Bible Society of South Africa

Hoe om te leef – Dag 8

Een ding kom kort.

Bybelteks(te)

21Jesus het na hom gekyk en hom liefgekry en vir hom gesê: “Net een ding kom jy kort. Gaan verkoop alles wat jy het, en gee die geld vir armes, en jy sal 'n skat in die hemel hê. Kom dan terug en volg My!”

MARKUS 10:21AFR83Maak oop in die Bybelleser

Baie min mense op hierdie aarde koester nie heimlik ‘n begeerte om eendag bekend of beroemd te wees nie. Miskien het dit te doen met sy soeke na erkenning, of om iets na te laat wat sal verseker dat hy nie vergeet word nie. Hoe dit ookal sy, meeste mense is op soek na daardie één ding wat sukses en geluk in hierdie lewe beloof.

Daar was ‘n man wat alles in sy guns gehad het om homself te verewig. Hy was ‘n goeie, wetsgehoorsame burger, hy het die godsdienstige wette nagekom, hy het sy ouers geëer en hy was ryk, waarskynlik omdat hy ‘n suksesvolle sakeman was. Ten spyte van dié getuigskrif oor homself, het hy tog gevoel iets kom kort – die sekerheid van die ewige lewe. Toe hy Jesus hieroor vra, kom die bevestiging van wat hy reeds weet: “Een ding kom jy kort …” en toe volg die teleurstel- ende en ontnugterende antwoord: “…gaan verkoop alles wat jy het en gee dit vir die armes, en jy sal ‘n skat in die hemel hê. En jy, kom hier en volg my” (Markus 10:21 Direkte Vertaling).

 Jy sien, sy persepsie van wat nodig is om vir homself ‘n belangrike, ewige plekkie te verseker, was geskoei op sy eie prestasies en vermoëns. Dit was goeie werke wat ‘n beloning verdien. En toe kom Jesus en krap sy wêreld om – goeie werke is meer as die nougesette nakom van etiese en morele reëls. Dit loop hand aan hand met verhoudinge waar jy jouself en jou goed weggee, nie omdat jy hoop om iets in ruil daarvoor terug te ontvang nie, maar omdat jy liefhet.

Verknogtheid aan aardse besittings, ‘n stokperdjie, ‘n beroep, aansien in die samelewing, harde werk of enige soortgelyke verganklike waarde, kan geen hoop of verwagting op die ewige lewe bied nie, want die hart van God se wese – liefde – kan nie weerklank daarin vind nie. Jesus probeer dié waarheid by die ryk, goeie en wetsgehoorsame man tuisbring as hy twee verhoudinge in sy antwoord betrek. Eerstens, verkoop jou baie goed wat so belangrik is vir jou en gee die geld aan die armes. Dit word die man se grootste toets vir liefde vir sy medemens, een waarin hy jammerlik faal. Tweedens, gee jou posisie prys, gee jouself weg – aan my, Jesus – en word my volgeling. Sy misplaaste liefde verhoed hom egter. Wat ‘n tragedie!

By ons Vader is niks wat ons op aarde kan vermag, groter, belangriker of meer in aansien as die één opdrag waarmee Hy ons toevertrou nie, naamlik om Hom bo alles lief te hê én om mense lief te hê soos wat ons onsself liefhet nie. Liefde wat gee en dien, is die antwoord op grootheid.

Bible Society of South Africav.4.18.12
VOLG ONS