 2 Timoteus 3:16-17 lees ons: “Die hele Skrif is deur God geïnspireer en het groot waarde om in die waarheid te onderrig, dwaling te bestry, verkeerdhede reg te stel en ʼn regte lewenswyse te kweek, sodat die man wat in diens van God staan, volkome voorberei en toegerus sal wees vir elke goeie werk.”

Die Bybel is God se geskenk aan ons elkeen. Dit is die voertuig waarin ons sy onveranderlike karakter ontdek, wat ons veilig laat voel; sy krag, wat ons geloof versterk; sy getrouheid wat ons met hoop vul; sy onvoorwaardelike liefde en genade, maar ook sy regverdige oordeel. In die teenwoordigheid van die Heilige Gees verander die Bybel van ʼn boek tot die lewende, kragtige Woord van God (Hebreërs 4:12). Die beloftes in sy Woord, word ons ammunisie teen ons onsigbare vyand. Dit is ons flits wanneer alles pikdonker om ons raak. Ons kompas wanneer ons die pad byster raak en ons leer waarteen ons uitklim om die put van hopeloosheid te ontglip.

Wil die vyand hê dat ons die Bybel moet lees en verstaan? Natuurlik nie. Wil hy hê dat ons God se stem moet hoor? Nog minder. Dit verras my dus nie dat soveel mense getuig dat hulle van tyd tot tyd sukkel met dwalende gedagtes wanneer hulle bid of Bybel lees en dat hulle selfs aan die slaap raak wanneer hulle probeer bid. Is dit dalk die vyand se strategie om ons weg te hou van God?

Hier is drie stappe wat jy kan probeer as jy weer sukkel om ʼn konneksie met God te maak. Stap een: Kry ʼn Bybelleesprogram. Stap twee: Vra die Heilige Gees om jou Leidsman te wees en jou tyd met God te beskerm. Vra Hom om die Woord vir jou oop te breek. En stap drie: Kry ʼn notaboek. Sodra jy ʼn gedeelte uit die Bybel gelees het, vra jouself af wat dit jou van God se karakter wys en skryf dit neer. Hoe meer jy dit oordink, hoe sterker sal jy in geloof groei (Romeine 10:17).

Onthou, God het ons geskape om in ʼn verhouding met Hom te staan. Sy begeerte om met ons ʼn konneksie te hê is selfs groter as ons begeerte om Hom te ervaar. Hy wil met ons praat. Kom ons luister. Sterkte.

Opdrag vir die dag: Kry ʼn Bybelleesprogram aanlyn. Begin met een boek uit die Bybel wat jy daagliks kan bestudeer. Vra die Heilige Gees om as jou Leidsman op te tree wanneer jy lees. Skryf die karaktereienskappe van God neer.

Bible Society of South Africav.4.18.14
VOLG ONS