Bible Society of South Africa
Benescke Janse van Rensburg

Hy kan … – Dag 11

God sien alles en Hy beloon dit

Bybelteks(te)

18sodat niemand kan sien dat jy vas nie, behalwe jou Vader wat jy nie kan sien nie. Jou Vader wat sien wat verborge is, sal jou beloon.”

MATTEUS 6:18AFR83Maak oop in die Bybelleser

17Wie hom oor 'n arm mens ontferm, gee 'n lening aan die Here,

en Hy sal hom ten volle vergoed.

SPREUKE 19:17AFR83Maak oop in die Bybelleser

27Moenie 'n weldaad weerhou van iemand aan wie dit toekom,

terwyl dit in jou mag is om dit te bewys nie.

SPREUKE 3:27AFR83Maak oop in die Bybelleser

ʼn Weldoener het weens uitdagings kop uitgetrek sowat 48 uur voordat ons Keizhia, ʼn topleerder in haar skool, as een van die behoeftige matrieks met ons jaarlikse Matriekafskeidprojek by Tygerberg 104FM geïdentifiseer het. Dit was ʼn probleem.

Ons het daarin geslaag om ander weldoeners aan boort te kry om die hare, grimering en naels te doen. Ook het iemand hulle spogmotor beskikbaar gestel wat Keizhia na die geleentheid sou vervoer. Al wat ons gekort het, is ʼn rok en skoene.

Dít is waar Yolandi, ʼn luisteraar, ingekom het. Sy het haar dogter, wat verlede jaar in matriek was, se uitrusting vir ons geleen. Die rok en skoene was nommerpas. Yolandi het verder gegaan en haar huis oopgestel vir die jong matriekleerder om foto’s daar te gaan neem voordat sy na die matriekafskeid vervoer is. Dit was regtig spesiaal.

Eers ʼn paar dae later het ek iets gehoor wat my veral geïnspireer het. Yolandi is verlede jaar met kanker gediagnoseer. Met haar behandeling moet sy gereeld haar bloed laat toets. Die Donderdag van die matriekafskeid moes sy dringend in die hospitaal opgeneem word aangesien die dokters vir bloedklonte gevrees het. Alhoewel sy op pad was hospitaal toe, het Yolandi besluit om eers die matriekleerder klaar te help voordat sy die aand hospitaal toe is. Die voorspelling was dat sy daardie naweek in die hospitaal sou moes oorbly. Dit was baie sleg vir haar en haar drie kinders by die huis.

ʼn Dag ná die matriekafskeid het die dokter ʼn draai gemaak en na die nuwe bloeduitslae gekyk. Dié keer was hy verstom, want teen alle verwagtinge het die telling oornag genormaliseer. Sy kon daardie naweek by die huis spandeer.

Dié gebeurtenis het my laat dink aan Jesus se woorde in Matteus 6:18: “Jou Vader wat sien wat verborge is, sal jou beloon.” In Spreuke 19:17 lees ons: “Wie hom oor ʼn arm mens ontferm, gee ʼn lening aan die Here, en Hy sal hom ten volle vergoed.” En in Spreuke 3:27 lees ons: “Moenie ʼn weldaad weerhou van iemand aan wie dit toekom, terwyl dit in jou mag is om dit te bewys nie.”

Natuurlik moet ons nie uitreik na mense in nood met die doel om iets terug te kry nie. Tog bly dit vir my interessant hoeveel keer ek al beleef het dat God goed is vir diegene wat goed is vir ander — selfs al weet min mense daarvan. Kom ons hou ons oë oop om vir Hom ʼn instrument te wees. Ek is seker dit plaas ʼn glimlag op sy gesig. Sterkte.

Opdrag vir die dag: Bid spesifiek dat God jou deur sy Heilige Gees sal lei om ten minste een persoon in nood (fisies of emosioneel) raak te sien vandag. Vra Hom ook vir wysheid oor hoe jy die situasie moet hanteer. Wees dan gehoorsaam en reik uit!

Bible Society of South Africav.4.18.14
VOLG ONS