Bible Society of South Africa

Hoe om te leef – Dag 9

Belangrikheid van God se liefde in ons lewe.

Bybelteks(te)

Die liefde

1Nou wys ek julle wat nog die allerbeste is:

Al praat ek die tale van mense en engele,

maar ek het geen liefde nie, het ek 'n stuk klinkende metaal, 'n galmende simbaal geword.

2Al het ek die gawe van profesie

en ken ek al die geheimenisse

en besit ek al die kennis,

en al het ek al die geloof om berge te versit,

maar ek het geen liefde nie, dan is ek niks.

3Al deel ek al wat ek het aan ander uit,

en al gee ek my liggaam prys om my daarop te kan beroem,

maar ek het geen liefde nie, baat dit my niks.

1 KORINTIËRS 13:1-3AFR83Maak oop in die Bybelleser

As jy iemand in sy taal kan aanspreek, kry jy makliker toegang tot sy lewe. Ongelukkig is daar een element wat, as dit ontbreek, betekenisvolle kommunikasie vir seker in die wiele ry, en dit is die mens se hartstaal – liefde. Selfs al praat iemand ‘n mense- of engeletaal, maar sy lewe ontbreek die liefde, word selfs die wysste woorde nie ernstig opgeneem nie. Dit is vir die hoorder net woorde met klanke wat deur die wind weggewaai word. 1 Korinthiërs 13:1 beskryf iemand sonder liefde as:”‘n galmende ghong of ‘n weerklinkende simbaal” (BDV).

Steeds by woorde: as iemand sou dink dat hy ‘n baie besondere mens is wat hoog geag behoort te word omdat hy profetiese woorde bring, maar hy is liefdeloos, dan “is hy niks!” (1 Korinthiërs 13:2). Let op dat dit nie die woorde is wat niks is of niks beteken nie, maar die spreker. Gelowiges het daarom ‘n groot verantwoordelikheid om met God se liefde deurweek te wees as hulle inspraak in ander se lewens wil gee, anders “is hulle niks!”

Om geheime te ontrafel en te verstaan, om ‘n menslike ensiklopedie vol kennis te wees en om soveel geloof te hê dat jy berge van een plek na ‘n ander kan verskuif, het net waarde as die besitter daarvan ook liefde ken en verstaan en dit met ander deel. Daarsonder beteken al die ander dinge niks en kan die persoon gerus maar aan homself erken: “Ek is niks!”

Om besittings weg te gee, of om tot die ekstreme oor te gaan om iemand anders te bevoordeel, lei gewoonlik daartoe dat die ontvanger uit dankbaarheid sy weldoener vereer. Goedbedoeld, maar die weldoener moet homself altyd ondersoek en afvra of die goeie dade werklik aangevuur is deur liefde vir ander. Indien nie, moet hy weet: “baat dit my niks.”

Die skrywer raak in hierdie Skrifgedeelte elke faset van die mens se bestaan aan: sy mond (tale), sy intellek (kennis, geheime), gees (geloof, profeteer), liggaam en besittings. Hiermee verklaar hy onomwonde: elke faset van die mens se lewe vorm die geheel, en geen deel kan effektief funksioneer sonder die liefde van God in sy lewe nie.

 Waarom soveel klem op liefde? Ons Skepper is liefde, elke greintjie van sy wese is liefde, en alles wat vir hulle bestaan van Hom afhanklik is, word onderhou deur sy liefde. Hoe kan mense wat na sy beeld geskep is, hoegenaamd daarsonder sy gawes (probeer) beoefen?! Liefde is die kragstroom wat lewe aktiveer en ek en jy is die geleiers daarvan.

Bible Society of South Africav.4.18.12
VOLG ONS