Bible Society of South Africa

Hoe om te leef – Dag 7

Ondersoek jou hart by die nagmaal.

Bybelteks(te)

28Maar elkeen moet eers homself ondersoek voor hy van die brood eet en uit die beker drink,

1 KORINTIËRS 11:28AFR83Maak oop in die Bybelleser

23Wees veral versigtig met wat in jou hart omgaan,

want dit bepaal jou hele lewe.

SPREUKE 4:23AFR83Maak oop in die Bybelleser

9Die hart is bedriegliker as enigiets anders,

hy is ongeneeslik; wie kan hom verstaan?

JEREMIA 17:9AFR83Maak oop in die Bybelleser

7In die weelde van hulle voorspoed

matig hulle hulle enigiets aan;

Die hart van die mens is die wese van sy bestaan – wat hy is, hoe hy dink, wat hy praat, het alles oorsprong in sy hart. Geen wonder nie dat die Spreukeskrywer sê: “Bewaak jou hart meer as alles wat bewaak moet word, want daaruit is die oorspronge van die lewe.”(Spreuke 4:23)

 As Paulus dus ‘n ernstige gesprek met die Korinthiërs voer oor die gebruik van die Nagmaal, is dit nie vreemd dat sy eerste punt van verwysing na die toestand van hulle harte is nie. Hy weet dat die hart verdorwe en bedrieglik is bo alle dinge (Jeremia 17:9) en dat “verwaande mense oortree met die versinsels van hulle harte” (Psalm 73:7, Direkte Vertaling).

 Om te verhoed dat hulle op onwaardige wyse van die brood eet of uit die beker van die Here drink, versoek hy sy lesers om eers hulle eie harte deeglik te ondersoek, anders kan hulle dalk sondig teen die liggaam en bloed van die Here.

Waarvoor moet ons op die uitkyk wees as ons die soeklig in ons harte skyn? Eerstens, maak seker dat jy nadink en baie goed verstaan wat die brood en die wyn werklik beteken. Die brood herinner aan Christus se offerliggaam en die wyn aan sy gestorte bloed aan die kruis sodat ons verhouding met God herstel kon word. Die vraag wat jy jouself dus moet afvra is: Het ek al sy geskenk van ‘n herstelde verhouding en ‘n splinternuwe lewe aanvaar?

Tweedens, getuig my leefwyse van hierdie herstelde verhouding en lewe met God? Voor jy bevestigend antwoord, lees eers hier: Het jy God met alles in jou lief – met jou hele hart, siel, krag en verstand … en jou naaste soos jouself? Dit is immers die gebod wat alle ander omvat!

Dit is gewoonlik by die laaste gedeelte van die gebod waar ons weifel – ons het mense nie lief soos ons onsself het nie. Ons sukkel om mense te vergewe, om hulle belange bo ons eie te stel, om strydbyle en verskille te begrawe en om ons leeg te tap van die eie-ek. Sonder die gewilligheid om selfondersoek te doen en die Woord en die Heilige Gees toe te laat om lig te laat skyn op dié dinge wat nie tuishoort in ons lewens nie, loop ons gevaar om op onwaardige wyse Nagmaal te gebruik – met hartseer gevolge. Die oplossing? Ondersoek jou hart en raak ontslae van die ongewensde elemente!

Bible Society of South Africav.4.18.12
VOLG ONS