Bible Society of South Africa

Hoe om te leef – Dag 6

Beproef wat sy wil is.

Bybelteks(te)

10Vra julle voortdurend af of iets vir die Here aanneemlik is,

EFESIËRS 5:10AFR83Maak oop in die Bybelleser

Die nuwe lewe in Christus

1En nou doen ek 'n beroep op julle, broers, op grond van die groot ontferming van God: Gee julleself aan God as lewende en heilige offers wat vir Hom aanneemlik is. Dit is die wesenlike van die godsdiens wat julle moet beoefen. 2Julle moenie aan hierdie sondige wêreld gelyk word nie, maar laat God julle verander deur julle denke te vernuwe. Dan sal julle ook kan onderskei wat die wil van God is, wat vir Hom goed en aanneemlik en volmaak is.

ROMEINE 12:1-2AFR83Maak oop in die Bybelleser

21Daarom moet julle al die sedelike vuilheid en ongeregtigheid opruim wat so welig tier, en ootmoedig die woord aanneem wat God in julle geplant het, want dié woord kan julle red.

JAKOBUS 1:21AFR83Maak oop in die Bybelleser

In die literatuur, kunste, die mens se leefwêreld en selfs die natuur, word lig en duisternis meestal as teenoorgesteldes uitgebeeld. Kan jy jou indink om jou lewe lank in ‘n ondergrondse kerker opgesluit te wees en nooit lig te sien nie? Aaklig! Neerdrukkend! ‘n Doodsvonnis wat jou lewe lank neem om voltrek te word! Nie God se wil vir enige mens nie! Hy wil dat die luik oopgemaak word sodat die lig die donkerte laat versplinter tot niks.

Dit is geen wonder nie dat ons regdeur die Bybel aangepraat word oor wat die impak van die Lig, Jesus Christus, op ons lewens behoort te hê. As Christus-gelowige is jy ‘n mens van die lig en dit vra dat jou leefstyl moet bevestig wat jy oor jou geloof bely. Dit moet nuut, anders, sonder elemente van die nag geleef word. DÍt is die wil van God vir elke gelowige se lewe.

Om te weet wat die dinge in ons lewens is wat deur lig versplinter moet word, moet ons: “beproef wat die Here welbehaaglik is” (Efesiërs 5:10;1933/1953-vertaling), of anders gestel: “Vra julle voortdurend af of iets vir die Here aanneemlik is” (1983-vertaling). Om dit te ontdek, beteken selfondersoek, ‘n eerlike inskyn van die waarheid in ons harte om die donker kolle te verlig en dan die gewilligheid om, ongeag hoe ongemaklik dit vir ons is, die donker dinge deur lig te laat versmelt, want God se wil vir jou en my lewe is om te leef in die lig.

Paulus help ons in Romeine 12:1-2 om te ontdek wat sy wil is as Hy ‘n ernstige beroep op ons doen: Gee jouself weg aan God. Offer jou liggaam aan Hom. Wat eintlik bedoel word, is dat jou self, jou eie-ek moet doodgaan. Dit is ‘n moeilike dood, maar nie ‘n hooplose een nie, want in sy hande word jy lewend, heilig en aanvaarbaar vir Hom, maar terselfdertyd ook diensbaar aan ander.

Moenie dink en leef soos die wêreld nie, moenie in die gees van jou denke wees soos hulle nie.

Dink nuut, anders, en buite jou ommuurde kassie wat jou gedagtes in ‘n tronk vasvang. Hiervoor het jy hulp nodig – laat toe dat die die Woord in jou hart vastrapplek kry en laat dié jou gedagtes vernuwe (Jakobus 1:21).

En die resultaat? Lig wat jou help om te onderskei wat die wil van God is – daardie dinge wat goed, aanneemlik en volmaak is.

Bible Society of South Africav.4.18.12
VOLG ONS