Bible Society of South Africa

Hoe om te leef – Dag 3

Lippe wat waarheid praat.

Bybelteks(te)

24Weerhou jou van leuens,

moenie mense mislei nie.

SPREUKE 4:24AFR83Maak oop in die Bybelleser

3Die mense bedrieg mekaar;

hulle mislei mekaar met vleitaal.

4Die Here sal al die vleitaal uitroei

en die grootpratery van die mense

PSALMS 12:3-4AFR83Maak oop in die Bybelleser

36Maar hulle was vals teenoor Hom,

hulle was nie opreg in wat hulle gesê het nie,

37hulle was ontrou aan Hom,

hulle het hulle nie aan sy verbond gehou nie.

PSALMS 78:36-37AFR83Maak oop in die Bybelleser

Riglyne vir die nuwe lewe

25Noudat julle die valsheid afgelê het, moet julle onder mekaar die waarheid praat, want ons is lede van dieselfde liggaam.

EFESIËRS 4:25AFR83Maak oop in die Bybelleser

11'n Fontein laat tog nie uit dieselfde oog vars en brak water opborrel nie.

JAKOBUS 3:11AFR83Maak oop in die Bybelleser

6Wat julle sê, moet altyd vriendelik wees en van goeie smaak getuig; en julle moet weet hoe julle elkeen behoort te antwoord.

KOLOSSENSE 4:6AFR83Maak oop in die Bybelleser

7Daar is niks vals in wat die Here sê nie.

Sy woorde is soos silwer

wat oor en oor in 'n oond gesuiwer is.

Maklike praters ryg woorde uit soos ‘n bol wol wat afgerol word. Hulle kry dit reg om met spitsvondigheid en stories, mense tot ounag aan’t huil te kry van baie lag. Jagters se vergesogte grootpraatstories oor drie-bokke-met-een-skoot wondwerke, of Rubber, die basterbrak, wat sommer so in die lug 180 grade omdraai toe hy leeu gewaar, word soos soetkoek opgeëet vir die waarheid.

Dié soort stories het sy plek om die kampvuur, maar in ons daaglikse omgang met mense geld ander beginsels. So ernstig voel Dawid oor leuens, vleitaal, dubbelhartigheid en grootpratery dat hy ‘n wens uitspreek dat God die vleiende lippe, die tong wat grootpraat, die wat roem op die sterkte van hulle tong en hulle vertroue daarin stel, sal uitroei (Psalm 12:3-5).

 Die Vine’s Woordeboek verduidelik dat die inhoud van sulke gesprekke pervers is – die waarheid is verdraaid, bedorwe en verwronge en is verander na iets met ‘n teenoorgestelde karakter.

God word ook nie ontsien in die stortvloed van woorde sonder opregte bedoelings nie. Asaf sê van Israel: “En hulle het Hom met hulle mond gevlei en Hom met hul tong belieg; maar hulle hart het nie aan Hom vasgehou nie … ” (Psalm 78:36-37). Geen wonder dat ‘n vader aan sy seun die volgende raad gee nie: “Verwyder van jou die valsheid van mond, en hou ver van jou af die verkeerdheid van lippe.” (Spreuke 4:24)

Daar is een woord wat die aard van die woorde wat by ons mond moet uitkom, beskryf: Waarheid (Efesiërs 4:25). En watter beeldassosiasies kan dit beter beskryf as ‘n fontein wat vars water laat opborrel (Jakobus 3:11) of woorde wat met sout besprinkel is (Kolossense 4:6)? Skoon, soet water les jou dors en varsgemaalde sout gee smaak aan jou kos.

Ons sal onsself ‘n guns bewys as ons, voordat ons tong woorde by ons mond uitstoot, onsself herinner aan die aard van ons Vader se woorde: “Die woorde van die Here is rein woorde, silwer wat gelouter is in ‘n smeltkroes in die aarde, gesuiwer sewe maal” (Psalm 12:7).

Jy bevind jou dalk in ‘n situasie waar jy die slagoffer van verdraaide waarhede is of sommer net ly as gevolg van blatante leuens en vals stories wat oor jou versprei word. Moenie in die strik trap om met jou tong ‘n teenaanval te loods nie. Laat toe dat die Een wie se woorde gelouter en rein is, jou regsaak vir jou stry.

As jy dalk die persoon is wat iemand anders se integriteit skade aandoen met los en vas praatjies, het dit dalk tyd geword dat jy dié gebed bid: “Vader, help my om valsheid en verkeerdheid van my mond en lippe weg te jaag. Ek wil waarheid oor my tong laat heers.”

Bible Society of South Africav.4.18.12
VOLG ONS