Bible Society of South Africa

Hoe om te leef – Dag 10

‘n Gebed.

Bybelteks(te)

16Bely julle sondes eerlik teenoor mekaar en bid vir mekaar, sodat julle gesond kan word.

Die gebed van 'n gelowige het 'n kragtige uitwerking.

JAKOBUS 5:16AFR83Maak oop in die Bybelleser

Ons bid vir julle

9Daarom, van die dag af dat ons van julle gehoor het, hou ons ook nie op om vir julle te bid nie. Ons vra God dat Hy deur al die wysheid en insig wat die Gees gee, julle sy wil duidelik sal laat ken, 10sodat julle tot eer van die Here sal lewe deur net te doen wat Hy verlang. Mag julle vrugte dra deur goeie werke en toeneem in die kennis van God. 11Mag God deur sy wonderbare krag julle alle sterkte gee om in alle omstandighede geduldig te volhard.

KOLOSSENSE 1:9-11AFR83Maak oop in die Bybelleser

16Wat ek bedoel, is dít: Laat julle lewe steeds deur die Gees van God beheers word, dan sal julle nooit swig voor begeertes van julle sondige natuur nie.

GALASIËRS 5:16AFR83Maak oop in die Bybelleser

Die liefde

1Nou wys ek julle wat nog die allerbeste is:

Al praat ek die tale van mense en engele,

maar ek het geen liefde nie, het ek 'n stuk klinkende metaal, 'n galmende simbaal geword.

2Al het ek die gawe van profesie

en ken ek al die geheimenisse

en besit ek al die kennis,

en al het ek al die geloof om berge te versit,

maar ek het geen liefde nie, dan is ek niks.

3Al deel ek al wat ek het aan ander uit,

en al gee ek my liggaam prys om my daarop te kan beroem,

maar ek het geen liefde nie, baat dit my niks.

4Die liefde is geduldig,

die liefde is vriendelik; dit is nie afgunstig nie, is nie grootpraterig nie, is nie verwaand nie.

5Dit handel nie onwelvoeglik nie,

soek nie sy eie belang nie,

is nie liggeraak nie, hou nie boek van die kwaad nie.

6Dit verbly hom nie oor onreg nie,

maar verheug hom oor die waarheid.

7Dit bedek alles,

glo alles,

hoop alles,

verdra alles.

8Die liefde vergaan nooit nie,

maar die gawe

van profesie sal verdwyn,

die gawe

om ongewone tale en klanke te gebruik, sal ophou,

en dié van kennis sal uitgedien raak.

9Want ons ken maar gedeeltelik,

en ons profeteer maar gedeeltelik,

10maar wanneer die volledige kom,

sal wat gedeeltelik is, uitgedien wees.

11Toe ek 'n kind was,

het ek gepraat soos 'n kind, gedink soos 'n kind, geredeneer soos 'n kind.

Maar noudat ek 'n man is,

is ek klaar met die dinge van 'n kind.

12Nou kyk ons nog

in 'n dowwe spieël en sien 'n raaiselagtige beeld,

maar eendag sal ons alles sien soos dit werklik is.

Nou ken ek net gedeeltelik,

maar eendag sal ek ten volle ken soos God my ten volle ken.

13En nou:

geloof, hoop en liefde bly, hierdie drie.

En die grootste hiervan is

die liefde!

1 KORINTIËRS 13AFR83Maak oop in die Bybelleser

8Wie nie liefhet nie, het geen kennis van God nie, want God is liefde.

1 JOHANNES 4:8AFR83Maak oop in die Bybelleser

12Niemand het God nog ooit gesien nie, maar as ons mekaar liefhet, bly God in ons en het sy liefde in ons sy doel volkome bereik.

1 JOHANNES 4:12AFR83Maak oop in die Bybelleser

5en dié hoop beskaam nie, want God het sy liefde in ons harte uitgestort deur die Heilige Gees wat Hy aan ons gegee het.

9Ook bid ek dat julle liefde al hoe meer sal toeneem in begrip en fyn aanvoeling, 10sodat julle die dinge sal kan onderskei waarop dit werklik aankom. Dan sal julle op die dag wanneer Christus kom, onberispelik en sonder blaam wees,

FILIPPENSE 1:9-10AFR83Maak oop in die Bybelleser

Gebed is die tou van hoop wat ‘n nietige mens in kontak hou met die groot God. Met daardie verbindingstou bid ons in, en mét hoop vir onsself, vir geliefdes, medegelowiges en ongelowiges. Gebed is egter meer as net die noodroep om behoeftes vervul te kry, dit is ook die hooptou wat krag genereer sodat ek deur die Heilige Gees al hoe meer kan leef soos God verlang. Gebed is daarom ‘n tweerigting-gesprek tussen God en mens waar ek daagliks ook met ‘n toe mond en oop ore, afwagtend sal wees dat wanneer ek die Woord lees, die Heilige Gees God se wil vir my daarin sal openbaar.

 Hoor wat sê die Woord reeds vir ons oor God se wil. As gelowiges en beelddraers van God in die wêreld, moet ons tot eer van die Here leef deur net te doen wat Hy verlang. Ons kan weet wat Hy verlang deur te bid en te vra dat ons “vervul mag word met die volle kennis van God se wil deur al die wysheid en insig wat die Gees gee” (Kolossense 1:9 Direkte Vertaling). Dit beteken dat ons deur die Gees sal leef (Galasiërs 5:16) en Hom toelaat om ons te lei. Kennis van sy wil moet egter hand aan hand loop met die groei in kennis van God (Kolossense 1:10) – die ontdekking van sy hart, sy onvergelykbare grootheid.

So ‘n lewe bied uitdagings aan elke gelowige. Dit vra ‘n God-gefokusde lewe en volharding. Moeilik? Nie as ons vra dat God deur sy “wonderbare krag (ons) alle sterkte gee om in alle omstandighede geduldig te volhard” (Kolossense 1:11) nie.

 Jesus se prediking en lering oor die Christusgelowige se leefwyse, sentreer om liefde. Daarsonder is ons niks (1 Korintiërs 13), ken ons God nie (1 Johannes 4:8) en bly God nie in ons nie (1 Johannes 4:12). Elke gelowige kan egter seker wees dat die liefde van God in sy hart uitgestort is deur die Heilige Gees wat aan Hom gegee is (Romeine 5:5). Ons dra egter die verantwoordelikheid om daardie “saad” van liefde te bewerk, en een manier waarop ons dit kan doen, is om te bid dat ons liefde meer en meer sal toeneem in begrip en fyn aanvoeling sodat ons in staat kan wees om die dinge wat saak maak, te onderskei (Filippense 1:9). Waarom is die onderskeiding nodig? Sodat ons op die dag wanneer Christus kom, onberispelik en sonder blaam kan wees (Filippense 1:10).

Gebed het groot krag en beskik oor die vermoë om ons lewens, ons omstandighede en uitkyk op die lewe te verander, want God is die Hoorder van elke gebed. In die woorde van RA Torrey: “Gebed is die sleutel wat die skatkamers van God se oneindige genade en krag ontsluit. Alles wat God is en alles wat God het, is tot beskikking van gebed.”

Bible Society of South Africav.4.18.12
VOLG ONS